'Jesus se hande en voete'

Binne twee weke het die gemeenskap van die gewilde aftreedorp ingespring om ‘n weldoener se vakansiehuis in ‘n plek vir minder ernstige Covid-pasiënte te omskep.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – “Ons is Jesus se hande en voete. Ons dink nog net aan iets wat ons nodig het, dan mobiliseer die Here dit.”

So sê me. Jeanette Lubbe van Hentiesbaai waar daar binne weke ‘n ten volle toegeruste huis geopen is vir Covid-19-pasiënte wat nie in ‘n hospitaal gemonitor hoef te word nie.

Die huis van hoop het met ’n plasing op Facebook begin waar vir ‘n bed gevra word vir ‘n pasiënt en die eienaar van ‘n vakansiehuis op die dorp laat weet sy huis is beskikbaar. Op 1 Julie staan ‘n kosspan reg en op 2 Julie ontvang die huis vir mnr. Henry Valentyn wat ‘n maand in SpesCare op Swakopmund deurgebring het. Gister kon Henry nege meter van sy bed stap om in die son te gaan sit en vanaf vandag sal hy sy eie oksimeter onder toesig kan monitor, die eerste keer in ses weke, vertel Lubbe.

Die uitreik en omgee van die gewilde aftreedorp was groot vir Huis JHV (Jesus se hande en voete), met beddens wat van die NG gemeente op die dorp tot die Lions-klub tot ‘n “tannie in Windhoek” ontvang is. Tans is daar tien beddens, maar sewe word gebruik omdat die ruimte nie eersgenoemde toelaat nie, sê sy.

Die drie slaapkamers is vir gebruik deur ‘n paramedikus en verpleegpersoneel. Een van die personeel is me. Ursull Moroff van Windhoek, ‘n afgetrede verpleegster.

“Sy het op 30 Junie Swakopmund ingery en ‘n oproep ontvang dat sy in Hentiesbaai nodig is. Sy het onmiddellik deurgery en toe sy hier kom, was daar reeds vir haar ‘n woonstel gereed.”

Drie skoonmakers is binne drie dae as versorgers opgelei en nog ‘n afgetrede stafverpleegster uit Walvisbaai is ook deel van Huis JHV, nadat “haar hart vir haar gesê sy wil hier kom help”.

Sy is verantwoordelik vir nagdiens en help ook met rekordhouding.

Lubbe self is ‘n verpleegster, al is sy nie geregistreer nie.

“Ek het toe Covid ons hard begin tref, besef ons moet Jesus se hande en voete wees. Ek het geweet wanneer ons beurt kom, sal ek daar wees.”

Sy is ook ‘n traumafasiliteerder van die Bybelgenootskap in Namibië se Trauma Healing Network, iets wat haar nou baie help.

“Ons gebruik ook die beginsel om mense te bedien.”

Nog ‘n Hentiesbaaier staan aan die stuur van ‘n gebedsgroep aan wie elke pasiënt se naam versprei word en vir wie daar elke aand spesiaal gebid word. Die pasiënt word ook elke dag gebel en bemoedig.

Tot op hede is “11 persone deur ons hande” en tans is daar vier pasiënte. Vyf is oorgeplaas na die Covid-saal by die Cottage Private Hospitaal op Swakopmund en twee is weer tuis op Hentiesbaai.

“Een het in nege dae so gevorder dat hy met sy eie suurstofkonsentreerder huis toe kon gaan.”

Dr. Gavin Claassen besoek die pasiënte een maal per dag en bestuur hulle behandeling, terwyl ‘n paramedikus van Lifelink twee konsentreerders bestuur en ook mense by hul huise evalueer.

Die Here hoor ons,” sê sy en haal aan uit Lied 505 wat onder meer lui: “Jesus, U gaan voor, ons volg U spoor, U sien als, U is in beheer.”

“Dit is absoluut nou ons leuse.”

Mense het soveel vrae oor hoe hulle kan betrokke raak en help. My antwoord is gebed, dit is nou die belangrikste, sê me. Dalene Aggenbach, sakevrou van Hentiesbaai wat baie nou by uitreikprojekte op die dorp betrokke is.

Intussen het me. Reinette Koegelenberg, voorsitter van die sorgeenheid vir bejaardes op die dorp, op haar beurt die veldtog, Klokkie vir ‘n verswakte bejaarde, begin. Hentiesbaai het tans vier eenhede waar bejaardes woon en versorg word; in totaal tans 41. Een is die Lions-gebou wat plaaslik vir hulle bedryf en bestuur word en waar bejaardes woon wat redelik selfversorgend is. Elke bejaarde het sy eie kamer en word van drie etes per dag voorsien. 'n Suster verseker medikasie word reg geneem. In twee huise word onderskeidelik dames en mans met demensie versorg. Verswakte bejaardes word in 'n dubbelverdiepinggebou versorg.

Die klokkiestelsel wat die twee vloere verbind, is egter 15 jaar oud en “vodde”.

“Dis so belangrik om hulle te hoor. Reageer ons nie vinnig genoeg nie, kan hulle self probeer opstaan en dis baie gevaarlik vir ‘n oumens.”

Geld is van oraloor die land vir die veldtog geskenk, soveel so dat dit vandag op N$45 000 staan. Met die ekstra fondse wil die komitee nou graag ‘n spoelkamer op die eerste vloer inrig waar veral bedpanne gewas kan word en dit nie nodig is om hiervoor na die grondvloer te beweeg nie.

Koegelenberg erken die gewilde aftree- en vakansiedorp het “verskriklik Covid-gevalle”, maar dat nog niemand onder die sentrum se personeel of inwoners positief getoets het nie.

Die rekeningbesonderhede as mense nie net Hentiesbaai, maar ook die res van die kusdorpe in die Erongostreek wil ondersteun, is Ciske’s Covid Task Force, Bank Windhoek Swakopmund (Tjek), reknr. 8022245595 en met die verwysing waar die geld gebruik moet word.
[email protected]


FOTO
Lifelink se Nicky Schreuder, Hannes Fourie (pasiënt) en Jeanette Lubbe. FOTO VERSKAF

Almal sit gratis hand by met vervoer van van bloed tot suurstof. FOTO VERSKAF

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!