Jou lappieskombers vir die nuwe jaar
Toe ek vroeër vandeesmaand die Kersboom in my kop afstof, was dié maar bra verlep: Futloos in die vooruitsig op nóg 'n kommersiële geklingel in die Seisoen van die Lewe waaruit ons stelselmatig reeds amper die laaste druppel bloed getap het.
'n Mens se kop is g'n bêreplek vir 'n Kersboom nie. Dit hoort in jou hart, herinner die see van stemme om die vuur my met die intrapslag by die familie se kuierplek op Swakop.
Van heinde en verre het hulle gekom. Sommige ge-4x4 deur die Namib, ander gevlieg. 'n Paar padlangs van Windhoek, waar die gejaagde lewe ons amper vreemdelinge maak.
Soos hoogwaterbranders is die gesels. Sonder ophou. Waar die een stop, vertel die ander verder. Val in die rede, onderbreek met 'n geskater. Dié wat in ander lande sit, kuier deur die kuber saam. Die geruis van stories sus jou. Laat jou geborge voel.
Samesyn het nie woorde nodig nie, besef jy as die kole kouerig raak en die gety van gesels bedaar. 'n Kyk, wenkbrou of glimlag spreek boekdele. So ook 'n sagte hand op jou skouer. 'n Stywe drukkie wat langer duur as wat jy verwag het.
In jou hart hoef jy jou Kersboom nooit weg te pak nie. Dis 'n stamboom met familie as presente. Wat in rolle en rolle blinkoog-geskenkpapier toegedraai is. Waarvan jy telkens nóg 'n lagie versigtig kan afdop om nóg van die mens binne te ontdek.
Onder jou stamboom groei die mos van die liefde welig. Jong liefde en ou liefde. Liefde wat saam reeds sewe sakke sout opgeëet het en nie skrik vir die agtste of selfs die honderdste nie. Onbeholpe, maar onvoorwaardelike liefde van die jongspan wat nog die diepste dieptes van die liefde moet verken.
Onder jou stamboom hou jy op die lappieskombers van familie piekniek. Kan jy vir ure na die kaleidoskoop van lappies tuur. Jou verwonder aan die eenheid van framboos rose, bababloue, pastel romerigheid en magiese turkoois. Dankbaar wees vir die sterk rooi, kobalt en smaraggroen. Giggel oor die boheemse pers en hippie-oranje plek-plek. Met deernis oor die rebelse grysswart hier en daar streel.
Daar's blomme en kolle en blokkies en paisley. Strak lyne en presiese geometriese patrone. Egalige blertse effekleur vir ewewigtigheid. Fluweel, jannas en hemp. Duursame linne en koel katoen. Growwe goiing, ongebleikte linne en ragfyn sy.
Lappieskomberse is hóúgoed. Torring jare se wegwees en kontinente se afstand van die blokkies los, ryg die liefde dit in 'n japtrap weer mooi vas.
Dit is nooit té klein nie. Daar is altyd plek om meer en nog lappies aan te las. Sodat dit groot genoeg is om álmal in die krimisbed warm te hou.
Die bed waarin oupagrootjies verhale van die stamboom se wortels vertel sodat hulle nimmer vergeet word nie. Waar ma's en pa's stories vol wysheid oordra. Die jonges hul ouers oor die nuwe wêreld leer. Kinders se onskuld almal herinner om in drome te bly glo. Waar ouma's slaapsprokies uit boeke met vergeelde blaaie voorlees. Oumagrootjies wiegeliedjies neurie.
In die krimisbed is daar baie plek. Onthou ons om met mirre, wierook en goud dankie te sê. Hou ons middernagfees met brood en wyn.
In die doodsnikke van 2019 het ek opnuut besef hoe geseënd ek is om 'n lappieskombers te hê. Hoe kosbaar dit is en hoe mooi 'n mens dit moet koester.
Mag familie elkeen van ons se koplig in 2020 se doolhof wees!

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie