Jonger byvoegings vir toernooi in Oman

Die ervare Christi Viljoen is weggelaat vir die Namibiese Eagles se eerste toer van die nuwe jaar.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die Namibiese krieketspan vertrek vandag na die kusstad Al Amarat in Oman, met 'n vasberadenheid om op sy momentum van die afgelope maande voort te bou.

Oman is die gasheer vir 'n driehoekige toernooi van internasionale eendagwedstryde (50 boulbeurte) waaraan Namibië en die Verenigde Arabiese Emirate ook deelneem.

Dié minitoernooi is deel van die Internasionale Krieketraad (ICC) se Wêreldbeker Liga 2-reeks vanaf 2019 tot 2022, waarin sewe lande meeding in die opbou na die 2023 Wêreldbeker vir eendagkrieket.

In September verlede jaar se eerste minitoernooi in Florida het kaptein Gerhard Erasmus en sy Namibiese Eagles hul openingswedstryd teen die Amerikaners verloor, maar het daarna op dreef gekom en hul oorblywende drie gewen (die herontmoeting teen die VSA, asook beide wedstryde teen Papoea-Nieu-Guinee).

Die volgende maand het die Namibiërs 'n onvergeetlike geskiedkundige toer na Dubai onderneem, waar hulle een van die ses kwalifiserende plekke vir die T20 Wêreldbekertoernooi later vanjaar in Australië beklink het, deur vierde te eindig.

Oman het ook dié T20-mylpaal bereik, maar die VAE se moedige span kon net-net nie die ontwrigting oorkom wat deur die skorsing van 'n paar topspelers weens 'n wedstrydknoeiery-skandaal veroorsaak is nie.

Die Emirate het in middel Desember die mees onlangse Liga 2-minitoernooi in Dubai aangebied, waar hy twee keer teen die VSA verloor het. Die Emirate het wel een wedstryd teen Skotland gewen, nadat hul eerste ontmoeting uitgereën het.

Die Namibiese afrigters Pierre de Bruyn en Albie Morkel sal hoop dat soveel as moontlik van die momentum van die vorige twee toere voortgesit kan word om ligapunte teen die twee Midde-Oosterse krieketlande in te samel.

Gedurende November en Desember het die Namibiërs min kompeterende krieket afgesien van klubwedstryde gespeel, hoewel die spelersgroep steeds aan die gang gebly het, onder meer met 'n fiksheidsprogram onder leiding van die biokinetikus Michiel Greeff.



VERANDERINGE

Die linkerarm draaibouler Zhivago Groenewald asook die naatboulers Christi Viljoen en Tangeni Lungameni is drie gereelde staatmakers wat ná die vorige twee toere hul plekke moes afstaan.

“Zhivago het 'n skeur in sy knieligamente opgedoen en sal later vandeesmaand geopereer word, wat beteken dat hy vir omtrent nege maande buite rekening sal wees. Dit is vir ons en vir hom 'n terugslag, maar ons hoop dat hy spoedig sal herstel,” het De Bruyn gister aan die koerant verduidelik.

“Die keurkomitee voel dat Christi in die vorige twee toernooie nie die gehalte spel gelewer wat ons van hom verwag nie, soos sy statistieke ook uitwys. Tangeni is ook weggelaat en die keurders voel hy moet harder druk vir 'n plek in die groep.

“In die groep van 14 spelers gee ons dus blootstelling aan (die 18-jarige naatbouler) Jan-Izak de Villiers, tesame met Nicol Loftie-Eaton (19 jaar, linkshandige middelkolwer en regterarm draaibouler) en Mauritius Ngupita (19, regterarm draaibouler).

“Ons voel die tyd is reg om hulle die ondervinding van so 'n toer te bied, want hulle is belangrike spelers vir die toekoms.”

De Villiers, Loftie-Eaton en Ngupita was almal in 2018 spanmaats van Namibië se laaste deelname aan die o.19 Wêreldbeker in Nieu-Seeland. Al drie sal hoop om soos nóg 'n des­tydse spanmaat, die snelbouler Ben Shikongo, die volgende tree op senior vlak te vorder.

Shikongo het gedurende die T20-reeks in Dubai sy speelkanse op belowende wyse aangegryp.

De Bruyn is deeglik bewus dat Oman en VAE beide 'n krag is om mee rekening te hou, veral in hul agterplaas waarvan Namibië nog geen vorige eerstehandse belewenis het nie.

“Draaiboulers behoort onder daardie omstandighede in spel te kom en ons reken ons het 'n goeie kans om te presteer.

“Ons het die afgelope vyf weke nie baie krieket gespeel nie, maar ons het nogtans intensief geoefen, afgesien van die paar dae oor Kersfees en Nuwejaar wat die manne met hul families kon deurbring. Die wegbreek was welkom om weer varsheid te kry nadat ons omtrent die hele September en Oktober op toer was.”

Die Namibiese toerspan: Gerhard Erasmus (kaptein), Jan Frylinck (onderkaptein), Zane Green (paaltjiewagter), Stephen Baard, Ben Shikongo, Pikky ya France, JP Kotzé, Nicol Loftie-Eaton, Craig Williams, JJ Smit, Karl Birkenstock, Bernard Scholtz, Mauritius Ngupita, Jan-Izak de Villiers.

• Die wedstrydbepalings van die mini-toernooi in Oman (verwagte begintye in Namibiese tyd):

Sondag 5 Januarie: Oman tn Verenigde Arabiese Emirate (07:30)

Maandag 6 Januarie: Namibië tn Verenigde Arabiese Emirate (07:30)

Woensdag 8 Januarie: Oman tn Namibië (07:30)

Donderdag 9 Januarie: Oman tn Verenigde Arabiese Emirate (07:30)

Saterdag 11 Januarie: Namibië tn Verenigde Arabiese Emirate (07:30)

Sondag 12 Januarie: Oman tn Namibië (07:30)

• Namibië se eerste aanbieding van 'n minitoernooi is in April vanjaar, met Nepal en Skotland as die besoekers. Dieselfde drie lande ontmoet in Junie weer – dié keer in Skotland.

In September is Windhoek die speelplek vir Namibië, Papoea-Nieu-Guinee en die VSA. Die laaste minitoernooi van die jaar wag in Desember met die VAE as gasheer vir Namibië en Oman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer