Jy kan ’n perd na water lei . . . of nie

Die getal diere het sedert die begin van die droogte drasties verminder.
Tanja Bause
Tanja Bause - Die wilde perde van die Garub-vlaktes in die Namib Naukluft-park naby Aus is weens die voortgesette droogte in 'n stryd om oorlewing gewikkel. Vanjaar was daar weer eens geen verligting in die vorm van enige winterreën nie, en op die vlaktes is daar byna geen plantegroei meer nie.

Nou, meer as ooit, is die voortbestaan van die wilde perde afhanklik van voer wat landswyd deur Namibiërs geskenk word.

Volgens 'n verklaring wat deur Gondwana Collections uitgereik is, het nie 'n enkele vul sedert die begin van die droogte in 2013 oorleef nie.

Sedert 2014 is nie meer as 5 mm reën op ’n slag by die Garub-vlaktes gemeet nie, wat te min reënval is om nuwe gras te laat ontkiem en bestaande gras behoorlik te laat groei. Die toestand van die 40 merries en 70 hingste wat nog oor is, het in die laaste 23 maande gewissel afhangend van die kwaliteit van die voer wat geskenk is.

Amper ’n kwart van die perde se toestand het drasties versleg. Die helfte van die perde is in ’n bevredigende toestand en die res is nog in ’n goeie toestand. Volgens die verklaring sal baie van die perde nie op hul eie oorleef nie, maar die Namibia Wild Horses Foundation (NWHF) glo dit is moontlik om die kerngroep met verdere skenkings vir voer te red.

“Sedert die begin van die droogte het die gevlekte hiëna toenemend onder die wilde perde gemaai, wat ook 'n invloed op hul stryd om oorlewing het. Baie van die hiëna se natuurlike prooi, soos gemsbokke en springbokke, het ná die goeie reën in 2017 meer Noord getrek.”

Die NWHF het gesprekke met die ministerie van die omgewing en toerisme (MET) gevoer oor ’n oplossing om die voortbestaan van die perde te verseker. Verskillende oplossings is bespreek, waaronder die moontlikheid om die perde na ’n geskikte stuk grond weg van die hiënas af te verskuif. Dit is egter nie nou ’n lewensvatbare oplossing nie omdat die geskikte grond sowat N$35 miljoen gaan kos. Volgens die verklaring sal dit egter te lank duur om dié reusebedrag in te samel - tyd wat die perde nie het nie.

Tydens ’n vergadering met die NWHF vroeër vanjaar het die MET ingestem die gevlekte hiënas mag gevoer word. Dit het die druk op die perdebevolking ietwat verlig, en minder perde het die hiënas maandeliks ten prooi geval. Dit bly egter ’n korttermynoplossing en die getalle van die perde neem steeds drasties af. Volgens die verklaring kan die wilde perde in die huidige situasie binnekort uitsterf, sou drastiese stappe nie vinnig geneem word nie.

Intussen is die Aus-Lüderitz Tourism & Business Action Group deur ’n groep individue gestig wat direkte bande met die toerismebedryf het. Die groep het ook, in samewerking met die Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid se tak op Lüderitz, die ministerie genader oor die belangrikheid van die perde nie net vir die toerismebedryf nie, maar ook vir die //Kharasstreek en die land as geheel.

“Met die hulp van statistieke kon die aksiegroep bewys die wilde perde is onder die top-10 toeriste-aantreklikhede in die land. Die diere is op dieselfde vlak as die Visrivier-canyon en Kolmanskop,” lui die verklaring.

Die groep is van mening die perde moenie verskuif word nie, omdat die diere reeds langer as 100 jaar op die vlaktes 'n tuiste het en nie enige kompetisie vir ander diere in die park is nie. Volgens die aksiegroep is dringende ingryping nodig. Begrip word getoon vir die bestuur van die hiënas as enigste oplossing tans om die oorlewing van die perde te verseker. Dit is egter in die hande van die MET.

Gesprekke tussen die aksiegroep, NWHF en die ministerie duur voort, maar volgens die verklaring is elke oomblik nou van kardinale belang omdat die toestand van die wilde perde daagliks verswak en die diere steeds deur hiënas gejag word.

“Ons dank gaan aan die werkers van Klein Aus Vista wat die voer aan die perde en hiënas uitdeel. Ook al die lede van die gemeenskap dwarsoor die land wat goedgunstiglik aan die NWHF geld vir voer skenk. Ons bedank u met ons hele hart. Die voer is ’n lewenslyn vir die perde en ons hoop dat die somerreëns vanjaar sal kom en verligting sal bring.”

Skenkings vir voer kan gemaak word aan Namibia Wild Horses Foundation, FNB, rekeningnommer: 6224 6659 489, Klein Windhoek-tak: 281479, swift kode: FIRNNANX.

Kommentaar

Republikein 2024-11-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 37° Rundu: 22° | 38° Eenhana: 21° | 37° Oshakati: 22° | 34° Ruacana: 19° | 37° Tsumeb: 25° | 37° Otjiwarongo: 21° | 36° Omaruru: 20° | 38° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 18° | 34° Henties Bay: 14° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 18° | 34° Mariental: 18° | 35° Keetmanshoop: 18° | 35° Aranos: 17° | 35° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 17° | 34° Oranjemund: 14° | 27° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 16° | 32° Lubumbashi: 16° | 33° Mbabane: 12° | 25° Maseru: 7° | 24° Antananarivo: 17° | 27° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 19° | 30° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 24° Durban: 14° | 23° Johannesburg: 13° | 27° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 30° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!