Jeugdiens-wagte platsak
Die nasionale jeugdiens sê die 500 geraakte wagte sal hopelik môre betaal word.
Augetto Graig - Sowat 500 sekuriteitswagte wat in diens is van die Youth Security Services (YSS) is in die duister nadat hulle nie hul salarisse soos verwag op 10 Desember ontvang het nie.
Dié sekuriteitsmaatskappy is deur Namibië se Nasionale Jeugdiens op die been gebring.
Dit is nou die derde keer vanjaar dat die wagte laat betaal word. Die eerste keer was in die middel van die Covid-19-inperkings in Julie, en weer in November toe hul salarisse drie dae te laat inbetaal is.
Een van die wagte sê hulle patroleer persele vir die ministerie van finansies, die ministerie van sport, jeug en nasionale diens en TransNamib landswyd.
Sy sê sy het navrae gedoen en is ingelig dié groot kliënte het nie vir YSS betaal nie, dus is daar nie fondse beskikbaar om die sekuriteitswagte te betaal nie. Sy sê met die Kersseisoen om die draai, is sy en haar kollegas baie bekommerd.
Die jeugdiens se woordvoerder, me. Esther Hoveka, het dit bevestig.
Volgens haar werk die jeugdiens aan die kwessie en hopelik sal die wagte môre betaal word.
Sy sê die probleem het weens die regering se wanbetaling van fakture ontstaan, maar sy verseker die wagte “hulle sal hierdie maand betaal word”.
Volgens haar is die jeugdiens in gesprek met verteenwoordigers van die wagte en hul vakbond om die kwessie uit te stryk.
Die sekretaris-generaal van die Namibiese Vakbond vir Vervoer- en Verwante Werkers (Natau), mnr. John Kwedhi, sê egter hy weet van geen amptelike kennisgewing in die verband nie.
Volgens hom verteenwoordig Natau die meerderheid van die jeugdiens se sekuriteitswagte en hulle sou hul lede oor die verwikkeling ingelig het.
Die jeugminister, me. Agnes Tjongarero, sê: “Ek het met die uitvoerende direkteur (dr. Audrin Mathe) gepraat en hy sê hulle werk saam met die finansministerie om te sien wat gedoen kan word en waar die geld vandaan sal kom om die wagte te betaal. Hulle werk daaraan, maar kan geen beloftes maak dat dit vandag of môre sal gebeur nie,” het sy gewaarsku.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie