Jonges klim vroeg die leer in landbou
Twee jong plaaskinders, die een nog op skool en die ander een pas klaar met skool, wys daar is groot talent onder die landbouers van die toekoms.
Ronelle Rademeyer - Al die gesoute boere wat hierdie artikel lees, sal saamstem hierdie twee jong Namibiërs se koppe is reg aangeskroef as dit by boerdery kom.
Jürgen-Leigh Human (18) wat op ’n plaas by Gobabis grootgeword het en in Windhoek skoolgaan waar hy binnekort sy graad 12-eindeksamen sal skryf, is die eienaar van die Whaddon Limousin-stoet wat gereeld die nuus haal oor verskeie prestasies.
Suide se kant toe het Sandri Steenkamp (19) pas die heel eerste gekwalifiseerde vroulike afslaer in Namibië geword. Sy boer tans saam met haar pa, Johnnie Steenkamp, op die Kalkplato by Mariental.
Vertel Sandri: “My liefde vir boerdery het ek geërf by my oupa, Piet Kat. (Oom Piet Steenkamp is verlede jaar weer aangewys as die beste Swakara-boer ter wêreld.)
“Hy het my van kleins af geleer hoe om te doseer, te plaat en kastreer. Toe ons uiteindelik in 2006 na ons eie plaas getrek het, kon ek al die kennis toepas, hoewel ek eintlik nog klein was.
“Van toe af boer ek en my pa skouer aan skouer. Dit is baie beter om dinge so prakties te leer, want baie van hierdie goed kan boeke jou nie leer nie,” sê sy.
Sandri het verlede jaar aan die Hoërskool Stellenbosch gematrikuleer. “Ek het goeie punte behaal en die opsie is aan my gegee om enigiets te gaan studeer, maar niks en niemand kon my oortuig nie. Ek het teruggekom plaas toe, want boer wou ek boer,” sê dié jong vrou in wie sy are die liefde vir boerdery bruis.
Omstandighede laat ’n mens egter nie altyd toe om te doen wat jy wil nie en Sandri het besluit om haar tog maar te bekwaam in ’n rigting wat haar sal toelaat om ’n inkomste te verdien en terselfdertyd tussen diere en tussen die boere te kan wees.
Daarom het sy ingeskryf vir die afslaerskursus by die Suid-Afrikaanse Afslaerskollege in Durbanville.
Die kursus sluit alles in: van eiendomme tot losgoed en lewendehawe.
“Daar het ek alles geleer van wat dit behels om ’n afslaer te wees. Ek het my diploma verwerf en onwetend Namibië se eerste vroulike gekwalifiseerde afslaer geword,” vertel sy.
“Die grootste uitdaging tans is om in die sogenaamde ‘manswêreld’ aanvaar te word en geleenthede te kry
“Aangesien dit maar moeilik is om my voet in die deur te kry, het ek ook besluit om later in die jaar ’n Pastelkursus te doen, wat my weer kan help met die finansiële sy van die boerdery.
“Verder gaan ek van 27 tot 31 Augustus (vandeesweek) ’n Dorperkursus op Stampriet doen Ek wil graag my kennis so ver as moontlik uitbrei, met die hoop dat ek eendag dalk my eie boerdery kan hê.”
Sandri sê daar is soveel mense in haar familie wat boer, en wat goeie boere is, dat sy baie goeie raad en leiding van hulle kan kry. “Ek wil graag gebruik maak van hierdie geleenthede.”
Nadat sy die afslaerskursus voltooi het, het die Kalkplato Boerevereniging waar hulle ingeskakel is, ’n funksie gehou en om geld in te samel en verskeie items en jagpakette is opgeveil.
“Hulle het my die geleentheid gegee om daarvan op te veil en dit was my eerste keer dat ek as afslaer kon optree. (Kyk die video.)
“Hoewel dit maar baie senutergend was, het ek dit geniet en het ek besef dat dit werklik iets is wat ek graag sal wil doen.
“Ek sal daarvan hou om eers op ’n vryskutbasis te werk, maar wil, sodra ek al my dokumente reg het, begin aansoek doen vir ’n werk.”
Tot dan, sê sy, boer sy en pa Johnnie saam en leer sy elke dag nuwe dinge wat haar eendag kan help.
STOETBOER
Geen wonder Jürgen-Leigh Human (18) se skoolmaats noem hom reeds van jongs af “Bees” nie.
Dit is omdat dié “sagmoedige reus” wat kan plettervat op die rugbyveld en op die atletiekveld in die worpe-items die rekords laat spat, van kleintyd af elke jaar saam met pa Hannes geskou het.
’n Ongekende prestasie het pas weer dié jong Limousinteler van Namibië te beurt geval.
Sy koei, Penny, het die Landbounavorsingsraad (LNR) in Suid-Afrika se 2018 Nasionale Beste Elite Koei-toekenning vir die Limousin-ras verower. Dit is die derde keer in vier jaar dat hierdie prestasie deur hom behaal word en dít met drie verskillende koeie.
“Wat die prestasie so besonders maak, is dat Namibiese diere moet meeding met Suid-Afrikaanse diere waarvan baie op oesreste en aangeplante weidings floreer terwyl plaaslike boerderyomstandighede baie meer ekstreem is,” vertel sy pa, dr. Hannes Human.
Die LNR se diereproduksie-afdeling maak jaarliks toekennings aan die Beste Elite Koei in ’n ras. Hierdie toekennings en die gepaardgaande trofeë word geborg deur Farmer’s Weekly en word gedoen aan koeie van alle rasse, ongeag van watter diensverskaffer (LNR, SA Stamboek of Breedplan) die betrokke telersgenootskap gebruik maak vir registrasie, prestasietoetsing en teelwaardeberamings, verduidelik Hannes.
Die LNR Nasionale Beste Elite Koei-trofeë word op Vrydag 28 September tydens die LNR se Nasionale Vleisbeespresteerders se toekenningsgeleentheid by die LNR se hoofkantoor in Pretoria oorhandig.
Dit is ongelukkig dieselfde dag waarop Jürgen-Leigh, onderhoofseun van die Windhoek Afrikaanse Privaatskool, sy matriekafskeid het. Hy sal dit dus nie kan bywoon nie.
PENNY
“Penny is steeds op die plaas en dra ook die titel as oudste op die werf,” vertel Hannes.
Sy is gedurende 2000 ingevoer na Namibië as deel van groep van vyf verse wat die Humans by Mike Fitzhenry van Indwe in Suid-Afrika gekoop het.
Haar vader was die bekende Vergesigte Villy Genoeg 92-195.
Penny word binnekort 19 jaar oud en is steeds in goeie kondisie.
’n Klein terugslag het haar ’n maand gelede getref toe haar stertkwas afgesit moes word deur ’n plaaslike veearts toe ’n kankeragtige gewas daarop ontdek is.
Só lyk haar inligting:
Naam Penmick MR 99.47 (Penny)
Geboortedatum: 31/10/1999
Tussenkalfperiode: 339 dae
Dae van laaste kalwing: 223 dae
Aantal kalwers: 18 en dragtig met nommer 19
Bulkalwers: 13
Verskalwers 5
Haar titels sluit in:
· Limousin Superkoei – Windhoek Skou
· Select Cow – Gobabis Skou
· Select Cow en Wenner van die Queens Cup – Windhoek Skou
· Limousin Koei van die Jaar - 2018

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie