Juniors laat waai in Swakopmund

Tennis
Danksy die gasvryheid van die Swakopmund Tennisklub wat sy bane beskikbaar gestel het, kon die Namibiese Tennisvereniging (NTA) sy vyfde junior toernooi vir die jaar onlangs op die kusdorp aanbied.

Sonskynweer en lekker verversings, verskaf deur Swakopmund se tennisouers, het die 32 junior spelers vanoor die land verwelkom.

Strawwe kompetisie tussen die onder 16-seuns het gesorg vir baie interessante tennis.

Die 14-jarige Dian Calitz het weer­eens verras toe hy die eerste gekeurde Daneel van der Walt met 2-6, 6-4, 10-5 klop. Calitz moes egter die knie buig teen die tweede gekeurde George Louw wat hom gemaklik met 6-2, 6-0 geklop het.

Van der Walt het wel in 'n puik terugvegpoging in die laaste rondte van die rondomtaliespel vir Louw met 6-2, 7-5 getroef.

Met al drie spelers gelykop met wedstryde gewen en verloor, moes die finale plekke bepaal word deur 'n uittel van stelle en potte. Daneel van der Walt is uiteindelik as die algehele wenner aangewys, met George Louw tweede en Dian Calitz derde.

In die dubbelspel het Louw en Van der Walt gemaklik met Dian Calitz en Sarel Janse van Rensburg afgereken (6-2, 6-0).

• Die o.14 seuns- en meisieskategorieë is oorheers deur JW du Preez en Hayley Kidd, beide van Swakopmund. In die gemengde dubbelspel het Karla Terblance en Ewan van Heerden verbete geveg, maar moes uitendelik met 6-1, 7-6 die aftog blaas teen die sterk kombinasie van Kidd en Du Preez.

• Tussen die o.12 meisies en seuns was daar sterk kompetisie. Met agt inskrywings elk was dit die bes ondersteunde kategorie van die toernooi.

In die meisiesfinaal het die tienjarige Ayanda Basson van Windhoek haar staal gewys en in drie stelle (6-2, 4-6, 10-3) teen Xenia Plarre van Walvisbaai gewen. Riamarie Visser en Clara Roets het die derde plek gedeel.

Die seunseindstryd was tussen Lian Kuhn van Windhoek en Antonio Tchivanda van Swakopmund. Kuhn het vir Ruan Calitz in die halfeind­stryd met 7-5, 6-4 uitgeskakel, terwyl Tchivanda met Brian Edwards afgereken het (6-2, 6-2). Hoewel Tchivanda vir Kuhn in die uitspeelrondte geklop het, het Kuhn diep gedelf en uiteindelik in 'n naelbytwedstryd met 6-3,7-5 teen Antonio geseëvier.

Die voorste uitslae van die Swakopmund-toernooi:

Meisies en seuns o.10 (een kategorie): 1 Mimi Moyo, 2 Joanivia Bezuidenhout, 3 Christine du Preez.

Meisies o.12: 1 Ayanda Basson, 2 Xenia Plarre, 3 Riamarie Visagie en Clara Roets. Dubbelspel: 1 Ayanda Basson en Riamarie Visagie, 2 Xenia Plarre en Clara Roets.

Seuns o.12: 1 Lian Kuhn, 2 Antonio Tchivanda, 3 Ruan Calitz en Brian Edwards

Dubbelspel: 1 Antonio Tchivanda en Ruan Calitz, 2 Lian Kuhn en Brian Edwards.

Meisies o.14: 1 Hayley Kidd, 2 Jamilla Hungamo, 3 Karla Terblanche.

Seuns o.14: 1 JW du Preez, 2 Storm Schrywer, 3 Dionisio Dias.

Gemengde dubbelspel: 1 Hayley Kidd en JW du Preez, 2 Karla Terblanche en Ewan van Heerden.

Seuns o.16: 1 Daneel van der Walt, 2 George Louw, 3 Dian Calitz.

Dubbelspel: 1 Daneel van der Walt en George Louw, 2 Dian Calitz en Sarel Janse van Rensburg.

Die junior toernooie in Swakopmund en Windhoek dien vir die o.13- en o.17-spelers as voorbereiding van die Cossasa Balspele wat einde Augustus in Lusaka aangebied word.

• 'n Junior toernooi vir alle ouderdomsgroepe word komende naweek by die Sentraal-bane in Windhoek aangebied, met Sanlam Namibië as die borg van die reeks. Inskrywings of navrae kan aan [email protected] gerig word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer