Jong Bokke versnel na vyftigtal
Rugby
Wim Pretorius
Die Junior Springbokke se voorbereiding vir die o.20 Wêreldbeker het Saterdag op koers gebly ná 'n gemaklike sege met 50-8 oor 'n Namibiese vyftiental by die Tygerberg Rugbyklub.
Die Suid-Afrikaners het aanvanklik gesukkel om die masjien aan die gang te kry en dit was moeilik vir die toeskouers om die treurmare van die eerste 25 minute te moes deursit.
Namibië het eerste bloed geruik toe sy losskakel, Cliven Loubser, 'n strafskop deur die pale gejaag het om sy span met 3-0 te laat voorloop.
Die SA flank Dylan Richardson het teruggeslaan toe hy net regs van die pale die bal agter die doellyn geplant het.
Toe slaan die linkervleuel, PJ Walters, toe vir die buurland toe hy teen die verloop van spel die bal onderskep en 'n goeie lopie van bykans 80 meter ingesit het om af te rond.
Dit was egter die besoekers se laaste punte.
Die bielie-binnesenter, James Mollentze, het verseker dat Suid-Afrika teen rustyd met 14-8 voorloop toe hy sy span se tweede drie gaan druk het.
Mollentze het juis die ommeswaai begin met sy brekerlopies wat agterlangs amok gemaak en die Namibiër hoofbrekens besorg het.
Die tweede helfte was 'n eensydige affêre en die Junior Bokke het ses keer die verdediging oopgekerf en afgerond agter die pale.
Mollentze, 'n oudleerling van Hoërskool Outeniqua, het gewys tussen hom, Rikus Pretorius, Marnus Potgieter en Jay Cee Nel het die span se breier, Chean Roux, 'n oorvloed aan talent in die middelveld.
Sy plaasvervanger, Celimpilo Gumede, het ook beïndruk toe hy opgekom het. Die oudleerling van Durban High School was ook 'n breker met die bal in die hand en is nie bang vir die fisieke aanslag nie.
Die Junior Bokke het in hul eerste wedstryd by Paarl Gimnasium met 58-10 met Georgië klaargespeel. Die SA span sluit oormôre af teen die jong Argentyne, wat Saterdag met 32-26 teen die Georgiërs oorleef het.
• Namibië se kaptein, Darryl de la Harpe, het agterna gesê sy span het vir langer tye met intensiteit meegeding as wat vier dae tevore die geval was, toe die Argentyne hulle met 64-8 kafgedraf het.
“Ons het aan nuwe dinge gewerk en 'n paar nuwe kombinasies beproef. Ek dink die ouens het darem karakter gewys en ons leer uit die ondervinding. Hierdie wedstryde vier dae uit mekaar is 'n goeie oefenlopie vir ons deelname aan die SuperSport-reeks wat op 27 April begin.
“Teen Georgië (Woensdag) sal ons graag die bal lewendig wil hou. Hulle lyk sterk in die skrum en ons sal daarop voorbereid moet wees.”
Junior Bokke 50 (14): Drieë: Dylan Richardson, James Mollentze (2), Sanele Nohamba, Sebastiaan Jobb (2), Celimpilo Gumede (2). Doelskoppe: David Coetzer (3), Mollentze (2).
Namibië 8 (8): Drie: Peter John Walters. Strafdoel: Cliven Loubser.
– Bygewerk van Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie