Jettie Myl se 10de jaar lyk vol belofte

Swem
Andrew Poolman
Die Pupkewitz Jettie Myl swembyeenkoms word komende Dinsdag gehou met Tiger Reef as die beginpunt om 15:30 vir die hoofitem.

Swemmers sal dan hul pad rondom die Jettie vind en sal by die Mole klaarmaak. Die afstand is sowat een seemyl (1.85 km). Die swemmers sal die voordeel hê dat hulle saam met die seestroom swem.

Die organiseerders van die byeenkoms, OTB Sport, sê in 'n nuusverklaring: “Selfs as toestande in die oseaan besonder onstuimig is, bly dit uiters onwaarskynlik dat die byeenkoms gekanselleer kan word.

“Deelnemers (insluitend minderjariges in konsultasie met hul ouers) moet vir hulself beoordeel of hulle in staat is om die seetoestande vir die dag te hanteer. Swemmers sal op hulself aangewese moet wees omdat seeredding baie beperk is. Hoe meer onstuimig die see is, moet moeiliker is dit ook om 'n seereddingspoging uit te voer.”

Die Sprint-afstand (600 meter) word in die meer beskermde waters van die Mole aangebied (16:30 wegspring) en om 17:00 begin die kinders se pretitem. Kinders moet deur ouers of ander bekwame swemmers vergesel wees en kan uitrusting of hulpmiddels gebruik om hulle te help dryf.

OTB Sport sê tot dusver is sowat 180 inskrywings reeds ontvang en die verwagting is dat die finale getalle naby aan 250 kan draai. Baie hang egter van die seetoestande op die dag af.

Die sterk gunsteling in die Jettie Myl is sonder twyfel Phillip Seidler, die plaaslike Swakopmunder wat die byeenkoms reeds drie keer gewen het.

Seidler sê: “Ek sien uit na die jaarlikse Jettie Myl. Dit is altyd een van die hoogtepunte waarmee ek 'n jaar afsluit.

“As liefhebber van branderplankry en langer swemafstande is die oseaan my speelplek. Elke jaar is dit 'n groot uitdaging om by die getye, die winde en watertemperatuur aan te pas.

“Vanjaar het ek begin om in oopwater swembyeenkomste oor vyf kilometer in Suid-Afrika te gaan meeding. Ek was baie tevrede met my uitslae en my vertonings. Ek het my passie in oopwaterswem en langer afstande gevind en is gereed om prestasies op die volgende vlak na te jaag.

“In die Jettie Myl sien ek uit om deel te neem en die titel te verdedig wat ek reeds drie keer gewen het. My leuse is dat die beste swemmer een is wat die grootste genot daaruit put.”

Seidler het ook die borge OTB en Pupkewitz geprys vir hul rol om so 'n groot en unieke byeenkoms aan te bied.

In die vrouekompetisie word verwag dat Toni Roth of Molina Smalley in die eerste plek kan eindig.

Altesame N$34 000 se pryse kan gewen word. Die mans- en vrouekampioen van die Jettie Myl-afstand verdien elkeen N$1 200.

OTB Sport bedank die Pupkewitz Stigting vir sy ruimhartige borgskappe van die laaste tien jaar.

Alle inskrywings en inligting oor die resies is aanlyn by www.otbsport.com beskikbaar. Die aanlyn inskrywings sluit op Kersdag komende Sondag.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!