Jonger bloed laat pot prut
Jonger bloed laat pot prut

Jonger bloed laat pot prut

'n Opvolgplan was waarskynlik nie die hoofoorweging toe die naamlys beslis is van mense wat moontlik die meerderheid van die land se wetmakers gaan uitmaak nie.
Denver Kisting
Denver Kisting



'n Onrusbarende kenmerk van die afgelope naweek se Swapo-kieskollegelys – waaruit sy lede vir die Nasio­nale Vergadering (NV) sal spruit, is die teenwoordigheid van korrupte individue.

Só het die politieke kenner mnr. Graham Hopwood gister by navraag gesê.

Hy is veral besorg oor mnr. Tobie Aupindi, die oud- uitvoerende hoof van Namibia Wildlife Resorts in die 29ste posisie.

“Marina Kandumbu verskyn ook weer op die lys ondanks haar skuldigbevinding aan korrupsie.”

Hopwood meen die oudminister van onderwys, kuns en kultuur, Katrina Hanse-Himarwa, wat onlangs ook aan korrupsie skuldig bevind is, se kanse is waarskynlik skraal om terug te keer parlement toe omdat sy 'n lae plek op die lys behaal het.

“Maar dit is kommerwekkend dat haar naam enigsins verskyn. Die boodskap blyk te wees dat korrupsie binne Swapo-geledere geduld word,” sê hy.

Hy reken die lys behoort pres. Hage Geingob, wat ook Swapo se president is, se goedkeuring weg te dra.

“Dit word oorheers deur sy ondersteuners en hy kan nou sommige van hulle wat swak gevaar het, deur die 10 benoemdes of selfs volgende jaar met sy agt niestemgeregtigde keuses vir die NV 'red'.”

Geingob mag 10 mense op die partylys plaas.

Hopwood is van mening die klok het gelui vir faksiepolitiek wat voor die party se 2017-kongres aan die orde van die dag was. Hy skryf dit toe aan “Span Swapo” se nederlaag die afgelope naweek.

Die anti-Geingob-kamp se voorbokke, mee. Pendukeni Iivula-Ithana, Martha Tilahun-Namundjepo en die oudjeugleier dr. Elijah Ngurare, het die naweek glad nie waffers gevaar nie.



'Opvolging nie boaan agenda'

Volgens die oudjoernalis, boer en politieke kenner mnr. Christof Malet­sky het afgevaardigdes by die afgelope naweek se Swapo-kieskollege nie te sterk op opvolging gefokus nie.

Oor wat as die “Swapo-pot” bekend staan, meen Maletsky dit lei deurgaans tot twee uiterstes.

“Dit kan jou óf nederig maak óf sodanig hoop gee jy sal begin droom daarvan om jouself binne die party se binnekringe te vestig.”

Maar, maan Maletsky, “moet nooit te veel in die uitslae van die kieskollege lees nie. Ons het al mense boaan die pot gesien en vyf jaar later het hulle in die niet verdwyn. Dit is die mag van blokstemmery. Wanneer 'n seëvierende blok 'n groep individue identifiseer en teiken, word amper in die geheel van hulle ontslae geraak wanneer hulle wen.”

Volgens hom is dié tendens al vir jare die werklikheid.

“Diegene wat as neutraal beskou word, vind normaalweg baat by die proses en eindig boaan die lys. Maar dit is tot hulle hul plan verklaar om vir topposisies te skiet.”

Maletsky sê sodra mense dít kommunikeer, word hulle so te sê geïsoleer.

“Die geheim is om Swapo te preek en net Swapo. Nie kampe nie.”

Hy sê dié “dobbelspel” het verreikende gevolge.

“Soms kom dit 'n mens duur te staan en ander tye is die vreugde oorweldigend. En dit het niks met eenheid soos dit rondgeslinger word, te doen nie.” Geingob het Saterdag tydens die opening van die pot gesê die uitslae daarvan het nie net 'n impak op die party se politiek nie maar ook op dié van die land in sy geheel.

Mnr. Austin Samupwa, die uitvoerende direkteur verbonde aan die kantoor van Swapo se sekretaris-generaal, het gisteroggend aan Republikein gesê die kieskollege het by 'n plaaslike hotel tussen middernag en 01:00 ten einde geloop.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!