Jo se nuutste op die rakke

Jo Black se splinternuwe album, Voel jy die Genade, is tans op alle digitale platforms en in alle goeie musiekwinkels landswyd beskikbaar.

Dié nuwe vrystelling is reeds nommer een op iTunes.

Met meer as 8 miljoen kykers op YouTube, sewe Ghoema-musiektoekennings en honderde optredes oraloor die land op sy kerfstok, het dié bebaarde musieksensasie beslis geen bekendstelling nodig nie.

Sedert die bekendstelling van sy debuutalbum Skepe in 2016 het sy werk ’n groot impak op die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gehad, en vanjaar vier hy die genade van sy suksesvolle loopbaan met die vrystelling van sy nuutste album.

Die titel, Voel jy die Genade, is dus heel gepas.

Die albumvrystelling volg kort op die titelsnit, wat onlangs aan die publiek bekend gestel is, en soos ’n veldbrand versprei het.

Dié kitstreffer se musiekvideo is reeds deur meer as 250 000 mense op YouTube gekyk en die snit het binne slegs drie dae die nommer een plek op iTunes SA ingeneem, asook op verskeie groot radiostasies se trefferparades.

Oor sy nuutste album sê Jo: “Ek het regtig my hart en siel in hierdie album gestort. Ek het geweldig hard aan hierdie projek gewerk en my hoop is dat dit mense sal inspireer wanneer hulle daarna luister, net soos wat dit my geïnspireer het terwyl ek dit geskep het.”

Die album bied ’n unieke mengsel van geloof, hoop en liefde, en verklap nie net meer oor sy loopbaan tot dusver nie, maar ook oor dít waarvoor hy dankbaar is.

Dit bestaan uit ’n wye verskeidenheid snitte, wat sy emosiebelaaide weergawe van Leonard Cohen se “Hallelujah” insluit.

“Ons het oor enigiets geskryf wat oor ons pad gekom het en, op ’n manier, dit reggekry om ’n goeie album saam te stel. Dit is net nog ’n bewys van genade. Die grootste uitdaging was dat ek my eerste album oor 35 jaar geskryf het en net een jaar gehad het vir die tweede een,” sê hy.

Hoewel Jo voel verskeie liedjies op die album kan radiotreffers wees, is “Spring” sy gunsteling.

“My hele reis tot dusver was een groot geloofsprong.”

Die oorweldigende reaksie op sy heel eerste enkelsnit, “Skepe”, asook sy nuutste suksesverhaal, bewys hierdie geloofsprong was beslis die moeite werd.

Jo het “Voel jy die Genade” saam met Johan Vorster, Christoph “Appel” Kotze en Roan Ash geskryf.

Hy is van kleins af lief vir musiek en het nooit gedink dit sou eendag ’n loopbaan word nie.

Vir hom moet musiek driedimensioneel wees.

“Dit moet nie net strelend op die oor wees nie, maar ook met die hart en siel praat en gehore moet daarby aanklank vind,” meen hy.

“Die enkelsnit som, soos die album, die laaste jaar van my lewe op. Wanneer ek terugkyk op hierdie reis besef ek alles was net genade. Ek hoop dit sal mense help om ook die genade in hul eie lewens raak te sien en te ervaar.”

Jo sê met die titelsnit se video wou hy graag dié wat sy reis gedeel het aan die publiek bekend stel.

“Ek verskyn gewoonlik alleen in my musiekvideo’s, maar tree nooit sonder ’n orkes op nie. Ek wou hê hierdie video moes hulle insluit, want hulle het die afgelope twee jaar saam met my meer as 550 konserte gedoen.”

Hoewel hy vinnig uitwys watter musikante hom inspireer (Robbie Wessels, Roan Ash, Riana Nel, Karen Zoid en Ross Learmonth), is hy geheimsinnig oor met wie hy graag eendag ’n verhoog wil deel.

“Daar is verskeie Suid-Afrikaanse kunstenaars met wie ek nog wil werk, so hou die media dop,” sê hy.

Die donkerkop is nie skaam vir die kamera nie en het die geleentheid gehad om as gas sy verskyning in die Afrikaanse lokettreffer, Susters, te maak, waarvoor hy en Leah ook die titelsnit, “Nooit Alleen”, saam opgeneem het.

Die ster is baie bang vir hoogtes en is nie mal oor vlieg nie.

Oor sy toekomsplanne sê hy: “Ek vat elke dag soos dit kom. Ons beoog wel ’n paar oorsese toere om die album met gehore oraloor Suid-Afrika te deel.”

Hy is verder ook besig met verskeie ander besigheidsprojekte en beplan om binnekort sy eie restaurant oop te maak.

Die kunstenaar het in September verlede jaar ’n ernstige nekoperasie ondergaan. Hoewel verskeie konserte as gevolg hiervan afgestel moes word en daar baie kommer was oor hoe die prosedure sy stem sou raak, het hy volkome herstel en Voel jy die Genade bewys hy is reg vir ’n nuwe hoofstuk ná die ongelooflike pad wat hy moes stap.

Hoogtepunte van sy loopbaan sover sluit in sy debuutalbum, Skepe, se trippel platinum status, asook verskeie Ghoema-toekennings.

“Ek is met hoogtepunt op hoogtepunt geseën sedert my reis in die musiekbedryf amptelik afgeskop het.”

Voel jy die Genade is in samewerking met Inhoud Huis Musiek uitgereik.

Volg dié skakel om die album aan te skaf: https://joblack.lnk.to/VJDG

Snitte op die album:

Voel jy die Genade

Wat As

Vreesloos

Verlore Seun

Spring

Jy’t my gewys

Kinders Sê

Huis op die Heuwel

Hand op jou Bors

Hallelujah

Ek sal sing

Die Lig

Bitter

Jo tree ook by vanjaar se Outjo Wildsfees op.

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!