Juweel in Namibië se kroon
Die wêreld se nuwe Mej. Supranasionaal het groot planne om vroue in Namibië te bemagtig.
Yandi du Plessis
Die hele Namibië het gejuig toe die skone Chanique (Chani) Rabe op 21 Augustus in die Strzelecki Park-amfiteater in Nowy Sacz, Pole, as 2021 se Mej. Supranasionaal gekroon is – net soos toe ons Michelle McLean in 1992 met die Mej. Heelal-titel weggestap het.
Die 24-jarige skoonheid is in 2020 as Mej. Supranasionaal Namibië gekroon, maar moes tot vanjaar wag om in Pole te gaan meeding, omdat die kompetisie verlede jaar weens die pandemie nie plaasgevind het nie.
Rabe, ‘n oudleerling van Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP) en voormalige Mej. Tiener Namibië, het haar vaderland regdeur die proses met grasie verteenwoordig en in die proses 57 ander skoonhede uitgestof om die kroon huis toe te bring. Sy het met Republikein gesels oor haar Mej. Supranasionaal-reis en oor wat die toekoms vir haar inhou.
Chani, eerstens, baie geluk met dié besonderse mylpaal. Die hele Namibië is ongelooflik trots op jou. Wat was jou reaksie toe hulle jou as die wenner aangekondig het?
Baie dankie! Veral met ons meisies wat vanjaar so goed gedoen het by die Olimpiese Spele (Beatrice Masilingi en Christine Mboma) en nou dié, is dit wonderlik dat ons land iets het wat ons kan verenig – iets waaroor ons sáám opgewonde en gelukkig kan wees. My reaksie toe ek as wenner aangekondig is. . . wel, ek het dit regtig nie verwag nie! Die meisie langs my van Puerto Rico (Karla Guilfu Acevedo) was ’n baie sterk kandidaat, en boonop was sy regtig baie oulik. Ek het nie verwag die organisasie sal my en my land ’n kans gee nie. Sjoe, dit was regtig ongelooflik! Ek het net heeltyd gewonder wat Namibië op daardie oomblik dink. Om hierdie kroon vir ’n jaar te kan dra, is regtig ongelooflik.
Toe jy verlede jaar as Mej Supranasionaal Namibië gekroon is, het jy vir ’n oomblik gedink dat jý die kroon op die wêreldverhoog sal dra?
Namibië word nie gereeld op internasionale skoonheidskompetisies raakgesien nie, en word baie maklik misgekyk. Die feit dat die organisasie twee weke geneem het om elke liewe een van ons te leer ken, bewys net vir my hulle het my gekies vir wie ék is.
Dit is definitief nie net ék wat gewen het nie. Hierdie was werklik ’n spanpoging van my, my span, en my hele land. Ek is so opgewonde dat Namibië ook nou ’n kans kan hê om in die kollig te wees.
Hoe het jy die kompetisie oor die algemeen ervaar, veral die tyd wat jy in Pole deurgebring het?
Dit was regtig ’n ongelooflike ervaring. Ek het die kopskuif gemaak om rustig te wees wanneer ek daar kom. Ek het só hard gewerk en al my voorbereiding gedoen, so toe ek daar kom wou ek net rustig wees en my tyd daar geniet. My kop was op die regte plek en ek het wonderlike bande gesmee met die ander deelnemers. Dit was wonderlik om die land te verken – die mense, die geskiedenis, die kultuur. Ek het regtig elke oomblik geniet!
Wat was vir jou 'n hoogtepunt in dié kompetisie (behalwe om as wenner gekroon te word, natuurlik)?
Die Mej. Supranasionaal-organisasie het werklik baie moeite gedoen vir ons deelnemers om nie net daar te wees vir die kompetisie nie, maar ook die land te verken en die mense, kultuur en geskiedenis te leer ken. Ek het soveel kosbare, fantastiese herinneringe saamgebring wat nie eens almal met die kompetisie te doen het nie!
Het jy spesiale bande gesmee met enige van jou mededingers?
Natuurlik is daar altyd meisies wat hulself meer afsonder van die res, maar die meerderheid van die dames was wonderlik. Ek voel só geëerd dat ek ’n verhoog met al dié sterk vroue kon deel. Hulle is vroue met soveel passie, wonderlike boodskappe, projekte en waardes. Ek het fantastiese vriendskappe gevorm wat beslis ’n leeftyd sal hou. Een van die meisies het dié week verloof geraak en ek is na die troue volgende jaar in Kenia genooi!
Het ons gewese Mej. Supranasionaal Namibië, Yana Haenisch, vir jou enige waardevolle raad gegee voor jy vertrek het?
Natuurlik. Haar raad het baie beteken en sy het my deurentyd ondersteun.
Vertel ons meer oor jou pad tot by Mej. Supranasionaal.
Toe ek jonger was, was ek nie juis geïnteresseerd in skoonheidskompetisies nie. Ek het ’n tipiese konserwatiewe Afrikaanse pa wat nog altyd gesê het: “Oor my dooie liggaam sal jy aan ’n skoonheidskompetisie deelneem!” Ek het dit maar altyd met ’n knippie sout geneem. Op hoërskool het ek net vir die lekkerte vir Mej. WAP ingeskryf en gewen. Dit het my aangemoedig om vir Mej. Tiener Namibië in te skryf, wat ek toe ook gewen het. Daarna het ek die geleentheid gehad om my land by Mej. Tiener Kontinente in Amerika te verteenwoordig, waar ek ook as die wenner gekroon is.
Daarna het ek eers vier jaar geneem om my BA-honneursgraad in modeontwerp in Kaapstad te voltooi. Daarna het ek egter weer eens besef wat ’n wonderlike reis só ’n skoonheidskompetisie kan wees. Dit maak jou meer volwasse en skep fantastiese platforms om projekte waaroor jy passievol is op die been te kry en regtig ’n verskil te maak in jou gemeenskap en land.
Ná ek my graad voltooi het, het ek geweet ek wil weer my land op ’n internasionale platform verteenwoordig. Mej. Supranasionaal Namibië het verlede jaar oor my pad gekom en alles het regtig gebeur soos dit moet! Nou is ek net regtig baie opgewonde, en baie trots!
By watter gemeenskapsprojekte is jy tans betrokke en wat behels dié projekte?
Ek is ‘n mode-ontwerper en met die aanvang van die pandemie verlede jaar het ek begin maskers maak vir die mense ná ek besef het hoe groot die tekort aan maskers is. Ek het hulp nodig gehad en toe vryskutstiksters gesoek om my te help. Ek het besef hulle kan op dié manier ’n ekstra inkomste verdien en hulle was só gemotiveerd – bloot omdat hulle hierdie naaldwerkvaardighede het. Ek het besef Namibiese kinders kry amper nooit die geleentheid om dié lewensvaardigheid te ontwikkel nie en ek het onmiddellik begin om naaldwerkklasse by die Hope Village-kinderhuis hier in Windhoek aan te bied. Ek kon sien hoe baie dit vir hierdie meisies beteken – hulle was so gemotiveerd en gewillig om te werk en te leer.
Ek het wou die projek uitbrei. Ná Mej. Supranasionaal Namibië het ek saam met African Monarch Lodges, wat die Sijwa Sewing Project in die Zambezistreek op die been gebring het, begin werk. Die doel van hierdie projek is om vaardighede onder die gemeenskappe in daardie omgewing te ontwikkel. Hulle was baie gewillig om saam met my te werk en ek het toe ’n junior naaldwerkskool in die Zambezi geopen. Ons het ’n werksruimte gebou en borge vir naaimasjiene en materiaal gekry. Die jongmense – meisies én seuns – leer elke week nuwe vaardighede. Dit is regtig my passie, en ek gaan vanjaar daarop fokus om dié projekte in Namibië sowel as in Suid-Afrika en internasionaal uit te brei.
Wat is volgende vir jou?
Al het ek die keuse om in Pole te bly, is dit vir my wonderlik dat die organisasie my ’n kans gee om na my land terug te keer. Hulle fokus altyd op die bevordering van die kroondraer se land. Die Mej. Supranasionaal-organisasie kom binne die volgende maand of so na Namibië, waarna ons deur die land sal reis en veral fokus op die bevordering van die toerismesektor. Ek voel toerisme is ’n hoeksteen van ons land en hoe meer ons kan help, hoe beter. Natuurlik gaan ons ook op my projekte fokus en dit uitbrei. En natuurlik word ’n paar internasionale reise beplan. Ek sal beslis weer Pole moet besoek en ek is baie opgewonde!
Wat is jou boodskap vir jong Namibiese vroue, veral in dié tyd van nood en onsekerheid?
Iets wat ek die afgelope tyd geleer het, is dat dit nie help om te wag tot die onsekerheid verbygaan voor jy iets aanpak waaroor jy passievol is nie. Ek was baie onseker of ek eers moet wag voor ek moet inskryf, maar ek het net besef ek moet my nie laat terughou nie. Doen alles tot die beste van jou vermoë. Ek het nie gedink enige iets wat die afgelope jaar met my gebeur het, sou moontlik wees nie, en tóg het ek soveel ondersteuning gekry van Namibiërs – selfs in ’n taai finansiële tyd.
Net die feit dat ek besluit het om my alles te gee en die beste te maak van elke oomblik, het my mentaliteit so positief beïnvloed en die wêreld se verskil gemaak.
BLOKKIE
NASIONALE KOSTUUM
As ek dink aan my land, dink ek altyd aan die surrealistiese beeld van die punt waar die snikhete Namibwoestyn die ysige Atlantiese Oseaan mekaar ontmoet. My nasionale kostuum is trots-Namibies, geïnspireer deur die balans tussen hierdie twee magte – die woestyn en die see – kontrasterend en pragtig.
Die bostuk is deur die woestynroos geïnspireer. Tradisionele Namibiese materiale in skakerings van blou is op die plooie van die romp bygevoeg om die Atlantiese Oseaan te verteenwoordig. Die resultaat is ’n sterk kontras – net soos ons Namibiese kuslyn.
Die weefwerk met die shweshwe-materiaal is plaaslik deur Thatosbasket gedoen en die glaskrale op die korset is met die hand gemaak as deel van die Sijwa Sewing Project se glasherwinningsprojek.
Ek is opreg dankbaar dat ek so gelukkig was om my somervakansie op die strande van hierdie buitengewone natuurwonder deur te bring, wat deur my nasionale kostuum vergestalt is!”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie