Jong beesbeoordelaars beïndruk

Vroeg in Oktober sal die land se beste jong beesbeoordelaars bekroon word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Bank Windhoek en Feedmaster span tans saam om 'n nasionale beesbeoordelaarskompetisie en -kursus vir Namibiese jongmense aan te bied.

Tot dusver het die organiseerders deelnemers as “bogemiddeld goed” beskryf.

“Sowat 95 kinders het uit verskil­lende hoeke van die land vir die ­beoordelingskursus ingeskryf. Hieruit sal sowat 65 kinders opleiding ontvang,” het Feedmaster se korporatiewe ­handelsmerkspesialis, mnr. Dawid Krause, gister aan ­Republikein gesê.

“Altesaam 16 suksesvolle ­kandidate sal dan na die finale rondes deurdring wat op Grootfontein, Gobabis en eindelik by die Windhoek Skou op 2 Oktober vanjaar aangebied sal word,” sê hy.

Krause sê die wenners sal tydens die Windhoek Skou se parade aangewys word.



LEERLINGE OPGELEI

Dit is die eerste keer dat die kompetisie plaaslik aangebied word en die doel is om leerlinge van graad 9 tot 11 met die nodige kennis en vaardighede toe te rus om beeste op plase en skoue te beoordeel, het mnr. André le Roux van Bank Windhoek vandeesweek in 'n nuusverklaring gesê.

Die inisiatief fokus tans hoofsaaklik op Simbra- en Simmentaler-beesrasse.

Die program word deur Feed­master, Namibië se veevoerproduksieleier, ­gefasiliteer en word sedert begin Julie aangebied.

Die derde opleidingsronde het op 3 Augustus plaasgevind, terwyl 'n vierde een op 7 September op ­Otjiwarongo sal plaasvind.

Om vir die program in aanmerking te kom, moet deelnemende skole seuns en dogters vir 'n bekendstellingskursus in hul onderskeie streke inskryf.

“Om suksesvol te kan wees, moet die kind die anatomie van elke ­spesifieke beesras verstaan en hul kennis in 'n spesifieke situasie kan toepas,” het Krause gesê.

Die beoordelaarskursus behels die beoordeling van beeste se basiese ­anatomie en samestelling, die reëls vir skouverenigings, die rol van ringbeamptes by die skou, die bestuur van voeding vir skoudiere asook die voorbereiding en mak maak van diere vir skoudoeleindes.



'ONGELOOFLIK'

Krause sê die kinders se vermoëns ­beindruk hom.

“Die opleiding is van 'n hoë ­standaard, maar die kinders is ­ongelooflik en minstens 60% van hulle vaar bogemiddeld goed met die opleiding,” het Krause gesê.

Hy sê nog 'n verrassende faktor is dat 'n kwart van die inskrywers meisies is en dat hulle baie goed vaar.

“Ons is dankbaar vir Bank Windhoek wat die geleentheid vir Namibië moontlik gemaak het,” het Krause gesê.

Landswyd sal altesaam 16 skole aan die Bank Windhoek Jeug- Bees­beoordelaarskursus en –kompetisie ­deelneem.

Dit sluit in Privaatskool Elnatan, Gobabis Gimnasium, Windhoek Hoër­skool, Windhoek Afrikaanse ­Privaatskool, Windhoek ­Gimnasium, Hoërskool M&K Gertze, Hoërskool Dr. Lemmer, Deutsche Höhere Privatschule, Agri College, Grootfontein Senior Sekondêre Skool, Tsumeb Gimnasium, Etosha Sekondêre Skool, Outjo Privaatskool; Edugate Otjiwarongo; Hoërskool Otjiwarongo and Deutsche Privatschule ­Otjiwarongo. [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!