'Jy is soveel sterker as wat jy ooit kan dink'
Psalm 23 was die 42-jarige Janene Eiman van Windhoek se beskermingslied teen 'al wat kwaad is'. Sy vertel van haar reis met borskanker en hoe dit haar verander het.
“Omtrent 'n week ná my 38ste verjaardag in 2014 het ek die knop in my linkerbors tydens 'n selfondersoek ontdek.
“In daardie stadium was al twee my borste gevoelig. Ek het dit aan hormone toegeskryf en 'n week vir die knop gewag om weg te gaan. Ek is 'n radiografis en in die diagnostiese veld, en het my vriendin ('n mammografis) gevra om vir my 'n sonar te doen toe die knop ná 'n week steeds daar was.
“Die mammogram het gevolg en die uitslag was 'n hoë risiko vir borskanker. Ek moes 'n biopsie kry om te bevestig. Die uitslae het 'n week geneem: Borskanker, Fase III, met verspreiding na limfkliere onder my linkerarm.
“Dit was 'n geweldige skok. Ek het onmiddellik aan die dood gedink, die chemoterapie, naar wees, siek wees, my kinders, my bors wat verwyder gaan word. Hoe ver het dit versprei? Het ek dit betyds ontdek? Sal ek oorleef, vir hoe lank? Ek het gevoelens van weersin vir my liggaam ervaar. Ek kon nie aan my bors vat nie. Hoekom ek?
“Ek doen dan als reg. Ek rook nie, eet meestal gesond, doen gereeld oefening, het vir meer as twee jaar al twee my kinders geborsvoed. Ek het 'n week met die Here geworstel en myself bejammer.
“Ek het toe besef die Here het my lief en ek moet Hom vra om my krag te gee en my gesond te maak. Ek het opgestaan en besluit om te baklei. Ek het geglo ek kán genees word, ek moet net my deel doen. Ek moes baklei vir my kinders, ek moet hulle sien grootword. In daardie stadium was hulle 12 en 14 onderskeidelik.
“Ek was die eerste mens in my onmiddellike familie wat met kanker gediagnoseer is. Ek het sommer 'n genetiese toets ook gedoen vir gerusstelling vir my dogters en susters. Die toets was negatief en hul kanse vir borskanker was baie laag.
“My behandelingsplan het ingesluit 'n mastektomie, vyf maande chemoterapie, twee maande radioterapie, twee jaar hormoonbehandeling (onderdrukking van estrogeen) en 'n jaar Herceptin vir die HER2-geen wat positief getoets het.
“In Mei 2017 was ek klaar met behandeling en kankervry. Ek doen steeds elke ses maande my opvolgondersoeke en gaan jaarliks vir my mammogram en sonars.
“Kanker het my beroof van my vrouwees. Ek het nie net my bors verloor nie, maar ook my hare op my kop en later ook my wenkbroue en wimpers. My naels het 'gesterf' en afgeval, my eierstokke het gekrimp. Ek was in chemiese menopause. Vrouwees moes skielik van binne kom, die uiterlike was weg.
“My grootste bron van krag was natuurlik my God. Ek het vasgeklou aan Sy beloftes dat wat jy vra met jou hele hart, aan jou gegee sal word. Solank jy glo.
“Hy was my toevlug in tye van paniek, hartseer en swakheid. Elke dag op die radioterapiebed het ek saggies Psalm 23 gesing. Dit was letterlik my beskermingslied teen al wat kwaad is. Ek het geen radiasiebrand gehad nie.
“My tweede bron van ondersteuning was van my geliefdes. Klein woorde soos 'You are beautiful' van my metgesel, terwyl my kop blink sonder hare, tot gebede van vriende, familie en kollegas. Tot vreemdelinge het my in die openbaar gestop en vir my gesê hulle bid vir my.
“Die eerste chemoterapie is baie erg op die fisieke, jou hele liggaam word aangeval. Ek moes aggressiewe behandeling kry om die verspreiding te stop. Dit het my letterlik plat gehad vir die eerste drie dae ná behandeling, vyf ure se sit met 'n drip.
“Jou eetlus verdwyn, mond is seer en jy kan niks proe nie. Maagpyn, want jou maag- en dermwand sterf. Bloedselle sterf en jy is te moeg om eens te loop. Hare val uit na twee weke, naels begin raak lelik soos dit sterf en later afval.
“Die tweede tipe chemo val die rugmurg aan en die rugpyne wil jou teen die mure laat uitklim. Geen pynpil help nie. Al wat jou laat uithou, is die wete daar is 'n einde aan die behandeling en gesondheid daarna.
“Ek raak gewoond aan my bleskop, gewoond aan mense wat snaaks na jou kyk, want jy dra skielik doekies. Daar is soveel meer as omgee wat ander mense van jou dink.
“Herstel ná die mastektomie was moeilik. Dit was daaglikse fisio vir my arm en leer loop, want die wond op my maag ná die rekonstruksie was baie gekompliseerd. Ek moet steeds oefening doen om seker te maak dreinering uit my arm vind plaas. Die risiko van lymphedema sal vir ewig daar wees.
“Die Janene ná kanker is baie nader aan God en het geleer om als in Sy hande te laat. Sy krag is genoeg vir ons. Ek waardeer die kleiner dinge in die lewe soos om te kan proe, om te kan oefen, 'n berg te kan klim. Kuier vandag saam met vriende en moenie belangrike dinge uitstel nie. Leef in vrede, wees lief vir mekaar.
“Kanker leer jou dat jy soveel sterker is as wat jy ooit kan dink, want jy kry net twee keuses: Baklei of sterf.
“My raad vir die persoon wat nou gediagnoseer is, is om vir jou een of twee redes te kry om te wíl leef. Klou daaraan. Vind die Here, bly op jou knieë en praat oor jou vrese met familie, vriende en geliefdes. Aanvaar hulp en gebede.”
Borskanker onder mans
Borskanker is nie net 'n vroulike probleem nie, mans kan dit ook kry.
Prof. Justus Apffelstaedt (hoof van die Tygerberghospitaal se borskliniek in Kaapstad) lig die sluier:
Wat is die voorkoms van borskanker onder mans?
Vir elke 100 vroue wat ons sien vir borskanker, sien ons een man. Die risiko is daarom laag, veral in vergelyking met kankers soos long, prostaat of kolon. Volgens die Nasionale Kankerregister is die risiko vir mans om in hul leeftyd borskanker te ontwikkel tussen een uit 500 tot een uit 'n 1 000, afhangend van die ras. Mans kan op enige ouderdom borskanker ontwikkel, maar dit word gewoonlik in mans tussen die ouderdomme van 60 en 80 jaar gediagnoseer (in vergelyking met vroue waar dit gewoonlik vanaf die ouderdom van 40 gediagnoseer word).
Tel familiegeskiedenis, oorsake?
Familiegeskiedenis en bekende draers van die borskanker geenmutasie BRCA-1 en 2 het 'n hoër risiko vir borskanker.
Ander gene wat met borskanker verbind word, sluit in P53, P65, ATM en CHECK2. Oorerflike borskanker is sowat 5 tot 10% van alle borskankers. Sommige gene verwant aan borskanker is meer algemeen onder sekere etniese groepe.
Wat is ander risikofaktore?
Blootstelling aan bestraling, 'n siekte wat verband hou met hoë vlakke estrogeen in die liggaam soos sirrose (lewersiekte) of Klinefelter-sindroom ('n genetiese afwyking).
Hoe word borskanker in 'n man opgespoor?
Mans met borskanker het gewoonlik 'n knop(pe) wat hulle kan voel. 'n Man se borste is gewoonlik nie so groot soos dié van 'n vrou nie en 'n massa word daarom makliker deur 'n man gevoel. Tog is die meeste gevalle wat ons hanteer redelik ver gevorder.
Watter tipe borskanker kom by mans voor?
Infiltrerende buiskarsinoom: Kanker wat verby die selle versprei het wat buise in die bors uitvoer. Die meeste mans met borskanker het hierdie tipe kanker.
Buiskarsinoom in situ: Abnormale selle wat in die wand van 'n buis gevind word. Dit staan ook as intra buiskarsinoom bekend.
Inflammatoriese borskanker: 'n Tipe kanker waar die bors rooi en geswel is en warm voel.
Paget-siekte van die tepel: 'n Gewas wat uit buisies onder die tepel tot op die oppervlak van die tepel gegroei het.
Lobêre karsinoom in situ: Abnormale selle wat in een van die lobbe of dele van die bors voorkom.
Watter toetse en prosedures word gevolg?
Biopsie: Die verwydering van selle of weefsels wat onder 'n mikroskoop deur 'n patoloog ondersoek word vir enige tekens van kanker. Die volgende is verskillende tipes biopsies:
Fynnaald aspirasie (FNA) biopsie: Die verwydering van weefsel of vloeistof met 'n fyn naald.
Kernbiopsie: Die verwydering van weefsel deur 'n wye naald te gebruik.
Verwyderingsbiopsie: Die verwydering van 'n hele weefselknop.
Estrogeen en progesteroonreseptortoets: 'n Toets om die hoeveelheid reseptors vir estrogeen en progesteroon (hormone) in kankerweefsel te toets. Word kanker in die bors gevind, word die weefsel van die gewas in 'n laboratorium ondersoek om te bepaal of estrogeen en progesteroon die manier kan beïnvloed hoe die kanker groei. Die toetsuitslae wys watter hormoonterapie die kanker moontlik kan verhoed om te groei.
HER2-toets: 'n Toets om die hoeveelheid HER2 in kankerweefsel te meet. HER2 is 'n groeifaktorproteïen wat groeiseine na selle stuur. Wanneer kanker vorm, kan die selle moontlik te veel van die proteïen vervaardig en veroorsaak dat meer kankerselle groei. Word kanker in die bors gevind, word weefsel uit die gewas in 'n laboratorium getoets om te bepaal of daar te veel HER2 in die selle is. Die toetsuitslae sal wys watter monoklonale teenliggaamterapie kan die kanker verhoed om verder te groei.
Wat is die normale behandeling?
Behandelings vir borskanker in beide mans en vroue is oor die algemeen dieselfde. Baie mans trek voordeel uit 'n kombinasie van verskillende behandelings.
Chirurgie: Die tipiese behandeling vir mans is 'n mastektomie waartydens die hele bors verwyder word. Die gewas kan ook net verwyder en die bors behou word. Die chirurg sal ook een of meer van die limfkliere verwyder om te sien of die kanker versprei het.
Bestraling: Bestraling word gewoonlik ná chirurgie gebruik omdat dié gewasse dikwels gevorder is en sonder bestraling is daar 'n goeie kans dat dit weer sal terugkeer.
Chemoterapie: Die behandeling geskied of per mond of binneaars en val kankerselle aan. Dit word dikwels ná chirurgie gebruik om die risiko te verlaag dat die kanker terugkeer. Vir mans met gevorderde borskanker of kanker wat versprei het na ander dele van die liggaam (metastatiese kanker), is dit dikwels die primêre behandeling.
Hormoonterapie: Sommige tipes borskanker het sekere tipes hormone nodig om te groei. Hormoonterapie blokkeer die uitwerking van dié hormone. Tamoxifen of ander medikasie kan hiervoor gebruik word. Die uitwerking van die nuwe inhibeerders soos Arimidex en Femara, sowel as Aromasin, is egter nog nie baie onder mans bestudeer nie. Soms word die verwydering van die testes gebruik om die hoeveelheid sekere manlike hormone in te verminder. Mans met borskanker moet nooit testosteroon gebruik nie.
Hormoonterapie word dikwels ná chirurgie gebruik om die risiko te verminder dat die kanker terugkeer. Vir mans met plaaslike gevorderde of metastatiese kanker kan dit die primêre behandeling wees.
Biologiese terapie: Dit is 'n nuwe benadering. Sommige mans het 'n oormaat van 'n proteïen wat maak dat kanker vinnig versprei. Herceptin is 'n goedgekeurde medikasie wat metastatiese kanker behandel. Dit stop die betrokke proteïen wat die kankerselle laat groei. Dit kan ook jou immuunstelsel 'n hupstoot gee en dit sodoende meer krag gee om teen die kanker te baklei.
Watter rol speel manlike hormone en estrogeen?
Klaarblyklik speel hormone 'n belangrike rol, maar omdat die voorkoms van die siekte onder mans so skaars is, is daar nie intensiewe navorsing beskikbaar nie en is die presiese rol van hormone onbekend.
Mans wat met estrogeen-blokkeerders behandel word, het dikwels wisselvallige buie, voel geïrriteerd of kwaad.
Is die oorlewingskoers hoër as vir vroue?
Nee, die kanse vir oorlewing is laer as vir dié van vroue en om 'n verskeidenheid redes. Die belangrikste is dat mans minder geneig is om dokter toe te gaan en dit teen daardie tyd reeds gevorder is. Danksy die anatomie van die manlike liggaam met min borsweefsel, kan klein gewasse die omliggende weefsel infiltreer wat dan vinnig versprei.
Pa het borskanker, wat is sy dogter se kans?
Elke man wat met borskanker gediagnoseer word, behoort vir genetiese toetse te gaan. Die kanse is goed dat hy die draer van die borskanker geenmutasies is en dit daarom deur sy kinders oorgeërf kan word.
• www.apffelstaedt.com; www.can.org.na; [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie