Judina groet net ná Kersfees

Elf mense het reeds gesterf weens beserings wat hulle opgedoen het toe 'n gasbottel sowat drie maande gelede op 'n plaas naby Dordabis ontplof het, met 'n driejarige wat steeds in die hospitaal behandel word.
Yochanaan Coetzee
Yochanaan Coetzee



Die tragiese gasbottelontplof­fing­ wat tien familielede op Plaas Garib by Dordabis gedood en talle ander met ­ernstige brandwonde gelaat het, het op Maandag 26 Desember nóg 'n slagoffer geëis.

Judina Naugaweses (14) het op 19 Desember haar verjaardag saam met haar familie met koek en baie liefde in die hospitaal gevier. ­Kersfees ook, en die familie het daarna uitgesien om die nuwe jaar, en die nuwe hoop wat dit bring, saam aan te pak.

Ongelukkig kon dit nie so wees nie. Judina het verlede Maandag die stryd gewonne gegee teen die brandwonde wat sy op 80 persent van haar liggaam opgedoen het.

“Daar is nie woorde wat dit kan beskryf nie.

“Dis oorweldigend, maar ons glo die Here het geweet wat die beste vir haar sou wees,” het Judina se ma, me. Maria Naugaweses,­ Vydag tydens 'n nuuskonferensie by die Khomasstreekraad se kantore in Windhoek gesê.

“Ons was so positief, veral haar ma, dat sy sou beter raak en opstaan. Sy was 'n vegter. Ons kon sien hoe sy geveg het om gesond te word. Dit het gemaak dat die nuus dat sy oorlede is ons heel van balans af geslaan het,” het me. Antolika Gowases, Judina se tannie, gesê.

Naugaweses se seun, Aliandro (6), is ook weens die brand oorlede.

Tans is die driejarige Hernandes Plaaitjies steeds by die Windhoek Sentrale hospitaal onder mediese toesig.

Me. Anna Geibes, mnr. Erik Jooste en een van hul vyf kinders, Erica Geibes (11), is ontslaan en word daagliks by die kliniek op Dordabis ondersoek. Die paar het hul ander kinders in die ontploffing verloor.

Judina se herdenkingdiens word Vrydag om 16:00 op die plaas gehou, waarna sy die volgende dag om 08:00 begrawe sal word.

“Hierdie voorval het ons almal geraak. Om een familielid te verloor, is swaar, maar die voorval het die familie en die land van soveel jong lewens beroof.

“Ons by die streekraad sal aanhou om die familie te ondersteun en ons bedank almal wat die familie bystaan, veral die eienaars van Plaas Garib wat vir ons belowe het dat hulle die Witbeen-familie as hul eie familie sien en alles doen om hulle te ondersteun,” het me. Penina Iita, streekraadslid vir die Windhoek landelike kiesafdeling, Vrydag gesê.

“Ons is dankbaar vir die ondersteuning­ wat die streekraad, die publiek en die regering aan ons gebied het gedurende dié swaar tyd,” het Naugaweses gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!