Jong Namibiër maak biomediese deurbrake

’n Plaaslike ingenieur laat die land se vlag hoog wapper in naburige Suid-Afrika.
Denver Kisting
Denver Kisting - Sy twee jonger sibbe se worsteling as kinders met asma het ’n jong Namibiese ingenieur aangespoor om ’n toestel te ontwerp wat die bruikbaarheid van ’n standaardasmapompie verbeter.

Sedert mnr. Giancarlo Beukes, ’n 26-jarige entrepreneur, met dié toestel opslae gemaak het, maak hy skoonskip in Suid-Afrika wat biomediese toekennings betref.

Dié ontwerp het gespruit uit een van sy magistermodules, die mediesetoestelontwerpkursus. “Pediatriese asmapasiënte kan nie hul standaardasmapompie aktiveer nie. As die ouer broer van twee sibbe wat albei asma het, het ek geweet hoe moeilik dit vir hulle was toe hulle grootgeword het nie.”

Die toestel het uiteindelik bekend geword as die Easy Squeezy.

Vanweë sy ontwerp stel die toestel kinders van so jonk as vyf jaar in staat om tydens ’n noodgeval hul pompie te aktiveer, sê Beukes. “Die tegnologie staan ook bejaarde en gestremde asmapasiënte by om hul inasemingstoestel te aktiveer en verleen daarmee ’n mate van onafhanklikheid.”

Beukes sê hy en sy studieleier, prof. Sudesh Sivarasu, se navorsing het bevind sowat 42% van leerlinge neem weens stigma nie hul asmapompie saam skool toe nie.

Dit het nog olie op hul inspirasievuur gegooi. “Gevolglik het ons ’n animasiekaraktermou (“sleeve”) ontwerp vir seuns en een vir meisies wat aan die voorkant van die toestel geplaas word. Dit is gedoen om die stigma teen te werk.”

Dié toestel kan herhaaldelik gebruik word, sê hy. “So, wanneer die medikasie op is, haal ’n mens die mou af en sit dit oor die nuwe pompie.”

Die UK was só beïndruk met die tegnologie dat hulle besluit het om dit te patenteer. Sedertdien stroom die vraag na die toestel in.

Verlede Vrydagaand het Beukes en sy oudklasmaat mnr. Gokul Nair se maatskappy, Impulse Biomedical, een van die pryse verower in die Technology Innovation Agency (TIA) se 2018 Global Cleantech Innovation-programme.

Beukes het sy hoërskoolloopbaan aan St George’s Diocesan College in Windhoek voltooi waarna hy meganiese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria (UP) gaan swot het.

Twee dae nadat hy by ’n ingenieursfirma in die Namibiese hoofstad ingeval het om sy beurs af te werk, het hy die nuus ontvang dat hy vir ’n meestersgraad in biomediese ingenieurswese by die Universiteit Kaapstad (UK) aanvaar is.

Boonop is dié nuus vergesel met ’n blye tyding dat hy ook vir dié meestersgraad ’n beurs losgeslaan het. “Toe ek my aanvaardingsbrief kry, het ek dadelik opgestaan en my pa (mnr. Jerry Beukes, die Namibië Opleidingsowerheid se uitvoerende hoof) gebel om hom die nuus mee te deel. Hy het vir my ’n baie ‘real’vraag gevra: ‘Is jy seker jy wil dit doen? Hou in gedagte dat as jy ’n meesters doen, kan jy opeindig as ’n akademikus, wat oukei is as dit jou doelwit is.

“As jy egter in die bedryf wil wees, is dit (die M) nie noodsaaklik nie en om in die toekoms ’n werk te kry, mag ’n uitdaging wees.”

Beukes sê die besluit was uiteindelik vir hom baie eenvoudig. “’n Bekende aanhaling, waarvolgens ek lewe, som dit baie goed op: ‘As jy nie iemand anders se lewe verbeter nie, mors jy jou tyd.’”

Hy sê vir hom beteken dit as hy nie ’n impak op iemand se lewe het deur dit te verander of te red nie, is dit ’n verkwisting van tyd. “As ’n biomediese ingenieur kan ek moontlik miljoene lewens regoor die wêreld red.”

Daardie MSc in biomediese ingenieurswese by Ikeys neem ’n tipiese ingenieur uit sy gemaksone, vertel Beukes die afgelope week via WhatsApp. “Die mees beduidende daarvan was die uitmekaarsny van die menslike liggaam saam met die mediese studente.”

Hy sê naas die module in mediesetoestelontwerp was die dissekteermodule sy gunstelingvak. “Ons het die menslike liggaam van kop tot tone uitmekaar gesny, wat ’n ongelooflike ervaring vir my was. Ek was mal oor elke oomblik daarvan. Die menslike liggaam is eenvoudig ’n masjien soos enige ander.”

Hy het in 2017 sy meestersgraad met lof verwerf, en hy en Nair maak tans groot golwe op die biomediese ingenieursterrein.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer