John Liebenberg se reuse-nalatenskap

Die oorlogfotograaf se foto's spreek meer as boekdele en is inherent deel van Namibië se geskiedenis.
Francoise Steynberg
Elvira Hattingh en Francoise Steynberg



“Elke keer as ek deur my foto-argief gaan, kan ek nie van die wrede realiteit van apartheid en die stelsel van rasseverdeling ontsnap nie – dit was slegte nuus.”

Só het die wêreldbekende oorlogfoto­graaf John Liebenberg (61) in 2014 oor sy laaste uitstalling in Namibië aan ­Republikein gesê.

Dit was 'n gesamentlike foto-uitstalling, Every one hundredth of a second, saam met veteraanfotograaf Tony Figueira op 21 Februarie in die Omba Galery in Windhoek.

Dit het 'n blik op van die mees storm­agtige tye van menslike interaksie in Namibië, Suid-Afrika en Angola gebied.

Tony het op 57-jarige ouderdom op 12 April 2017 op Swakopmund ná 'n siekbed gesterf en John Sondagoggend in 'n hospitaal in Johannesburg.

John Arthur Liebenberg, wat op 3 Maart 1958 in Johannesburg gebore is, was bekend vir sy briljante foto's uit die Namibiese vryheidstryd, die Angolese burgeroorlog en Suid-Afrika se apartheidsera.

“Tog is Namibië 'n goeie nuusstorie' in Afrika. Daar is onrus oral in die wêreld, maar hier het ons sedert 1988 nog nie weer die gedonder van 'n G5-kanon gehoor nie, ook nie die geratel van masjiengewere nie,” het John gesê.

“Ek is nie blind vir die probleme soos die Caprivi-verhoor of die verwydering van die ruiterstandbeeld nie, maar ons woon ten minste nie met 'n sterk militêre teenwoordigheid op die strate nie.”

Een van sy foto's in die uitstalling wat vir hom uitgestaan het, is dié van die Plan-vegter wat leweloos oor 'n Casspir se noodwiel hang. Tydens die opening van die uitstalling het hy bewoë geraak toe hy na die foto verwys het.

“Dit herinner my aan 'n lam wat geoffer word, wat vir die bevryding van sy land en mense gesterf het. Dit herinner my vrees­lik aan die Bybelverhaal van Abraham wat sy seun Isak vir God wou geoffer het en Isak oor die klip laat lê het.”

John is saam met ander dienspligtiges in 1976 in Namibië na die Ondangwa Lugmagbasis naby Angola se grens gestuur. Hy het later in 1985 teruggekom Namibië toe en is deur The Namibian as fotograaf aangestel.

“Die enigste manier hoe ek ná Namibië se onafhanklikwording die Angolese burger­oorlog kon dek, was om Johannesburg toe te trek. Reuters sou my slegs van daar af in diens neem.”

Hy het later by Media24 aangesluit en vir die tydskrif Drum gewerk.

Intussen het hy van sy foto's ook in Europa uitgestal en word sy versameling wyd deur historikusse, navorsers en rolprentvervaardigers gebruik.

John se uitstallings sluit in Rise and Fall of Apartheid in kunsgalerye in New York, München, Milaan en Johannesburg, Namibia by die eerste African ­Photography Encounters in Bamako, Framing Fashion in die Brighton-­museum in Engeland en die ­Kontemporêre ­Afrika-kunsfees in New York.

Boeke uit sy pen sluit in Bush of Ghosts: Life and War in Namibia, en Namibia, wat saam met vyf ander fotograwe ­gepubliseer is.

John het voltyds as vryskutfotograaf gewerk.

“In Suid-Afrika is dit moeilike ekonomiese tye vir 'n fotograaf – almal skaal af, maar daar leef jy asof jy op 'n mespunt is – dis stakings, e-tol, rooftogte en polisie-aggressie. 'n Mens kan nooit aftree van fotografie nie. My droom is om eendag 'n plek genaamd 'John's Bar' met 'n ateljee langsaan oop te maak en portretfoto's van mense te neem.”

“Ek wil nou nie soos 'n priester klink nie, maar my foto's moet as 'n herinnering van die donkerder dae in Namibië dien en ons moet aan politieke verdraagsaamheid werk.

“Ons moet met mekaar werk asof almal spesiaal is en deernis met die mense hê wat nie werk het nie of arm is. Dis nie die land van die dapperes nie, dis die land van armes.”



KINDERS ONTHOU

John word deur vier kinders, Joseph (33), Jessica (30), Max (24) en Emile (14), en sy vyf maande oue kleinseun, Leo, oorleef.

Joseph is 'n prokureur in Johannesburg, Jessica woon en werk in Duitsland, Max studeer musiek in Switserland en Emile gaan in Johannesburg skool.

Jessica se tweede naam is Freedom en sy het huldeblyk namens haar broers aan haar pa gebring:

“My pa het die onregverdigheid van die wêreld aangevoel, 'n gevoel wat vroeg in hom aangewakker is en hom nooit verlaat het nie,” sê Jessica.

Sy sê hy het gekyk waar baie misgekyk het en was 'n getuie wanneer baie eerder sou omdraai.

“Dit was 'n moeilike taak en dit het sy tol op sy liggaam en gees geëis, maar daardeur het hy ons almal tot verantwoording geroep deur ons die onsienbare te laat sien.”

Jessica sê dit was haar pa se manier om al die foute in die wêreld reg te maak.

Volgens haar was John se eerste foto's in Namibië by die kampongs in Katutura geneem, waar mans foto's laat neem het van hulself om na hul families te stuur.

“Daar het hy sy eerste bewustheid van die vryheidsbeweging beleef en begin om politieke veldtogte en vergaderings van belangrike maatskaplike en ­politieke groepe by te woon.

Jessica sê op hierdie manier het haar pa begin om Namibiërs se vryheidstryd te dokumenteer.

“Hy het 'n lig geskyn op die oorlog en die storie van hoe die apartheidsregering die donker behoue wou laat bly. Hy het diep vriendskappe met mense gesluit wie se lewens en stories hy verteenwoordig het.

“Soos baie tevore gesê het, sy foto's is uniek want hy was vreesloos, maar ook omdat hy 'n oop hart gehad het. Hy sou die lyding van ander op homself neem. Niemand was benede sy omgee nie,” beskryf Jessica haar pa.

Sy sê John se foto's daardie tyd was van twee verskillende wêrelde: huise wat met koeëlgate besaai was, Koevoetspore in die bos, gewelddadige opstande in Katutura en dan 'n paar foto's aan die einde van die filmrol van sy familie en vriende.

“Hy het toe pas pa geword en hierdie foto's is gevul met waardering vir die eenvoudige vreugdes van sy tuin, sy huis en sy familie. Hierdie vreugdes het sy hele lewe by hom gebly.”

Jessica sê toe vryheid gekom het, het hy dit ook gedokumenteer en hy was ­oorstelp van vreugde.

“Hy het my Freedom genoem, maar hy was 'n rustelose siel en sou Angola toe gaan om die burgeroorlog daar af te neem. Dit was foto's waarmee daar nog nie ­rekening gehou is nie en sou ­getuienis van baie meer daarna wees.”

Jessica sê sy het in Desember vir 'n maand saam met haar pa gewerk en deur sy argief gegaan.

“Hy het elke gesig en elke naam in elke foto geken. Hy onthou hul stories in detail. Soos hy die negatiewe in die lig ophou, sou hy die stories van die foto's vir my vertel.”

Die kinders het nie net 'n pa in John verloor nie, maar “ons het 'n lewende argief verloor. Iemand wat ons geskiedenis bymekaar gehou het en dit vir ons vertel het”.

Jessica sê John was nie net 'n goeie ­fotograaf nie, maar ook sag, vriendelik en liefdevol.

“Wat ons nou het, is sy foto's en 'n plig om getuies van sy lewe en werk te wees, op dieselfde manier hoe hy dit sou gedoen het: met deernis, dapperheid en regverdigheid.”

John se familie het gister afskeid van hom in Johannesburg geneem en hy is in Wespark-begraafplaas begrawe.

'n Namibiese gedenkdiens ter ere van John word vandag om 17:00 by die ­Operahuis by The Village in Windhoek gehou. – [email protected],

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!