Jong Theron en Ludwig deur Hingste vereer

Rugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die skrumskakel Jacques Theron, wat met tye ook die span se eerstekeuse stelskopper was, is as sportman van die jaar bekroon toe FNB Wanderers Vrydagaand sy jaareindfunksie vir 2021 en verwelkoming vir die nuwe seisoen gedoen het.
Theron se klubvertonings het bygedra dat hy in November vir die eerste keer vir die nasionale span se toer na die Wêreldrugby Stellenbosch uitdaagtoernooi gekies is vir die toetse teen Kenia en Zimbabwe. Hoewel Damian Stevens en Helarius Kisting as die gevestigde spelers ingespan is en hy nie speelkans gekry het nie, sou dié toer gewis goeie verdere blootstelling gewees het.
Nog ’n groot pryswenner vir die aand was die vleuel en heelagter Warren Ludwig, wat “met loshande die meeste stemme” as die Wit Hingste se spelers se speler van die jaar aangewys is.
Met sewe drieë in die klub se sewe wedstryde in die NRU premierliga het Ludwig behoorlik sy merk gemaak om te wys dat hy vir hoër louere voorberei kan word – net soos byvoorbeeld FNB Unam se voorste driedrukker vir die jaar, die senter Darryl Wellmann (6), wat toevallig een van Ludwig en Theron se spanmaats op die nasionale o.20-toer na Roemenië in 2018 was.
Wanderers se hoofafrigter Rohan Kitshoff sê: “Ek is baie bly vir beide spelers se onthalwe. Jacques was ongelukkig om nie sy in November toetsdebuut te gemaak het nie, maar ek glo daardie mylpaal sal in 2022 verwesenlik word.
“Die pryse vir Jacques en Warreen is erkenning vir die harde werk wat hulle gedurende die seisoen ingesit het. Beide is nog jong spelers met ’n blink toekoms en hulle is ’n sprekende voorbeeld van die filosofie waarin ons as afrigters glo, dat ‘goeie mense maak goeie spelers’. Ons sien uit om hulle verder te sien ontwikkel en in hul sukses te deel.”

SAKIE OM REG TE STEL
Rugbykykers weet dat die 2021 premierliga in algehele teleurstelling geëindig het en nietig verklaar is nadat drie van die semifinaliste (eers Wanderers, asook later die twee finaliste FNB Unam en FNB Western Suburbs) skuldig bevind is aan die gebruik van onkiesbare spelers, wat meestal nie amptelike vrystelling van hul vorige klubs verkry het nie.
Kitshoff het in sy bondige toespraak gesê ná die onaktiwiteit van die Covid-jaar 2020 was die afgelope seisoen steeds erg ontwrig.
“Eers was niemand seker of ’n liga sou plaasvind nie. Toe begin die liga. Toe word die liga onderbreek. Toe begin ons weer speel. Toe is ons in die finaal. Toe is ons nie meer in die finaal nie. En op die ou einde is die finaal gespeel, maar geen wenner word erken nie.
“Ons tweede span was onoorwonne en ek is steeds spyt oor wat gebeur het, want ek glo met die talent tot ons beskikking kon Wanderers beide ligas gewen het. Ons wil baie graag vanjaar doen wat ons verlede jaar nie die geleentheid gekry het om te doen nie.”
Kitshoff se afrigterspan bly ongeskonde, met Dirk Human as agterlynafrigter en die tweede span onder leiding van Pieter Rossouw en Shaun du Preez. ’n Nuwe byvoeging is Darryl de la Harpe, wat sy internasionale loopbaan as senter (2010-2019) met vyftig toetse en drie Wêreldbekers afgesluit het.

VROUERUGBY
Vir die eerste keer in die geskiedenis het Wanderers laas jaar ’n georganiseerde vrouespan as deel van die klub verwelkom, wat terselfdertyd by die prysuitdeling erken is.
Nadat hul afrigter Christel (CJ) Kotzé bevorder is om die nasionale vrouespan oor te neem, is die taak aan Janice Beukes as die nuwe hoofafrigter oorgedra. Vir die nuwe seisoen sal Angela Strappazon haar hulpafrigter wees, met Lumé Nel as spanbestuurder.
“Vrouerugby is net soos enige ander sport en enige kritici wat skeef kyk na vrouespelers moet dit maar verwerk. Ons sal nie terugstaan of op die agtergrond bly nie,” het Beukes gesê.
“Sommige spelers het laas jaar bloot rugby begin speel om fikser te word en het aangebly en uiteindelik tot in die nasionale span gevorder. Ons het vordering gemaak en die sportklub het ons verwelkom.”
• Namens die rugbyklub se bestuur het Attie Samuelson, visepresident vir bestuursake, gesê Wanderers word vanjaar reeds 102 jaar oud en het vanweë die Covid-ontwrigting nog min kans gehad om die eeufees behoorlik te vier.
“My ervaring van Wanderers vandat ek in 1998 as skoolseun hier begin krieket en later rugby speel het, is dat die klublede soos ’n familie by jou staan. Ja, ons kan stry en mekaar afknou, maar as die nood druk, is jou familie daar om agter jou te staan.
“’n Sportloopbaan is maar kort, maar die goeie tye en opoffering en vriendskappe en kennisse kan jou in jou hele sakelewe tot voordeel wees.”
• Wanderers se ander pryswenners vir 2021:
Tweede span, beste vordering: Erik Strauss (losvoorspeler).
Tweede span, speler van die jaar: NG Swart (losvoorspeler).
Junior speler van die jaar: Johan Zaayman junior (losskakel).
Mees lojale speler: Ryan Coetzee (vleuel).
Mees toegewyde speler: Bredell Wessels (senter).
Mees bestendige speler: Rico Lategan (senter).
Agterlynspeler van die jaar: Warren Ludwig (vleuel).
Voorspeler van die jaar: Driaan Vorster (flank).
Ontluikende speler van die jaar: Herschelle van Wyk (stut).
Ondersteuner van die jaar: Manfred van Wyk.
Junior vrouespeler van die jaar: Ida Visagie.
Mees toegewyde vrouespeler: Lourencia Rooinasie.
Ontluikende vrouespeler van die jaar: Mandie van Staden.
Vrouespeler van die jaar: Astrid van Lill.
Span van die jaar: Wanderers se tweede manspan het die jaar onoorwonne afgesluit.


FOTO’s Andrew Poolman
Jacques Theron (sportman van die jaar) en Warren Ludwig (spelers se speler van die jaar).

By FNB Wanderers se prysoorhandiging vir 2021 staan agter van links Willem van Zyl (voorsitter), Herschell van Wyk, Driaan Vorster, Lourencia Rooinasie, Erik Strauss, Mandie van Staden en Ida Visagie. Voor is NG Swart, Ryan Coetzee, Jacques Theron, Johan Zaayman junior en Warren Ludwig.

Astrid van Lill was in November een van die losvoorspelers op die reserwebank vir die vrouetoets teen Zambië.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!