Jeugspele bied talle uitdagings

Die tweede nasionale Jeugspele het meer as net ’n avontuur aan die kinders gebied.
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Die 2020 MTC Nasionale Namibië Jeugspele het wel vandeesweek by Rietfontein in die Noorde afgeskop, maar ’n geskatte 300 atlete moes vir meer as een nag sonder ’n matras op die vloer slaap.

Dié byeenkoms wat deur die Namibiese Sportkommissie (NSK) aangebied en gereël is, is veronderstel om ’n ondervinding en avontuur soos min vir ongeveer 1 500 kinders te wees. Maar na dese sal meer as een kind ’n frank smaak in die mond hê.

Ondanks die nuwe Covid-19-inperkings wat pres. Hage Geingob Woensdagoggend aangekondig het, het die Spele voortgegaan. Die koerant het Woensdag navrae aan mnr. Chalo Chainda van die Sportkommissie gerig om uit te vind wat die status van die byeenkoms is.

Chainda het gesê: “Youth Games are on we got special exemption,” (sic) is al wat hy geantwoord het.

Chainda kon nie vir verdere kommentaar bereik word nie.

Die NSK het die skuld voor die streke se deur gelê en gesê sommige van hulle het meer beamptes en atlete gebring as waarvoor die NSK begroot het. Die NSK beweer ook die streke het laat vir die Spele opgedaag en dit is glo die oorsaak dat daar nie genoeg slaapplek vir die atlete was nie.

Volgens ’n bron by die Spele het die streke nie meer atlete gebring soos wat deur die NSK voorgeskryf is nie. Joernaliste wat elkeen sy eie kamer beloof was, moes noodgedwonge ’n kamer deel en boonop vuil linne (komberse) gebruik wat aan hulle voorsien is.

Boksers kon ook nie met hul gevegte voortgaan nie, aangesien die NSK die bokshandskoene en ander belangrike toerusting in die hoofstad vergeet het. Kos vir die atlete is nog ’n probleem, sê die bron.

Mnr. James Unomasa Uerikua, nuwe goewerneur van die Otjozondjupastreek, het glo boere gevra om diere te skenk sodat die kinders genoeg kos het om te eet.

“Jy sal my nou nie glo nie,” het die bron aan Republikein gesê, “maar die kinders doen steeds hul bes en geniet die sport terdeë.”

’n Beampte van Kavango-Oos, wat anoniem wil bly, vertel meer van sy atlete se ondervinding.

“As dit van my afgehang het, het ek terug gery met die kinders. Ons was na ’n morsige vuil gebou geneem om te slaap en daar was nie matrasse op die staalbeddens nie. Vervoer was ook nie beskikbaar nie en dit is die rede hoekom ons laat opgedaag het. Die busse was aan die Zambezistreek geleen en ons moes vir die Kunene-busse wag om ons op te laai,” het die persoon verduidelik.

Volgens mnr. Freddy Mwiya, hoofadministrateur van die NSK, moet die streekorganiseerders die blaam dra. Mwiya beweer die streke het meer atlete gebring as wat geakkommodeer kon word.

Mwiya sê: “Toe ons met die streke gepraat het, het ons gesê hulle kan nie meer as 92 atlete en beamptes in totaal bring nie. Maar Khomas het byvoorbeeld met ’n span van 130 opgedaag, terwyl ander skuldige streke ook meer as 100 lede in hul span het.”

“Natuurlik kon ons nie die atlete wegwys nie, want dit is die beamptes van die streke se skuld dat dinge skeefgeloop het. Daar is selfs ouers by sommige spanne wat saamgekom het en ons het selfs vir hulle verblyf gegee.

“Ons is besig om die gemors reg te maak. Gelukkig het die goewerneur vleis gereël nadat ons hom van die NSK se dilemma ingelig het.”

Matrasse van die ministerie van verdediging het verligting aan die kinders se nood gebring.

Die Spele wat Woensdag amptelik begin het, duur tot vanaand.

Bygewerk van Nampa - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!