Jong Saints bly op Maroons se spoor

Die vrouespan van Saints is tans die pasaangeër, terwyl die manspan ook nog onoorwonne is.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Met 'n merkwaardige terug­vegpoging het die bloedjong manshokkiespan van Saints die naweek gewys dat hy nie sommer misgekyk moet word in Bank ­Windhoek binnenshuise premierliga nie.

Saints was rustyd met 3-1 agter teen DTS, maar het stelselmatig teruggeveg om uiteindelik die telling gelykop te maak en toe in die doodsnikke met 4-3 te wen.

DTS het vroeg die voortou geneem met twee doele deur Lenard Fick, voordat Ivan Semedo ná 17 minute die eerste doel vir Saints behaal het.

Oomblikke voor rustyd was daar nog genoeg tyd vir Billy Beukes om DTS se derde op die telbord te plaas.

Saints het egter deurgaans goeie kanse op die aanval geskep en doele deur Semedo en Petrus Theron het die telling gelykop gemaak met vyf minute speeltyd oor.

Die wendoel het van Dakota Hansen gekom met net minder as drie minute speeltyd oor. DTS kon nie 'n gelykmaker vind nie en moes verslae van die baan stap en wonder waar dinge verkeerd geloop het.

• In die stryd tussen die twee studentespanne het die Universiteit van Namibië danksy sy groter ondervinding met 3-0 die knoop teen NUST deurgehaak.

Penda Nambala (2) en Mbatata Uremena het Unam se doele behaal.

• Unam was egter nie so gelukkig teen DTS nie en moes 'n nederlaag met 2-0 afsluk. Die DTS-doele het van Lenard Fick en William De Ath gekom.



VOORLOPERS BESOEK KUS

Die Mad Maroons, die A-span van Windhoek Old Boys en kampioen van 2016, het met twee groot oorwinnings die afgelope naweek sy voorsprong in die mansliga behou.

Die Maroons was die naweek by The Dome op Swakopmund in aksie, waar hulle eers Saterdag met 11-1 oor die tuisspan Sparta gestoomroller het. Die wenspan se doele is deur ­Pieter-Louis le Roux (4), Siyabonga Martins (3), Etienne de Villiers, Bucko Bartlett, Dylan Alexander en Sean McCulloch behaal. Die enkele treffer vir Sparta is deur Dewald Coetzee ingestuur.

• Sondagoggend was die Maroons ook met 8-3 te sterk vir BDO Wanderers (rustyd 4-1).

Vir Mad Maroons het Bucko Bartlett (2), Nico Jacobs, Siyabonga Martins (2), Etienne de Villiers, Riaan Kruger (2) die kol getref.

Die Wanderers-­doelskieters was Stefan du Preez en Jan-Izak de Villiers (2).

• Sparta se enigste oorwinning van die naweek was toe hulle met 4-3 die oorhand teen Windhoek Old Boys se tweede span (Burgundy Bullets) gekry het.

Die Swakopmunders se doele het van Dewald Coetzee, Meiring van der Fecht en Polito Hendricks gekom.

Burgundy Bullets se doelskieters Windzor Husselmann en Kevin Barnard het geantwoord.

• Sparta was ook heel kompeterend toe hulle net-net met 3-4 teen Wanderers verloor het. Rustyd was die gasheerspan met 3-2 voor.

Vir Wanderers het Hendrik van der Walt en Jan-Izak de Villiers elkeen twee doele behaal.

Sparta se doele het danksy Dewald Coetzee (twee) en die nasionale krieketspeler Colin Peake op die telbord verskyn.

• Wanderers het ook sy kragmeting teen WOB Burgundy Bullets met 6-0 oorheers.

Doele het agter die name van Stefan du Preez (3), Hendrik van der Walt (2) en Tian Grobler verskyn.

• Die grootste telling van die naweek was die 11-0 wat DTS teen NUST opgestapel het. Rustyd was dit reeds 7-0.

Billy Beukes (4), Lenard Fick (3), Jason Paschke (3) en Percy Barthram het in DTS se doelefees gedeel.

• Na afloop van die eerste drie naweke is die onoorwonne Mad Maroons die voorloper met 16 punte ná vier wedstryde.

Saints het drie uit drie gewen (elf punte) en word in die derde plek deur BDO Wanderers gevolg (tien punte ná vyf wedstryde). Vierde is DTS (8 ná drie), voor Unam (3), Sparta (3) en die puntelose Burgundy Bullets en NUST.



VROUE PREMIERLIGA

Saints het die naweek die voortou in die premierliga geneem deurdat die pienk-en-grys kombinasie sover elf ligapunte in hul drie wedstryde versamel het.

Tweede is die NUST studentespan (9 ná drie wedstryde) gevolg deur DTS (8 ná vyf wedstryde. Unam, Windhoek Old Boys en Wanderers het elkeen vier ligapunte.

• Die gesoute nasionale vrouekaptein Maggie Mengo was op haar stukke met vyf doele vir Unam in die groen-en-geel span se oorwinning met 7-0 teen DTS. Dit was Unam se openingswedstryd vir die seisoen.

Unam se ander twee doele is deur Ina Louis en Esther Beukes behaal, terwyl Zani van Lill vir DTS geantwoord het.

• Saints se vernuf het Saterdag vir 'n eindtelling van 9-2 teen DTS gesorg (rustyd 6-0).

Vier doele deur Kayla Schimming is aangevul met twee elk deur Melissa Gillies en Tara Myburgh en een deur Gillian Hermanus. Aan DTS se kant het Lumé Lambert en Zané van Lill die kol getref.

• 'n Enkele doel deur Natalia Haifete was genoeg vir NUST om met 1-0 teen die nuwelingspan Trustco United te wen.

Dit was NUST se tweede oorwinning van die naweek, nadat die studente ook Vrydagaand vir DTS met 4-2 oorskadu het. Vir die wenspan het Natasha Rooi (2), Fenestha Pienaar en Natalia Haifete met treffers vorendag gekom. DTS se enigste antwoord het van Megan Sadler en Lize van Wyk gekom.



VOORSTE DOELSKIETERS

Mans premierliga: 13 – Siyabonga Martins (WOBS Mad Maroons). 11 – Billy Beukes (DTS). 10 – Bucko Bartlett (WOBS Mad Maroons). 9 – Cody van der Merwe (Saints). 8 – Stefan du Preez (Wanderers). ­

7 – Ivan Semedo (Saints), Pieter-Louis Le Roux (WOBS Mad Maroons). 6 – Riaan Kruger (WOBS Mad Maroons), Dewald Coetzee (Sparta).

Vroue premierliga: 6 – Kayla ­Schimming (Saints). 5 – Maggie Mengo (Unam), Bianca Muller ­(Wanderers). 4 – Arina van Rensburg (DTS), Marcia Venter (WOBS), Zani van Lill (DTS). 3 – Anechia Cornelisse (DTS), Fenestha Pienaar (NUST), Lumé Lambert (DTS), Naike Burger (United), Natalia Haifete (NUST), Natasha Rooi (NUST), Yolanda Fourie (WOBS).

Mans eerste liga: 7 – Ruan Oosthuizen (Gurus), Willie Serfontein (WOBS). 6 – Andre Stadler (Gurus). 4 – Michael Truter (Sparta).

Vroue eerste liga: 13 – Bianca Muller (Masters). 10 – Melissa Gillies (Saints). 9 – Desiree Klemp (Saints). 6 – Caitlin Gillies (Saints), Maike Prickett (Masters).

Kommentaar

Republikein 2025-01-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 17° | 27° Rundu: 19° | 26° Eenhana: 21° | 33° Oshakati: 23° | 31° Ruacana: 21° | 33° Tsumeb: 18° | 29° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 20° | 34° Windhoek: 20° | 32° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 28° Ariamsvlei: 19° | 35° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 22° | 29° Lubumbashi: 16° | 25° Mbabane: 18° | 22° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 18° | 22° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 20° | 32° Cape Town: 18° | 24° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 17° | 26° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 18° | 28° Harare: 16° | 22° #REF! #REF!