Jooste skors Nida-raad
Die minister sê die optrede volg nadat 'n ondersoek na Nida “ernstige tekortkominge en kwessies in terme van voldoening aan die wet” ontbloot het.
Elvira Hattingh
Die huidige raad van direkteure vir die agentskap vir nywerheidsontwikkeling in Namibië (Nida), is gevra om hul kantore te ontruim en is die afgelope Maandag met tydelike direkteure vervang.
Mnr. Leon Jooste, die minister van staatsondernemings (SOE's), het gister die skorsings aangekondig.
Hy sê die besluit volg nadat sy kantoor 'n ontleding van Nida se voldoening aan wetgewing gedoen het.
“Ongelukkig het die ontleding op ernstige tekortkominge en kwessies in terme van voldoening aan die wet afgekom, met die relevante dokumentasie wat óf vermis was, óf nie bestaan het nie.
“Nida ervaar boonop talle bestuurs- en operasionele uitdagings wat die maatskappy in oneer gebring het,” lui 'n mediaverklaring deur Jooste.
“Om regverdig teenoor die raad te wees, het ek hulle versoek om gesamentlik en individueel die relevante dokumente of redes aan my te verskaf hoekom ek hulle nie moet vra om hul kantore te ontruim nie.
“Die raad het wel gereageer, maar my kantoor was nie tevrede dat hulle hul vertrouensverpligtinge nagekom het nie.
“Daarom het ek, as die relevante minister in terme van die wet, die raad ontslaan en dit is onmiddellik van krag.
“Ek het ook besluit om 'n tydelike raad vir ses maande aan te stel, totdat 'n nuwe een aangestel kan word,” het Jooste gesê.
Die tydelike raad van direkteure is mnr. Lionel Matthews (voorsitter), me. Twapewa Kadhikwa (adjunkvoorsitter), me. Beata Muteka, mnr. Sikongo Haihambo, me. Esmerelda Katjaerua en mnr. Floris Fleermuys.
Hul termyn duur vanaf 28 September 2020 tot 28 Maart 2021.
AGTERGROND
Die Nida-raad is in 2018 deur die voormalige minister van nywerheidsake en handel, mnr. Tjekero Tweya, aangestel.
Vroeër vanjaar was Nida in die nuus toe “anonieme werknemers” talle bewerings van korrupsie en wanbestuur teen die raad gemaak het.
Die werknemers het in Maart briewe aan pres. Hage Geingob gerig, en ook op 22 Julie aan die minister van nywerheidsontwikkeling en handel, me. Lucia Iipumbu, waarin talle beweerde ongerymdhede en onetiese praktyke uitgelig word.
Dié klagte sluit in dat buitensporige regskoste glo aan 'n spesifieke regspraktyk vir sekere dienste betaal word, terwyl vrae gevra is oor geld wat vir die verkryging van stuifmeel vir dadelboorde by die Naute-besproeiingsplaas en Eersbegin-dadelplaas betaal is.
Die direkteure het agterna op 'n nuuskonferensie skerp gereageer en gesê die aantygings teen hulle is onwaar, verraderlik en lasterlik en het die doel om die regering en die publiek te mislei.
Hulle het bygevoeg dit is die “nuutste poging om Nida se naam in oneer te bring” en 'n “mislukte afpersingspoging deur minstens drie individuele personeellede, soos dit aan die raad deurgeskemer is”.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie