Johannes en Limmer beste van Beast Wars
Die byeenkoms het onder meer gedien om dié Olimpiese sport plaaslik te bevorder.
Die Namibiese Gewig- en Kragoptelfederasie (NWPF) het vroeër vandeesmaand sy Beast Wars 2.0 kragoptelkompetisie vir 2018 aangebied.
Die Windhoekse klub Crossfit 264 het die venue beskikbaar gestel vir 'n dag om groot, swaar gewigte op te tel.
Die byeenkoms was oop vir enigiemand wat kragoptel geniet, met die reëls van die IPF (Internasionale Kragoptelfederasie) wat toegepas is. Ander federasies het hul eie regulasies, maar die NWPF is by die IPF en die Statebond geaffilieer om aan sy lede geleenthede te bied om op internasionale vlak te kan meeding.
Die afgelope twee jare het Namibiese deelnemers in Suid-Afrika aan die Arnold Classic gaan deelneem, terwyl die land ook medaljes by die 2016 Statebondbyeenkoms ingepalm het.
Kosie Henn, sekretaris-generaal van die NWPF, sê die beheerliggaam se doelwit is om die grondslag te lê vir sy atlete om die internasionale standaard te bereik.
“Ons wil die weg baan vir toekomstige atlete en wil 'n skoon, kompeterende sport bevorder. Ons berei 'n span voor om in 2019 weer in die Arnold Classic te gaan meeding en in die aanloop tot die Afrika-kampioenskap wil ons 'n Namibiese span vir die internasionale kompetisie bymekaar sit.”
Henn sê kragoptellers is bevoorreg om in 'n sport onder die Olimpiese vaandel betrokke te wees.
“Namibiese kragoptellers het baie om aan te bied en die afgelope Beast Wars byeenkoms is gehou om die sport te bevorder. Op individuele vlak is ons mekaar se sterkste kompetisie, maar as 'n span ondersteun ons mekaar.”
Kragoptel bestaan uit die drie komponente – hurk (squat), bankstoot (bench press) en dooiegewigoptel (deadlift). Deelnemers kry drie pogings in elke item en kan die gewig opstoot in hul opbou tot die maksimum.
Op kompetisievlak is die strewe altyd om jou persoonlike beste te oortref.
'n Internasionaal erkende puntestelsel (Wilks) is toegepas wat ouderdom, liggaamsmassa en die totale gewig opgetel in ag neem om die verskillende deelnemers op 'n regverdige wyse te kan opweeg.
Verskeie groot vertonings is op die dag gelewer, soos 220 kg in die hurk en dooiegewigoptel van 250 kg. Verskeie jong atlete het na vore getree wat op 'n belowende toekoms vir die sport in Namibië dui.
In die bankstoot het Stef Botha (Crossfit 264) die eerste plek ingeneem deur op 180 kg te slaag. Tweede was sy klubmaat Dalton Klein en derde was Michael Faulds van Tsumeb Health and Fitness Centre.
By die vroue was Alexandra Limmer (Iron House) die algehele wenner met 'n totaal van 385 kg, maar Domenique Otto (NWPF, 396 kg) het haar behoorlik opgedreun met net 0.20 punte verskil. In die derde plek was Charmaine Ras (Tsumeb, 316 kg).
Die topdrie vroue is almal van die NWPF en met gewigte van 130 kg in die hurk en dooiegewigoptel van 180 kg het hulle gewys dat skoonheid en krag hand aan hand kan gaan.
Die algehele manswenner was Marius Johannes van Tsumeb. Hy is ook die president van die NWPF wat in 2016 die algehele bronsmedalje in sy ouderdomsklas by die Statebondbyeenkoms op Potchefstroom verower het.
Johannes het sake oorheers met 230 kg hurk, 175 kg bankstoot en 240 kg dooiegewigoptel vir 'n totaal van 645 kg.
Tweede was Cecil Barnes van Rhino kragoptelklub (560 kg), met Joshua Bell (Tsumeb, 565 kg) derde.
Die NWPF bedank graag die borge Gecko Signs, Crossfit 264, Max Q Nutrition, die skoenvervaardiger Red Velvet (Kepher Active Wear), Fake Bake Namibia, Tan on the Run asook Iron House Gym vir hul vrygewige bydraes tot die byeenkoms.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie