Jongste spanlid nóg vir o.20-aanslag

Die toerspan word deur die hardwerkende Blou Bulle-flank Prince !Gaoseb aangevoer.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Namibië se junior rugbyspan is gister bekend gemaak wat vroeg Donderdagoggend na Uruguay sal vertrek.

Afrigter Roger Thompson het sy vertroue in die 18-jarige senter van Windhoek Hoërskool, Elmarco Beukes, gewys met insluiting in sy finale groep wat in Wêreldrugby se Junior Trofee-toernooi in Montevideo gaan deelneem.

Sover bekend is die 18-jarige graadelfskolier Beukes die jongste lid wat nóg vir een van Namibië se o.20 Junior Trofee-aanslae gekies is.

Gewoonlik geld 'n tydgleuf van twee kalenderjare waarin 'n speler as onder 20 geklassifiseer word. Hoewel Wêreldrugby se regulasies voorsiening maak dat 'n jonger speler met die toestemming van sy ouers ingesluit mag word, het Namibië tevore nog nooit hiervan gebruik gemaak nie, het die jarelange voormalige o.20-bestuurder mnr. Gabriel Tjombe gister aan die koerant bevestig.

Beukes het laas naweek opnuut sy vlugvoetigheid uitgestal toe hy vier drieë vir Samsung WHS teen JCC/KMC Windhoek Affies gedruk het om as topspeler by die Momentum nasionale skolefinale aangewys te word.

Dit was opnuut 'n uitstalling van hoe goed hy met sy ewe jong Cravenweek-vennoot Justin Muir kombineer. Volgens Thompson sal die jongeling egter in selfs beter kombinasies ingespan word indien hy op die toer speelkans kry.

“Ons ander drie senters speel Varsitybeker en Sharks o.21 en premierliga klubrugby vir Western Suburbs en het dus genoeg ondervinding.”

Die spankaptein, die flank Prince !Gaoseb, het in sy kort spreekbeurt aan die media tydens die span se aankondiging by die Namibiese Sportkommissie gesê hy het volle vertroue in die groep se voorbereiding, wat steeds tot die begin van die toernooi sal voortduur.

“Almal verwag dat ons in die toptwee of -drie posisie in die toernooi behoort te eindig en dit is inderdaad ons mikpunt ook. Met die talent tot ons beskikking sien ek ook geen rede hoekom ons nie aan hierdie strewe sal kan voldoen nie.”

!Gaoseb is een van vier spanlede wat aan die Blou Bulle se o.20 Curriebeker-span verbonde is. Die ander is sy medeflank Peter Diergaardt, die skrumskakel Jay-C Olivier en die vleuel Luke Jansen.

Die Sportkommissie se hoofadministrateur, mnr. Freddy Mwiya, het verwysend na die spelers se lengte en gespierde liggame geskerts dat die volgende keer wanneer hulle op 'n welwillendheidsbesoek kom, 'n gemsbok geslag behoort te word.

Op 'n ernstiger noot het Mwiya die span aangemoedig om in die voetspore te volg van die senior nasionale span, wat vanjaar weer die Afrikabeker-reeks oorheers het.

Twee lede van die o.20-span het inderdaad in van hierdie senior Afrika-bekertoetse gespeel, naamlik die haker Obert Nortjé en die losskakel en onderkaptein, Cliven Loubser.

Nog twee, die stut Nelius Theron en vleuel Colins Omalu, het ondanks hul jeugdigheid speelkans in die provinsiale SuperSport-reeks gekry.

Mwiya het die Namibië Rugby-unie geloof vir sy program om jong spelers met sulke o.20-toernooie op die pad te hou om uiteindelik Namibië se Wêreldbeker-vertonings te help versterk. Hy het die Unie ook gelukgewens in sy vordering met transformasie: “Dit is duidelik dat mense in elke uithoek van die land rugby ondersteun.”

Die nasionale o.20-toergroep is:

Heelagters: André van der Berg, PW Steenkamp.

Vleuels: Collins Omalu, Luke Jansen.

Senters: Tristan Mouton, Alastair Miller, Elmarco Beukes, Brandon Groenewald.

Losskakel: Cliven Loubser (o.kapt)

Skrumskakels: Jay-C Olivier, Wihan von Wielligh.

Losvoorspelers: Riaan de Klerk, Peter Diergaardt, Prince !Gaoseb (kapt), Tjingari Katjivi, Oderich Mouton.

Slotte: Rheinhardt Carelse, Le Beau du Preez, Adriaan Ludick.

Hakers: JT Basson, Obert Nortjé.

Stutte: Allie Emamdien, Gerhard Opperman, André Rademeyer, Patrick Schickerling, Nelius Theron.

Die groep sal deur mnre. Irvin Newman (spanbestuurder), Jood Opperman (hulpafrigter), me. Dominic le Roux (sportwetenskaplike), Sergio de la Harpe (krag en kondisionering), dr. Wilfred Bezuidenhout (spandokter) en Armand von Wielligh (tegniese ontleder) vergesel word.

Namibië is gegroepeer om eerste teen Kanada op 29 Augustus, Chili vier dae later en daarna Japan te speel, voor die laaste uitspeelwed­stryd vir hul eindposisie.

Die Junior Trofee se groot prys vir die kampioenspan is dat dié nasie die volgende jaar na die o.20 wêreldkampioenskap bevorder word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!