Jessica ‘nie kwaad’ oor blaps op TV

Yandi Du Plessis
Die plaaslike televisienuusleser Jessica Kaimu wat ná ’n blaps op ’n nuusprogram ’n oornag-internetsensasie geword het, sê sy was glad nie omgekrap toe dit uitgesaai is nie.

Die video het nou ’n status bereik soortgelyk aan dié van “Hugo, bel die polisie”, “My f**, Marelize” en “Hier’s ’n vet f*****”.

In dié video wat wyd en syd op sosiale media gedeel word, kan gesien word hoe die nuusleser Elmarie Kapunda op die nasionale uitsaaier, die NBC, haar kollega Kaimu voorstel wat ’n sport-insetsel moet aanbied.

Kapunda praat oor ’n boksgeveg en sê: “Vir meer hieroor, Jessica. Goeie middag, Jessica,” waarna sy vir ’n oomblik nie antwoord kry nie. In ’n poging om haar kollega aan die praat te kry begin Kapunda ’n vraag stel. Dan onderbreek Kaimu haar.

“Nee, ons gaan dit nie so doen nie. Jy gaan my groet, dan gaan jy sê: Take it away. Jy gaan dit nie so doen nie,” sê sy en skud haar kop.

Dan uiter Kapunda die sin wat nou opslae maak op sosiale media: “Jessica, ons is op die lug.”

’n Lang ongemaklike stilte heers dan in die ateljee terwyl die twee vir mekaar kyk, en dan na die kameras kyk. Kapunda het die uitsending onseker afgesluit met die woorde: “Mooi aand en goeienag. En, uhm, kyk mooi na jou familie.”

Die video is derduisende kere op sosiale media gedeel en die twee nuuslesers het besluit om enige vrae daaroor in ’n regstreekse gesprek op Instagram op te klaar.

“Nee, ek was nie die m*** in nie,” het Kaimu in die regstreekse uitsending gesê.

Kapunda het gesê daar is geen kwade gevoelens tussen hulle nie, maar hulle word nou deur boodskappe op sosiale media oorval.

Grappe oor die misverstand is volop op die internet en selfs nuuslesers van die SAUK het die oomblik nageboots in ’n onlangse uitsending.

T-hemde met die woorde “Jessica, we are live” word nou selfs verkoop. Die hutswoord #jessicawearelive was Donderdag een van die mees gebruikte hutswoorde op Twitter in Suid-Afrika.

Kapunda sê sy het Kaimu die vraag in die uitsending gevra om met haar ’n “konneksie te bou” aangesien dit die eerste keer was dat hulle op die lug saamgewerk het.

Sy sê: “Op daardie oomblik kon ek amper nie glo dis werklik nie. Het dit regtig nou net gebeur? het ek gewonder.”

Kapunda het ook volgehou dat sy nie ná die voorval afgedank is nie.

“Ek is baie bly dat dit so ’n bietjie die aandag op Namibië vestig, en dat Namibiërs mekaar ondersteun en dit rondstuur,” het Kapunda gesê. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!