Judy leef haar drome uit
Sy het op oliebore gewerk, raak toe mal verlief op visvang en bestuur tans 'n visvanglodge in Angola.
Tanja Bause
Haar eerste droom om 'n vlieënier te word, kon sy nie volg nie, omdat sy te kort was. Toe gaan werk sy op 'n olieboor, raak mal verlief op visvang en bestuur tans 'n visvanglodge terwyl sy mense soms self op hengelboottoere uitvat.
Dis Judy Langenhoven (31) in 'n neutedop.
Judy is in Panorama in die Wes-Kaap gebore en het van graad 8 af tuisonderrig ontvang. Sy het op 17-jarige ouderdom haar matriek voltooi en wou haar droom najaag.
“Ek het nog altyd daarvan gedroom om 'n vlieënier in die Suid-Afrikaanse lugmag te word, maar ek is afgekeur weens my lengte. Ek het toe besluit om in my pa se voetspore te volg en op oliebore te gaan werk. Dit het ook baie beter geklink as om vier of vyf jaar in 'n klaskamer te sit en te leer.”
Sy het 'n paar kursusse in nywerheidstou-toegang en nievernietigende toetse gedoen.
“My ouers was verskriklik trots op my omdat ek op 'n olieboor wou gaan werk. My pa was my rolmodel en hy het my bygestaan en opgelei. Soms het ons ook saam op een olieboor gewerk.”
OLIEBOOR
Judy het op verskillende oliebore in Wes-Afrika asook Maleisië gewerk. Sy het verskeie inspeksies gedoen en “in die lug rondgehang”.
“Ek was baie gelukkig die eerste dag op die olieboor en het gevoel asof ek my droomwerk gevind het. Daar was nie een dag wat ek nie iets nuuts geleer het nie. Van die eerste dag of het die seelewe deel van my menswees geword.”
'n Tipiese dag op 'n olieboor bestaan uit 12-uurskofte vanaf 06:00 tot 18:00, of nagskof vanaf 12:00 tot 00:00. Gewoonlik is daar 'n gimnasium, fliekgeriewe, tafeltennis, 'n biblioteek en ander speletjies aan boord waarmee mense hulself in hul vrye tyd kan besig hou.
“Die oggendskof op 'n tipiese dag begin met almal wat saam ontbyt eet. Dan begin die dag deur beplanning en die reël van permitte sodat geen departement se werk met 'n ander een bots nie en almal bewus is van mekaar. Veiligheid is prioriteit nommer een op 'n olieboor.
“Daar is oggendteetyd, middagete en middagteetyd voor almal se skof eindig. Aan die einde van die dag word alle permitte afgesluit en die nagskof moet dan weer permitte oopmaak en hersien. Die oliebore is 24 uur 'n dag operasioneel; so daar is altyd mense wat werk en besig is.”
Alhoewel Judy nou haar energie aan visvang en lodgebestuur bestee, is sy nog steeds betrokke in die olieboorbedryf en werk sy vir Inspec, 'n maatskappy in Walvisbaai wat spesialiseer om verskeie inspeksies op die oopsee te doen.
VISVANG
Judy het eers sowat ses jaar gelede in visvang begin belang stel.
Haar pa en broer het altyd saam vis gaan vang, maar sy het nie regtig belang gestel nie. Dit was egter tot die een spesifieke dag wat sy weer saam met haar broer, Ruan, see toe is.
“Die vis het die dag vreeslik gebyt en ek het myself baie geniet. Ruan moes die heeltyd vir my aas aansit en ingooi. Dis die dag wat ek my eerste galjoen gevang het en die visvanggogga my gebyt het.”
Judy het in die ses jaar wat sy visvang al baie hoogtepunte beleef en verskillende soorte vis gevang. Daar is egter altyd die een of ander vis wat uitstaan.
“Die eerste vis wat uitstaan is die giant trevally wat ek in Mosambiek gevang het. Die vis was 134 cm lank. My eerste vis wat ek in Angola gevang het, was 'n baie groot snapper. Ek sal hom ook altyd onthou. Elke mooi vis het maar sy eie besonderse storie. Heel boaan my lys van visse wat ek nog graag wil vang, is die roosterfish van Costa Rica.”
Sy het twee jaar gelede 'n wêreldrekord vir vroue vir The International Game Fish Association opgestel.
“Ek het in Junie 2020 by die Kwanzarivier in Angola 'n Afrika-reusedraadvin (threadfin) van 42,5 kilogram gevang en die wêreldrekord in die klas opgestel. Dit was 'n besonderse vis alhoewel hulle heelwat groter kan raak.”
Toe Judy nog gereeld in Namibië was, was sy lid van Mako-hengelklub en het sy aan kompetisies deelgeneem.
“Ek kon egter net aan die Gus Kolner-toernooi deelneem omdat ek nie 'n Namibiese burger is nie.”
Judy se gunstelingontbyt is roomys, al is dit vieruur in die oggend voor 'n kompetisiedag.
“Cornetto is beslis my gunsteling, veral die onderste gedeelte met die sjokolade in die roomyskegel. Ek koop nie die roomys voor die tyd en sit dit in die vrieskas wanneer ek byvoorbeeld aan 'n kompetisie deelneem nie. Dis die lekkerste om spontaan te stop en te koop op pad see toe.”
LODGE
Judy is sedert 2019 die bestuurder van die Kwanza Lodge in Angola asook die hengelbote en sy neem soms self kliënte uit om te gaan hengel.
“My familie was eers nie baie beïndruk dat ek 'n goeie loopbaan vir visvang wil verruil nie, maar het vinnig gesien hoe gelukkig dit my maak en ondersteun my nou ten volle.“
Sy was die eerste keer in Kwanza toe die lodge nog onder konstruksie was.
“Ek is genooi as deel van 'n vrouehengel-promosie vir die lodge. In 2019 het ek daar begin werk en niks van bootry geweet nie, maar ek het vinnig by die plaaslike mense geleer en my skipperslisensie gekry.
“Ek lewe my droom ten volle uit. Die oliebedryf en visvang is beide my grootste passies in die lewe en hulle wissel mekaar baie goed af.”
RAAD
“Moet nooit dink jy kan dit nie doen nie. Daar is deesdae soveel geleenthede en vroue word verwelkom op die oliebore en ook as hengelaars. As jy 'n droom het, volg dit ten volle.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie