Juzelri deel in Jaguars-sege
Juzelri deel in Jaguars-sege

Juzelri deel in Jaguars-sege

Netbal
Die 21-jarige Namibiër Juzelri Garbers het opnuut uitgeblink as lid van die Gauteng Jaguars-netbalspan wat vir die derde opeenvolgende jaar Suid-Afrika se provinsiale kampioenspan is.

Die vierdejaar regstudent by Tuks en voor­malige leerder van Windhoek Gimnasium speel op die netbalbaan as verdediger of hoofdoelverdediger.

Garbers het verlede jaar die finaal vanweë 'n kniebesering misgeloop, terwyl sy die vorige jaar die Gauteng Fireballs verteenwoordig het.

Die wenspan het nie net die prysgeld van R250 000 ingepalm nie, maar het ook hul plek bespreek om later vanjaar in Nieu-Seeland in die Superklubkampioenskap te gaan meeding.

'n Onstuitbare, ongenaakbare, passievolle Jaguars het Saterdagaand in Pretoria sy eindstryd teen die Southern Stings van die eerste senterafgooi af oorheers, skryf Annchen Nel.

Die eindresultaat was 'n oortuigende oorwinning van 53-38 en sy derde agtereenvolgende titel in die Telkom Nasionale Liga. Dit is die grootste oorwinning nóg sedert die Vry­staat Crinums die Jaguars in 2016 met nege doele geklop het.

Daar was uit die staanspoor min twyfel dat hulle hul titel sou behou. Hulle was ná die eerste kwart met 14-10 voor, met die rustyd met 28-19 en ná die derde kwart met 39-30.

Die Jaguars het uitstekend met spoed gedryf op die aanval en onder hul doelpaal was daar puik samespel en posisionele spel tussen die oud-Protea Chrisna van Zyl en Chantelle Swart.

Veral Van Zyl (35) se ervaring het gewys en sy het in die doelsirkel sake gedikteer. Die Stings-verdedigers het geen raad gehad nie.

Die Jaguars het in elke eindstryd sedert die ontstaan van die liga ses jaar gelede gespeel en hul ervaring van groot oomblikke het gewys.

Die Noord-Gautengers het vanjaar 25 uit 26 wedstryde gewen.

Hul enigste nederlaag was in die eerste ronde van vanjaar se kompetisie met een doel teen die Stings.

Die manier hoe die Kapenaars van die baan gespeel is, was 'n hartseer gesig vir hul ondersteuners. Hulle het wel in die derde kwart moedig teruggeveg.

Die Jaguars se hoofdoelverdediger, Jasmine Ziegelmeier, wat in haar vierde eindstryd gespeel het, is as speler van die wedstryd aangewys.

Jenny van Dyk, afrigter van die Jaguars en Tuks, sê sy beklemtoon altyd die spelers moet nooit tevrede wees om die plaas­like toernooie te wen nie, maar moet die groter doelwit nastreef om op hul beste op internasionale vlak te presteer.

“Oor vier jaar van nou af bied Suid-Afrika die Wêreldbeker aan.

“Ek wil hê my spelers moet reeds nadink oor wat hul tekortkominge is en hoe hulle te werk gaan om dit te verbeter, sodat hulle hul kanse kan aangryp om die Proteas te verteenwoordig.”

Van Dyk sê dit werk in die Jaguars se guns dat hulle altyd onder druk is as die span vir wie almal die graagste wil klop.

“Ons moet vir elke oorwinning werk en die spelers moet dus heelwat oor hul spel besin.

“Ek verwag van hulle om hul eie video-ontleding van opponente te doen en met minstens drie strategieë vorendag te kom om die opponente teë te werk.

“Een van die grootste foute wat enige afrigter kan maak, is om spelers só oormatig af te rig dat hulle met 'n lepel gevoer word en die vermoë verleer vir hulself te dink.”

By verlede jaar se Superklubkampioenskap in Nieu-Seeland het die Jaguars agtste geëindig.

– Bygewerk van Netwerk24 en up.ac.za

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!