Jong Connor klim fluks op ranglys
Jong Connor klim fluks op ranglys

Jong Connor klim fluks op ranglys

Tennis
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Namibië se voorste junior tennis­baljagter, Connor van Schalkwyk (16), was tot laasweek nog 230ste op die Internasionale Tennisverening (ITF) se junior wêreldranglys, maar ná twee uitstekende toernooie in Suid-Afrika het sy status drasties verbeter.

Volgens die ITF-webblad het Van Schalkwyk met 34 posisies vanaf 230ste tot 196ste gebokspring en spog vandeesweek met 276 ranglyspunte.

Dit is die eerste keer dat hy deur die top-200-grens van beste o.18-spelers op die planeet breek en 'n beduidende verbetering teenoor laasweek toe hy ná slegs vier toernooie vir 2021 op 225.75 punte geanker was.

Hy is ook vir die eerste keer onder die toptien in Afrika.

Van Schalkwyk (derde gekeur) het onlangs in Pretoria die ITF Wêreldtoer se graad 4-toernooi teen die gasheerland se Luc Koenig (tweede gekeur) ingepalm. In die finaal het die Namibiër met 2-6 in die eerste stel vasgeval, maar het sy ritme herwin om met 6-4 en 7-6 die titel syne te maak.

Verlede Vrydag was Van Schalkwyk (vierde gekeur) opnuut in Johannesburg in die eindstryd van 'n ITF graad 3-toernooi teen die einste Koenig (tweede gekeur) gewikkel.

Ongelukkig het Van Schalkwyk die vorige dag in die semifinaal teen die topgekeurde Devin Badenhorst van Suid-Afrika sy regter­skouer beseer. Nogtans het hy Badenhorst met 6-1, 6-3 afgeransel, maar in die finaal moes hy die knie met 6-1, 6-4 teen Koenig buig.

Van Schalkwyk het gister aan Republikein gesê: “Ek kry daagliks fisioterapie en word met akupunktuur behandel. Ek wil môre 'n paar balle gaan slaan en kyk hoe my skouer voel. Ek hoop regtig my skouer sal volkome voor my kompetisies in die Wes-Kaap herstel.

“Voor ek Stellenbosch toe vir die eerste toernooi vertrek wat op 11 Oktober in Stellenbosch afslaan, gaan ek hier in Johannesburg in twee wedstryde slyp.”

Van Schalkwyk, wat geldelike steun van die Davin Sporttrust vir sy reiskoste ontvang het, sal aanstaande maand aan drie toernooie van die ITF Wêreldtoer (graad A-, 2 en 3) in Kaapstad en Stellenbosch deelneem, wat sy rangordeposisie 'n verdere hupstoot kan gee.
[email protected]

FOTO
Die lenige Connor van Schalkwyk (16) is Namibië se voorste junior tennisspeler. Foto Tielman van Lill

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!