Junior Meesters propvol talent

Tennis
Andrew Poolman
Die Trustco Junior Meesters tenniskampioenskap wat Vrydag en Saterdag by verskeie bane in die hoofstad aangebied is, word sekerlik as dié hoogtepunt van die jaar vir die 62 jong spelers bestempel.

Die beste agt meisies en seuns vanaf onder 10 tot o.18 het die afgelope seisoen in tien toernooie deelgeneem om vir die kampioenskap te kwalifiseeer. Hoewel ''n groot gedeelte van die deelnemers van Windhoek afkomstig is, het heelwat talent ook van Swakopmund, Outjo, Walvisbaai en Tsumeb gekom.

Die wedstryde wat op ''n rondomtaliegronslag gespeel is, het op ''n hoë noot begin, want die seuns en meisies was gretig om hul merk in hul onderskeie ouderdomsgroepe te maak. Vrydag is van die wedstryde deur welkome reën onderbreek, maar dit het nie die geesdrif gedemp nie en die laaste wedstryd is eers om 21:00 afgehandel.

In die o.10-afdeling het Zoë Bronkhorst vir ''n verrassing gesorg toe sy al haar kragmetings teen hoër gerekende spelers gewen het om as die kampioen bekroon te word, terwyl Dominique Theron as die naaswenner na vore getree het.

Johannes Swartz, ''n speler wat sy pad deur die FNB Ontwikkelingsprogram opgewerk het, was goed op peil in die o.12-kategorie waar hy in die finaal teen Albertus Brinkmann, nog ''n ontwikkelingsproduk, te staan gekom het. Die wedstryd was ''n lang sessie wat terdeë deur die toeskouers geniet is voordat Swartz met 6-2, 6-2 oorheers het. In die o.12-afdeling vir meisies het Hendrina Appolus teen Elzé Stears met 6-0, 6-3 geseëvier.

“Vandag was ek gefokus en gemotiveerd om my beste te lewer,” het Swartz ná die botsing gesê.

In die o.18-ouderdomsgroep het Dantago Gawanab teen Ronaldo Uirab in ''n naelbyter te staan gekom wat die toeskouers op die punte van hul stoele gehou het. Gawanab oorrompel sy opponent met 6-1, 6-2 om die titel te buit.

Tydens die prysuitdeling het mnr. Clive Gawanab, adjunkpresident van die Namibiese Tennisvereniging (NTA), die spelers vir hul goeie vertonings gedurende die toernooi en ook die ouers vir hul bydraes geprys.

Gawanab het die ouers verseker dat sonder hul ondersteuning en opoffering geen spelers werklik hul volle potensiaal sal bereik nie.

Hy was ook vol lof vir Kallie Heese en sy span wat die byeenkoms gereël het en het hulle aangemoedig om hul goeie werk voort te sit. Ten slotte het hy die borg Trustco vir sy volgehoue ondersteuning bedank.

Neville Basson van Trustco het die spelers vir die hoë gehalte spel bedank en hulle aangemoedig om te volhard om hul beste te lewer en seker te maak dat hulle gedurig hul mikpunte verbeter.

Namibië sal volgende jaar die Suidelike Afrika-kampioenskap aanbied waaraan 12 lande in die o.14- en o.16-afdelings sal meeding.

Laas naweek se enkelspelkampioene was:

Meisies en seuns o.10: Zoë Bronkhorst en Adam Diggle.

Meisies en seuns o.12: Hendrina Apollus en Johannes Swartz.

Meisies en seuns o.14: Lisa Yssel en Maans Steenkamp.

Meisies en seuns o.16: Emma Bastiaans en Risto Shikongo.

Meisies en seuns o.18: Bronwyn Kavarure en Dantago Gawanab.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!