Jou testament: Wat kan skeefloop?
Om intestaat te sterf, kan ‘verkeerde’ mense laat erf en ander onterf.
Hanlie Stadler - Testamente wat betwis word, het al menige nuusopskrif gehaal.
’n Testament moenie daaroor gaan dat jy in beheer wil bly van jou aardse besittings nie. Inteendeel: Dis jou laaste kans om seker te maak jou geliefdes is na die beste van jou vermoë finansieel versorg.
Jy maak ook seker jou geliefdes hoef nie, te midde van hul hartseer oor jou dood, deur die administratiewe nagmerrie te gaan wat hom kan afspeel as daar geen testament is nie.
“Testamente is nie net vir mense wat eiendom besit, getroud is of kinders het nie. As jy ’n bankrekening, kredietkaart, handelsrekening, belastingnommer, huurkontrak, mediese fonds, lewenspolis of beleggings, ’n motor of studieskuld het, moet jy eerder ’n testament laat opstel,” reken Charné van der Walt, ’n finansiële raadgewer van Stellenbosch.
Enigeen van 16 jaar of ouer wat verstandelik daartoe in staat is, mag in Suid-Afrika ’n testament opstel.
Selfs vir ’n eenvoudige boedel, met ’n testament wat nié betwis word nie, duur dit minstens ses maande om ’n boedel af te handel.
Jy kan jou lewensmaat en stiefkinders wat jy help grootmaak het, onterf as jy nie ’n testament nalaat nie.
As jy geen testament het nie, moet die meester van die hooggeregshof eers ’n eksekuteur aanwys – en dit gaan ’n vreemdeling wees wat nie jou familie of jou omstandighede ken nie. Dan moet doodseker gemaak word watter eiendom, beleggings en polisse jy besit, aan wie jy geld skuld, wie van jou inkomste afhanklik is en wie jou potensiële erfgename is – alles dinge wat makliker sou wees indien jy ’n testament gehad het.
Krediteure – mense en instansies aan wie jy geld skuld – staan altyd eerste in die ry, voordat enige boedel beredder kan word.
Tweede word finansieel voorsiening gemaak vir mense wat geregtig is op onderhoud. Dit sluit in minderjarige kinders (jonger as 18 jaar), gestremde kinders (ongeag hul ouderdom) en jou huweliksmaat in die geval van heteroseksuele egpare, of jou lewensmaat in ’n langtermyn- homoseksuele verhouding.
As jy nie ’n testament het nie, het jy ook nie voogde vir jou minderjarige kinders benoem nie. Die hof moet dan met die hulp van ’n maatskaplike werker en in oorleg met jou familie besluit wie hulle grootmaak.
Nadat skuld gedelg is en afhanklikes versorg is, word jou bates verdeel ingevolge die Wet op Intestate Opvolging, wat as volg bepaal:
· As jy getroud is, maar geen kinders het nie, erf jou gade alles.
· As jy kinders het, maar minder as R250 000 nalaat, erf jou gade ook alles.
· As jy meer as R250 000 nalaat, sal jou gade en kinders erf. Die gade moet minstens R250 000 erf en wat oorbly, word onder die kinders verdeel. As die boedel groot genoeg is, word alles gelykop verdeel. Aangenome en buite-egtelike kinders het presies dieselfde reg om te erf as kinders wat in ’n huwelik gebore is; stiefkinders erf egter nié outomaties nie.
· As jy nie getroud was of kinders gehad het nie, gaan jou geld en besittings na jou ouers. As net een van jou ouers nog leef, word die boedel gelykop verdeel tussen jou oorlewende ouer en jou broers en susters.
· As jou ouers nie meer leef nie, gaan jou boedel na jou broers en susters.
· As jy geen broers of susters het nie, word die volgende naaste bloedverwante gesoek, dus ooms en tannies en neefs en niggies.
· As hoegenaamd géén bloedverwante gevind word nie, word jou geld in die Voogdyfonds belê. As geen familie binne 30 jaar opdaag om iets te eis nie, gaan die regering dit kry.
Dié opsomming is vereenvoudig. Daar is nog heelwat aspekte wat dit ingewikkelder kan maak, soos in die geval van mense met meer as een lewensmaat of mense in tradisionele huwelike.
Nes jy mense vir wie jy omgee, potensieel kan onterf as jy nie ’n testament het nie, kan dit meebring dat die “eks” van wie jy nooit amptelik geskei is nie, kinders van wie jy vervreem is of selfs niggies en nefies wat jy nog nie ontmoet het nie, erf. Jy weet nie wat die toekoms inhou en wie voor jou gaan sterf nie.
* Dié artikel is in leketaal geskryf en probeer nie al die wetlike fasette van testamente uitlig nie. Maak seker jy nader sowel ’n regskenner as ’n finansiële beplanner wanneer jy ’n testament opstel – en moenie uitstel nie. Hoewel dit 100% seker is dat jy “eendag” doodgaan, weet jy nie 100% wanneer nie. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie