Jy mag nie vir skuld opgeskroef word in diu00e9 hof nie
Jy mag nie vir skuld opgeskroef word in diu00e9 hof nie

Jy mag nie vir skuld opgeskroef word in dié hof nie

Nellie Brand-Jonker – Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het die uitspraak deur die hooggeregshof in Pretoria verwelkom dat landdroshowe, eerder as hooggeregshowe, gebruik moet word wanneer daar stappe teen skuldenaars gedoen word.

’n Volle regbank het die uitspraak in die saak van Nedbank teen Thobejane en ander verwante sake gelewer.

Die saak hou verband met ’n algemene praktyk deur skuldeisers om siviele sake teen skuldenaars in die provinsiale hooggeregshowe te bring, in stede van landdroshowe, terwyl albei die howe bevoeg is om die sake aan te hoor.

Die hof moes besluit of dié praktyk ’n uitwerking het op skuldenaars se reg om toegang tot die howe te kry.

Die Menseregtekommissie (MRK) het tot die saak toegetree as ’n vriend van die hof.

Die MRK het aangevoer dat, hoewel die hooggeregshowe wettiglik die sake mag aanhoor, hulle nie altyd die sake moet aanhoor nie.

Die MRK het sy argument gegrond op die beginsel dat albei kante in ’n dispuut aangehoor moet word, en het aangevoer dat die praktyk van banke, finansiële instellings en kredietverskaffers om sake na hooggeregshowe te neem, veroorsaak dat skuldenaars nie ’n redelike kans kry om hul saak te stel nie, weens die koste om toegang tot die hooggeregshowe te kry.

Die MRK het ook aangevoer dat banke verplig moet word om die koste-implikasies vir mense wat onder finansiële druk is, in ag te neem wanneer daar besluit word oor die plek waar die saak aangehoor moet word.

Die regters het dit in hul uitspraak benadruk dat die “eiser se reg nie die keuse van die hof moet dikteer ten koste van die verweerder se reg om toegang tot die regstelsel te kry nie”.

Die regters was dit eens dat dit beter is as ’n siviele saak in ’n landdroshof aangehoor word wanneer dit onder sy jurisdiksie val.

“Soos wat die benadering oorsee is, is daar bevind dat toegang tot die regstelsel ’n belangrike element van die oppergesag van die reg is. Howe is verplig om te waak teen ’n regstelsel wat veroorsaak dat verweerders wat ’n geldgebrek ly, daartoe uitgesluit word.”

Die hooggeregshof in Pretoria het nou beveel siviele sake waarvan die monetêre waarde binne die jurisdiksie van die landdroshowe val, moet vanaf 2 Februarie 2019 in dié howe gebring word.

’n Hooggeregshof sal net sulke sake mag aanhoor indien die landdroshof toestemming gegee het daarvoor. Die regters het ook bevind die hooggeregshof het die mag om ’n saak na ’n ander hof te verwys as dit in die belang van geregtigheid is.

“Daar word in hierdie uitspraak kennis geneem van die feit dat Suid-Afrika ’n land is met groot armoede, ongelykheid en baie hoë regskoste. Ingevolge die Grondwet vereis die oppergesag van die reg dat ’n gepaste en gesonde balans gevind moet word tussen die regte van litigante (in hierdie geval finansiële instellings) om sake na die howe te bring, en die regte van skuldenaars, wat gewoonlik ’n gebrek aan geld het, om toegang tot die regstelsel te kry.”

In die uitspraak is daarop gewys dat daar bykans 550 landdroshowe in die land is, terwyl daar net 14 hooggeregshowe is en dat hulle hoofsaaklik in stede geleë is.

Die regters het opgemerk die voorkeur van skuldeisers om die sake na die hooggeregshowe te neem, veroorsaak vertragings in dié howe en beïnvloed die regte van skuldenaars om toegang tot die regstelsel te kry. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer