Jonas nog in Rio na seksklag
Boks
Tielman van Lill - Die 23-jarige Namibiese Olimpiese amateurbokser, Jonas Junias Jonas, sal nog ‘n hele ruk in Rio de Janeiro, Brasilië, vir sy komende hofsaak moet wag.
Jonas, wat vir verkragting tydens die 2016 Olimpiese Spele in Rio de Janeiro aangekla is, sal eers op 25 Januarie 2017 in die hof op dié klag verskyn. Maar dit beteken nie dat sy saak afgehandel sal word nie. Jonas se regsverteenwoordiger het ‘n geskrewe verdediging aan die regter in Brasilië gestuur en gevra dat Jonas toegelaat word om na Namibië terug te keer.
Volgens ‘n verklaring wat vandeesweek deur die Namibiese Nasionale Olimpiese komitee (NNOK) uitgereik is, het die regter die skrywe op 29 November ontvang, maar nie die versoek toegestaan nie. Die weltergewigbokser van Swakopmund sal oor die Kersgety onder toesig van die Namibiese militêre gesant in Rio moet bly voordat hy in die hof sal verskyn.
Jonas wat Namibië se vlag by die openingseremonie by die Spele gedra het, is op 7 Augustus in die Olimpiese dorp aangekeer nadat ‘n skoonmaker beweer het Jonas het haar betas. In Brasilië word seksuele teistering en verkragting op dieselfde wyse hanteer en daar is nie ‘n onafhanklike klag nie. Wat interessant is, is dat Hassan Saada, die 22-jarige ligswaarbokser van Marokko, ook tydens die Spele op dieselfde klag gearresteer is.
Die brose Jonas het wel by die Spele vir sy eerste geveg deur die toue geklim, maar is deur die Fransman, Hassam Amzile, uitgeskakel. Hy het later mense en vriende op Facebook bedank wat in sy onskuld glo en gesê dit was nie maklik om onder ‘n donker wolk vir sy land deur die toue te klim nie.
“Om onskuldig en vir niks toegesluit te word en slaaplose nagte te hê, is nie maklik nie. Maar ek het steeds gegaan om te baklei,” het hy op Facebook geskryf.
Jonas het op Republikein se navraag gesê dit gaan goed met hom en dat hy deels by die omstandighede aangepas het, maar dit steeds moeilik vind om die situasie te hanteer. Jonas sê reguit hy het niks gedoen nie en glo vas die Brasiliaanse owerhede sal die klagte teen hom laat vaar.
“Indien ek verhoor word, sal ek my kant van die saak in die hof stel. Ek is onskuldig, want ek het niks van die aard gedoen nie,” het Jonas gesê.
Advokaat Jesse Schickerling, visepresident van die Namibiese Nasionale Olimpiese komitee en missiehoof van die Namibiese span na Rio de Janeiro, het bevestig dat die NNOK Jonas se koste in Brasilië betaal. Jonas is sedert sy vrylating op 11 Augustus in die sorg van die Namibiese ambassade in Rio de Janeiro geplaas.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie