Judith Isele oor holistiese bestuursbeginsels, organiese boerdery

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Vanjaar was dit die 30ste keer dat die Namibië Landbou-unie (NLU) die Jong Boer van die Jaar-trofee toegeken het. Dit was ook die eerste keer ooit dat dit aan 'n vrou, me. Judith Isele (34), toegeken is.
Dié boer spog egter met ‘n indrukwekkende CV.
Isele is ‘n aktiewe lid van Blumfelde Boerevereniging, bestuurslid by die Namibiese Sentrum vir Holistiese Bestuur asook visevoorsitter van die Namibiese Organiese Vereniging. Sy is ‘n stigterslid van die landbou-opleidingsentrum Krumhuk.
Sy word gereeld as ‘n spreker oor volhoubare boerderypraktyke op nasionale en internasionale vlak genooi – dit sluit in die Stoettelersvereniging (NSV) se vleisproduksieskool in 2014, verskeie plaaslike weidingsforums asook die 2012 Afrika Organiese Kongres in Zambië, die 2012 Internasionale Konferensie oor Organiese Veetelery in Duitsland en die 2014 Organiese Wêreldkongres in Turkye. Haar visie is ‘n winsgewende boerdery ná aan die natuur waarin sy haar droom volg om die potensiaal van die grond ten volle te ontdek en deur volhoubare boerderypraktyke te benut.


Het dit nie verwag
Isele boer alreeds tien jaar lank op die plaas Springbockvley in die Windhoek-omgewing en sê dit sal ‘n neus-in-die-lug-ding wees om te sê dat sy “verwag” het om die jong boer van die jaar te wees.
“Ek wil nie sê verwag nie – ek sal eerder sê dit was iets tussen gehoop en verwag. Dit is vir my groot om gekies te wees en ek kan dit eintlik nog steeds nie glo nie. Ek voel trots – nie noodwendig net op myself nie, maar ook op alles wat op Springbockvley opgebou is en die nalatenskap van my oorlede man.”
Isele was getroud met Ekkehard Külbs wat in Januarie 2012 in ‘n fratsongeluk gesterf het. Hy het van ‘n windpomp geval.
Sedertdien boer sy op die plaas met inheemse beeste en skape volgens holistiese bestuursbeginsels asook organiese riglyne. Die plaas Springbockvley geniet ook vanaf einde 2013 status as ‘n organiese plaas, soos deur die Namibiese Organiese Vereniging toegeken.
“Soms is daar sukkeldae op die plaas wanneer niks wil vlot nie en jy net niks regkry nie. Sulke tye wonder ek hoe ek die jong boer van die jaar kon wees,” sê sy.
Isele kry steeds SMS’e, e-posse en oproepe van mense wat haar gelukwens met haar prestasie. Toe sy petrol in Windhoek intap, vra die petroljoggie haar of dit sy was wat nou die dag in die koerant was en wat het sy gedoen dat hulle haar foto publiseer het. Sy het hom vertel.
“My broer uit Duitsland lag vir my omdat ek die ‘jong’ boer van die jaar genoem word.”
Om vir die trofee in aanmerking te kom, moet die kandidaat deur sy of haar boerevereniging genomineer word. Die kandidaat en die vereniging vul ‘n vorm in, waarin hulle hul indruk van die boerdery verstrek voor hulle dit vir die NLU stuur. Kandidate moet jonger as 40 jaar wees om vir dié trofee in aanmerking te kom.


Van Duitsland tot Springbockvley
Isele kom oorspronklik van Duitsland en het organiese landbou gestudeer voor sy verder gespesialiseer het en as deel daarvan praktiese boerdery êrens in die buiteland moes gaan doen het. Sy het toe vir vyf maande lank op ‘n plaas by Dordabis gewerk, waar sy ook haar man ontmoet het.
Sy moes egter eers teruggaan Duitsland toe om haar studies te voltooi, voor sy in November 2004 by Külbs op Springbockvley as sy vrou aangesluit het.
Külbs het in 1989 die plaas by sy ouers oorgeneem, waarna hy en Isele vir sewe jaar saam geboer het. Isele boer sedert sy dood reeds vir vier jaar alleen.
Külbs het ook twee seuns albei nou in hul twintigs. Hy en Isele het nie self kinders gehad nie en die seuns sal moontlik in die toekoms by die boerdery betrokke raak.
“Ek en my man het in alle opsigte ‘saam geboer’ – wat weidingsbestuur, die hantering van diere en finansies betref. Hy het destyds reeds van holistiese bestuursbeginsels gebruik gemaak,” sê sy.
In Duitsland het sy op die platteland grootgeword. Haar ouers het dikwels produkte by organiese plase gekoop en naderhand ook tydens oestyd op dié organiese plase gaan werk. Hulle het as kinders tydens skoolvakansies saam na die plase gegaan en dis waar haar liefde vir landbou en veral organiese landbou begin ontwikkel het. Daar was toevallig ook ‘n vrou aan die stuur van dié organiese plaas.


Holistiese bestuursbeginsels
Die holistiese bestuursbeginsel se basis is ‘n besluitnemingsmodel waarin die geheelprentjie oorweeg word, voor enige besluite geneem kan word.
“ Jy koop nie byvoorbeeld ‘n motorfiets voor jy nie eers alle aspekte soos finansies, sosiale en ekologiese faktore oorweeg het nie. Die faktore is soos die pote wat ‘n driebeenpot regop hou – as een wegval, is die balans ook weg,” verduidelik Isele.
Sy sê haar man het reeds destyds besluit om hierdie bestuursmodel op sy plaas te gebruik en toe sy by hom aansluit, het hulle dit intensiveer. Sy sê dit is ‘n logiese stelsel wat volhoubaar op alle vlakke werk.
“Dit behels dat ek vooraf ‘n plan en doelwitte opstel van waarheen die boerdery moet beweeg. Dit sluit alles van weidingsbeplanning en risikobestuur tot finansiële beplanning in. Die plan maak ook voorsiening vir onverwagse wendings – soos as iets breek en herstel moet word,” sê Isele.
Volgens haar is rekordhouding uiters belangrik vir hierdie stelsel, want indien iets op die plaas verkeerd loop, het jy rekords nodig om te sien presies waar dinge verkeerd gegaan het.


Organies – uit eie keuse
Isele is by die Namibiese Organiese Vereniging geregistreer en sê sy boer organies wat haar beeste en skape betref.
Hoe verskil dit van ander gewone boerderypraktyke in Namibië, waar beeste hoofsaaklik ook van natuurlike weiding leef?
“Die oorhoofse gedeelte is dieselfde as ander boerderye in Namibië – die diere leef ook van die veld, maar die verskil kom in by die lek wat jy bygooi en dat party mense hul diere afrondlek voer.
“Ek mag byvoorbeeld nie lek met sintetiese middels of geneties gemanipuleerde voermiddels gee nie. Ek mag ook geen voer met ureum gee nie, omdat dit sinteties is. Ek kan ook nie enige voer koop waarin mielies gebruik is wat uit Suid-Afrika kom nie, want ons weet tussen 80 en 90% daarvan is geneties gemanipuleer.”
Isele is ook beperk wat medikasie vir diere betref en sy kan byvoorbeeld net ‘n sekere hoeveelheid antibiotika gee. Sy kan ook nie voorkomend elke ses weke vir parasiete doseer nie. Eerder moet sy op bestuurspraktyke fokus wat byvoorbeeld siektes en parasiete sal voorkom.
“Finansieel trek ek geen voordeel of nadeel uit die feit dat ek organies boer nie. My vleis is organies, tot op die punt wat dit die mark bereik en deel van al die ander nie-organiese produkte word. Ons het nie plaaslik enige organiese slagplase of prosesseerders nie.
“Ek doen dit omdat ek in die beginsel van organiese boerdery glo. Ek glo dit is die pad wat ek moet stap. Ons het nog nie ‘n mark hier vir organiese produkte opgebou nie en dit beteken waarskynlik dat ons aan die begin sal moet vasbyt, al kry ons nie ‘n voordeel of spesiale prys vir ons organiese produkte nie.”


Afrikaans
Isele praat baie goed Afrikaans en sê dit is geen raaisel nie, want sy woon reeds 11 jaar lank in Namibië.
Sy het van die begin af moeite gedoen om die taal aan te leer. “Dit was vir my prettig om daarmee te speel en ek wou dit leer sodat ek dit goed kan gebruik en nie met ‘n ‘kierie’ moet loop wat my taalgebruik betref nie,” sê sy.
Isele sê sy was eintlik genoodsaak om Afrikaans te leer, want die omgangstaal op plase is meestal Afrikaans.
“Ons het destyds werkers op die plaas gehad wat ook ‘n bietjie Duits kon praat. Dit beteken ek kon met hulle kommunikeer en vra wat is dit en dat in Afrikaans. Hulle het my gehelp om Afrikaanse woorde te leer.”
Isele sê sy het later besef daar is ‘n verskil tussen “plaas Afrikaans” en “mooi” Afrikaans.
“Ek het baie geluister en as ek met mense op die telefoon gepraat het en sekere woorde nie verstaan het nie, het ek gevra. As my man ‘n e-pos moes tik, het ek gesê ek wil dit skryf. Ek het ook baie boeke gelees,” vertel sy.
Isele probeer tans ook om Herero te leer.


Uitdagings as vroulike boer
Sy sê sy ervaar soms uitdagings omdat sy van die vroulike geslag is.
“Die uitdagings is subtiel. Die moeilikheid kom dikwels tussen lyne na jou aan en nie noodwendig oop en bloot nie.
“Ek het byvoorbeeld ‘n baie goeie span plaaswerkers. Miskien is dit net my persoonlikheid en nie omdat ek ‘n vrou is nie, maar ek wil nie die heeltyd moet raas en baklei nie. Dit beteken die werk op die plaas gaan soms ‘n bietjie stadiger. Dié tipe ding is moontlik makliker vir mans om te doen.”
Sy sê dit is nie ‘n geval dat sy nie respek van haar werkers kry nie. Soms, as sy egter nuwe of vreemde werkers van buite inkry, moet sy dikwels eers die grense duidelik vir hulle neerlê.
Wat die boeregemeenskap betref, voel sy ook nie altyd duidelik deel van hulle nie. Sy stel byvoorbeeld belang in die interessante boerderygesprekke waaroor die mans praat, maar as vrou vorm sy nie werklik deel van hulle nie. Wat die vrouens betref, kan sy ook nie altyd saam gesels nie en vorm sy ook nie werklik deel van hulle nie.
“Daar is mans saam met wie ek baie lekker saamwerk en hulle my as ‘n vroulike boer aanvaar, maar terselfdertyd is daar ook die enkeles wat baie swaar kry om dit te aanvaar en dit net nie kan respekteer nie,” sê Isele.
Sy glo egter vroue hoef nie meer terug te staan nie en dat meer vroue die boerderybedryf moet betree. Sy meen vroue moenie vrees dat dit effens teen sosiale norme indruis of bekommerd wees of hulle al die fisiese werk sal kan doen nie.
“Jy as vrou hoef net op die plaas te doen wat jy kan en wil. Wat manlike boere betref (en ek sê hierdie nie om lelik te wees nie, dit is net ‘n feit) baie min van hulle klim fisies teen ‘n windpomp op, grawe self gate of gooi self die lek uit. Dit is veral geldig onder ouer boere en dit is nie ‘n rede om nie te boer nie. Hoekom moet ons terugstaan omdat ons fisies swakker is as mans?
“Ek is byvoorbeeld nie ‘n ‘mechanic’ nie en ook nie lus om een te wees nie. Jy kan nie alles self doen nie en almal het swakker punte waaroor hulle hulp gaan benodig. Jy koop daardie vaardighede in en jy kontrakteer dié werk uit,” sê sy.

Kommentaar

Republikein 2024-11-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 23° | 39° Eenhana: 24° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 21° | 36° Tsumeb: 25° | 37° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 17° | 34° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 19° | 32° Henties Bay: 14° | 18° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 17° | 30° Mariental: 13° | 29° Keetmanshoop: 9° | 28° Aranos: 16° | 30° Lüderitz: 13° | 28° Ariamsvlei: 10° | 27° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 37° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 16° | 35° Maseru: 13° | 26° Antananarivo: 16° | 29° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 21° | 41° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 15° | 19° Durban: 16° | 22° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 19° | 29° Harare: 17° | 25° #REF! #REF!