Joernalistiek

Van Hendrik Verwoerd tot dr. Chris Barnard en die voormalige swaargewigbokskampioen van die wêreld Max Schmeling was van die nuusmakers wat die 80-jarige Des Erasmus onderhoude mee gevoer het.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - As 'n boorling van die Kaapse Middellande was sy eerste kennismaking met stories tannie Miemsie van Deventer van 'n buurplaas.

Word daar gekuier soos wat bure maar maak, kon niemand slaaptyd vir peuters nader wink as juis sy nie, al het dit soms saam met 'n traan op die sagte babawang gepaard gegaan.

Van sub A tot standerd 6 is Des 'n leerling by 'n plaasskool op 'n gehuggie op 'n spooraansluiting bekend as Baroda. 'n Donkiekar met Dapper en Donker aan die stuur word as koets vir die afstand van sowat 3 km skool toe ingespan. Weelde was later sy dikwielfiets skool toe.

Skool was toe in 'n eenvertrekkie en op mooiweersdae soms ook in die skaduwee van 'n boom. Miesies Jones was die onderwyseres en was jy stout soos om in sommetyd opstelletjies te sit en skryf, het sy jou met 'n houtliniaal oor die kneukels geslaan, vertel Des. Hoërskooljare was op Cradock, sowat 20 km van die plaas. In sy studentejare op Stellenbosch dien hy op die redaksie van die studentekoerant, Die Matie, en die jaarblad, die Stellenbosse Student. Aan die einde van sy “admissiejare” wens hy vir eers 'n oorbruggingsjaar voor hy die volgende vier jaar se studies aanpak. Op 1 Augustus 1959 val Des as nuuskadet by die destydse SAUK se kantoor in Windhoek in, met soms 'n bietjie afloswerk by streekkantore in Suid-Afrika.

“In daai eerste maande in 'n nuuskantoor was daar wonderlike kennismakings met 'n Royal-tikmasjien en die kantoor se eie druktelegraafmasjien waar nuuslyne weerskante toe gevloei het. Lui die teleks eers drie klokkies, kon jy maar weet storiegewys is daar 'n grote aan die hoek.”

Sy oorbruggingsjaar sou 'n leeftyd word. Op 23 word hy die SAUK se jongste streekredakteur vir daardie jare, 'n rekord volgens die sekretaresse.

Die nakoming van spertye was 'n lewensles wat die SAUK se nuuskantoor ingeprent het. Nog 'n les was die kortkuns van die joernalistiek, met 200 woorde wat die absolute maksimum vir 'n groot storie was.

“Net die room moet afgeskep word, dit het my laat voel of ek kon ontplof, vir atmosfeer was daar nie plek in 'n radiostorie nie.”

Des skryf ook vir ander publikasies en koerante en wel onder 'n skuilnaam. Hy maak sy buiging in Die Vaderland, Hoofstad en later ook die Transvaler. Vir langer artikels, veral oor wild, was daar publikasies soos Die Landbouweekblad en ook 'n bietjie vir Huisgenoot.

In 1966 kom 'n verplasing na die Wes-Kaapse streekkantoor in Seepunt (Kaapstad).

“Ek wou nie daarvan hoor nie en in die wroeging is selfs 'n bedanking oorweeg”

Die hoof van al die streekkantore in Suider-Afrika, ene Callie van der Merwe, roep hom tydens een van sy besoeke aan Windhoek kantoor toe. Hy trek weg met 'n gesprek van verraad teenoor homself en teenoor die korporasie en Des meen “hier kom fire nou.

Volgens hom is die mens se loopbaan groter as sy eie saak en is dit tyd om na die geskrewe woord, synde koerante of tyd­skrifte, oor te gaan.

Vir Des 'n verlossing en op 1 Augustus 1966 begin hy as voltydse redaksielid by Die Suidwester, die band van die kortkuns van die radio gebreek. In die plek van bandopnamemasjiene met hul verstrengelende rolle het notaboeke en kameras gekom.

Die tot tien spertye per dag van die radio was nou net twee per week op verskyningsdae. Later drie keer per week en toe 'n dagblad.

“Jou kopie gaan sub toe, dan setters en handsetters en van hulle na die drukmasjien. Later het bladuitleg bygekom. Die geld was bietjie, maar die lewe ryk.”

Sy eerste groot storie was nog in die eerste radiodae. As nuusman het Des elke dag sy rondes gery, met die Eros-lughawe een van die aandoenpunte. Hy vertel Suid-Afrika was in 1959 al die verwerpeling van die vasteland en landingsregte vir vlugte na oorsese lande wat geweier is. Om die boeg van Afrika moes na Europa en ander lande gevlieg word. Ghana onderskep een so 'n vliegtuig van die SAL en hou die bemanning en passasiers dae lank aan. Op diplomatieke vlakke is onderhandel, maar uiteindelik word goedkeuring gegee dat die vliegtiuig met sy passa­siers na Suid-Afrika kan terugkeer met ­Windhoek as eerste landingsplek. 'n Internasionale storie soos min.

“Op my rondes kom die vliegtuig net aan toe ek ook op die lughawe is. 'n Bietjie met die passasiers gesels en toe as groentjie met die 'storietjie' terug kantoor toe. Daar gekom, ontplof die nuuslyne. Almal soek opvolgstories en baas Charlie Hoeflich juig oor sy kantoor se 'scoop'. Ek staan daar soos 'n dom kalf en deurleef die petalje waarvan ek deel was, maar dit nie besef het nie.”

Op nuusgebied was daar nie ruimte vir voorkeure nie, sê Des. Menslike nuus en sport was baie lekker. Hof nie juis nie omdat

hy immer die beskuldigde jammer gekry het “waar hy daar weerloos voor die gereg staan!”

Sport het ruimte vir kommentaar en atmosfeer geskep en met rubrieke moes Des selfs instaan vir 'n siek skryfster van die vrouerubriek Oor die Heining deur Bettie Buurvrou! By Die Suidwester volg Des tot redakteursvlak.

Hy verwys na sy “Big Brothers”. Skryfmanne soos Angel Engelbrecht en Hannes Smith.

“Eintlik net dié twee met Bill Franklin en Kurt Dahlman (Zeitung) wat 'n bietjie buite gestaan het. Om die een of ander onbekende rede was ons onderlinge gesprekname Neef Kaas vir Engelbrecht, Jakkie (soos in jakkals) vir Smith en Tollie vir my. Ons het in harde kompetisie gestaan met 'n hegte vriendskap wat alles saamgebind het.”

Smalend was die segswyse dat jy nooit feite met 'n goeie storie moet laat inmeng nie. Die regte benadering was om by die feite te hou, maar om dit met jou eie sousie aan te bied, sê Des.

Kom jy met jou rol film op 'n ongelukstoneel, is blitsig 'n paar foto's geneem, die spoeletjie uitgehaal en so diep in die motor versteek dat jy dit self later moeilik sou kry. Dan neem jy hoflik en openlik nog foto's op 'n volgende spoel. Sou 'n polisieman op die toneel jou kamera afvat en die spoel uithaal en die film uittrek, dan mag hy maar.

Des vertel met die eerste ooptrek van die Hardapdam se sluise is 'n vliegtuig teen 'n prys vir Frans van der Merwe as fotograaf vir lugfoto's van die skouspel gehuur. Maak hy sy kamera terug op kantoor oop, is daar egter geen filmspoel in nie. Frans moes toe maar op eie koste weer 'n vliegtuig huur om te gaan foto's neem, vertel Des.

Hy herroep die dag toe wyle Anna Frank as politikus 'n baie belangrike toespraak op Gobabis gaan hou. Van Gobabis is Frank reguit lughawe toe vir 'n oorsese reis. Des doen die storie en terug by die kantoor begin hy sy notaboek soek wat vandag steeds weg is. Hy moes maar uit die vuis skryf en met Frank se terugkeer laat weet sy dit was die beste verslag wat ooit oor 'n toespraak van haar geskryf is.

Stories van 'n leeftyd wat hom sal oorleef was die Boeingramp van 1968 en die treinramp by Keetmanshoop waarin troepies van die operasionele gebied op pad huis toe was om in die Suide in 'n botsing met 'n trein met 'n vrag rotse vir die treinspoor te sterf.

“Juis daai Boeingramp was van die moeilikste werk wat gedoen moes word. Mense met families baie na aan jou het gesterf. Jy moes die oproepe beantwoord of iemand nie dalk nog leef nie.”



Van Verwoerd tot Barnard

Natuurlik moet jy jou voorberei op 'n storie, sê Des. Al die “tools” moet in jou boks wees as jy daar aankom. Is dit politiek, is dit goed om voor die tyd die spreker te vra wat hy meen in sy toespraak beklemtoon moet word.

“Vandag se joernaliste word mos met die lepel gevoer. Dit gee vir hulle tyd om by unions en sulke goed aan te sluit sodat hulle hul eise aan hul werkgewers kan stel. Op nuuskonferensies het ek feitlik nooit vrae gevra nie, almal kry mos dan die antwoord. Keer eerder die man aan die woord ná die tyd in 'n gangetjie voor en vra jou vraag, dan is die antwoord net joune.”

Hy sonder onderhoude met die “geniale” Hendrik Verwoerd, die gentleman Sir De Villiers Graaf, Sir Alec-Douglas Hume van Brittanje en Max Schmeling, voormalige swaargewigbokskampioen van die wêreld uit. Ook Gé Korsten vir wie Des gevra of hy dink hy is die tweede Gigli (beroemde Italiaanse tenoor). Nee, sê Gé, hy is die eerste Korsten). Vir hartspesialis prof. Chris Barnard vra hy in 'n onderhoud wat is sy gewildste tydverdryf. “Om met koerantmanne te praat” sê hy.

Hy vra homself dikwels hoekom skryf hy nog op 80 jaar.

“Die joernalistiek is 'n nering, nie 'n betrekking nie. Ek antwoord altyd ek het maar nou die dag my vakleerlingskap voltooi, mag ek dan nie 'n bietjie werk ook nie?”

Goeie joernaliste is self nooit groter as die storie nie, sê Des. Vereistes is “jy respekteer altyd jou bron. Boemelaars het ook regte. Sal jy saam met die gepubliseerde werk kan leef? En is die eindproduk die beste wat jy kan doen?”

Kry hy weer die geleentheid, is dit beslis weer joernalistiek. “Dit vorm my en maak my.”

Hy erken dit was baie dae weg van die huis en soms lang dae en lang nagte waarin die kleinspan soms net gesien is wanneer hulle reeds slaap of nog slaap. Van goeie aftye saam is supertye gemaak. Soms is hy weggeroep wanneer hulle saam op pad na 'n lekker plek was. Daar was tog verstaan, sê hy “hoewel klein seuntjies en 'n meisietjie se vingertjies soms deur die ogiesdraad van die voorhekkie gedruk was waar hulle staan en wag het”.

Emosies, verliese en die dood? Dit is goed wat nie vir die mens is om te verstaan nie, maar net om te aanvaar, sê Des.

Daar is daagliks stories wat hy wens hy geskryf het, veral wanneer hy sien hoe 'n jonger geslag joernaliste “met die goue stof mors”.

Self is die beroep 'n mentor. Nuusmanne is nie net boodskappers nie, hulle besin ook oor hoe 'n boodskap gedra gaan word.

“Juis Afrikaans word in die joernalistiek deur die internasionale Engels bedreig. Daarom moet taalsuiwerheid elke keer 'n bydrae tot die behoud van die lingua franca, die gebruikstaal wees.”

Kommunikasie tussen hom en die lesers het Des geleer “om hulle lief te kry”.

“Dis 'n gesindheid wat vir altyd bly en verby uitspantyd sal leef.”

Die geskrewe media het nie verander of verdwyn nie, daar was wel 'n klemver­skuiwing, sê Des.

“Die kuberkommunikasie dien net as teasers. Van die kanale van die sosiale media is so onbetroubaar, dat 'n koerant eintlik gekoop moet word om agter die kap van die byl te kom. Maar dan moet jou inligting korrek wees en die storie moet vloeiend lees. Amper soos prosa. Die Engelse joernalistek praat van headings and stories must ring.”

Sy pad met Republikein het diep wortels, nadat hy ná 16 jaar by Die Suidwester en ses jaar by die radio op 27 Januarie 1981 hier begin. Hier was hy benewens as verslaggewer ook in verskillende redakteurshoedanighede betrokke, ook hoof van publikasies van die koerantgroep van DMH en toe die Sondagkoerant Tempo se hoof. As sub eers tweede sub, toe hoofsub en ook vele kere nuusredakteur.



Die eer wat hom toekom

Die eerste verering vir sy werk is in 1978 vir die koerantreeks (Die Burger, Volksblad en Oosterlig benewens Die Suidwester self) en vir die ses aflewerings van die Nangolo-dossier met plaasaanvalle en -moorde in die bevrydingstryd as hooftema. Hy word met die KWV-prys beloon, nadat kollegas hom inskryf. Die afgelope byna 18 jaar was Des aan Erongo op Swakopmund verbonde. Dié publikasie van die destydse DMH word in 2004 in die Sanlam­kompetisie as die beste ­publikasie in die gemeenskapspers van Suidelike Afrika aangewys. In 2000 wys Sanlam Des as die gemeenskapspers se Joernalis van die Jaar in Suider-Afrika aan. Die ATKV vereer ook vir beide Des en sy vrou en mede-joernalis, Anneli, met die status Afrikoon. Verlede jaar beloon die ATKV hom met die hoogste toekenning, die Oorkonde. Saam met Anneli s'n staan die toekennings op altesame 92.

Hy en Anneli as tweemanspannetjie wat laat in die nag by die laaste deurnagwinkeltjie op pad na Windhoek 'n geleentheid soek vir 'n pakkie foto's en kopie vir 'n volgende publikasie. Die pleit by 'n vlieënier om die einste pakkie tog saam te neem. Daar word weer op 'n seiltjie onder die sterrehemel van die Aminuis geslaap, twee nuusmanne hardloop weer in die middel van die nag by Asab in mekaar vas wanneer 'n trein oor die brug stoom waaronder hulle slaap. Op Lüderitz word weer alleen agtergebly om 'n lift Windhoek te soek, nadat die fotograaf met hul pakkie terug is na die nuuskantoor. Uiteindelik was die geleentheid saam met wyle Anton Lubowski in sy huurvliegtuig van Lüderitz na Windhoek.

“Kry ek die kans, sal ek dit weer doen. 'n Voormalige president van Amerika het gesê: 'Jy word nie aan die jare in jou lewe gemeet nie, maar wel aan die lewe in jou jare'.”

Wat min mense van hom weet, is dat hy 'n bobaas broodbakker is, verklap Anneli. Wanneer stres en werksdruk op sy ergste is, vrees sy daai oproep slaghuis toe waar Des vleis en vet en derms bestel.

“Dan word daar wors gemaak en ek kou my naels af oor of ons betyds ons spertye gaan haal. Hy het verskeie worsresepte wat hy op sy reise deur die land versamel het, en ook sy eie wat hy saamgeflans het – die een so liplekker soos die ander.

Die laaste woord oor hom, behoort aan haar.

“Niks kry hom sommer onder nie. Hy moes meer as een steil bult in sy lewe uit, daar was baie hartseer, maar hy het nooit bevraagteken hoekom juis hy nie. Hy het 'n diep gewortelde geloof en steun op sy Hemelse Raadgewer. Woorde en werk is dikwels sy vertroosting.”

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!