Jy verbeel jou nie, melk u00eds duurder
Jy verbeel jou nie, melk u00eds duurder

Jy verbeel jou nie, melk ís duurder

Vida Booysen - Verbruikers verbeel hulle nie. Melkpryse ís tans hoër as 'n jaar gelede.

Die goeie nuus is dat die prys waarskynlik nie vanjaar veel meer sal styg nie.

Volgens 'n verslag deur die Suid-Afrikaanse melkverwerkersorganisasie het vars melk se rakprys in die jaar tot einde Maart 2017 met 12,4% gestyg en die prys van botter met 'n stewige 26,7%.

Dieselfde verslag toon ook hoe verbruikers swig onder finansiële druk en minder ­suiwelprodukte koop as 'n jaar gelede. Verkope van ses van die nege melkprodukte wat in die plaaslike mark gemonitor word, het in die 12 maande tot Maart 2017 gedaal.

Tot 3,3% minder vars melk en 2,1% minder langlewemelk is in die 12 maande tot Maart vanjaar verkoop.

Volgens dr. Koos Coetzee, ekonoom van die Melkprodusente-organisasie, is daar nie veel ruimte vir pryse om vanjaar verder te styg nie.

“Dit lyk egter of internasionale pryse nog nie hul piek bereik het nie.”

In die winter produseer koeie ook normaalweg minder melk en dit het ook 'n invloed op voorraad en prys.

Suiwelboere moet die hoeveelheid droë en lakterende koeie in hul kudde versigtig bestuur as hulle melk vir die winter wil produseer. Dit behels onder meer bykomende wintervoer om produksie te stimuleer.

“Dit lei tot hoër produksiekoste van melk in die winter en die bedryf betaal dikwels 'n premie vir vars melk in dié tyd,” verduidelik dr. Chris Lerm, voorheen verbonde aan Clover en 'n kenner van die plaas­like suiwelmark.

Die prys van botter het vanjaar skerp met tot 70% op internasionale markte gestyg, sê Coetzee.

Terselfdertyd het die prys van afgeroomde melk met 12% gedaal.

Die styging is die gevolg van vraag- en aanbod-faktore, verduidelik Coetzee.

“Verbruikers se persepsie oor die gesondheidsvoordele van plantvette teenoor dierevette is aan die verander namate wetenskaplike bewyse oor die voordele van botter bekend word.”



TEKORT AAN BOTTER

Die suiwelbedryf beleef ook tans 'n bottertekort, onder meer weens die gewildheid van die Banting-dieet, wat 'n hoë vet- en proteïen-inname voorstaan.

Wanneer daar 'n ommeswaai van laevet- na volroomprodukte kom, is daar minder room be­skikbaar waarmee botter gemaak kan word, verduidelik Coetzee.

“Produsentepryse in Suid-Afrika moedig suiwelprodusente nie aan om hoëvetmelk te produseer nie omdat die premie wat vir botter betaal word nog laag is vergeleke met die prys wat vir melk verkry word.”

Dit beteken dat plaaslike verwerkers botter teen hoë pryse invoer.

“Hoewel die voorraadvloei na plaaslike kleinhandelaars dalk nou knap is, is die kanse dat die sekondêre bedryf dit wel sal regkry om genoeg botter te verskaf om in die plaaslike vraag te voldoen.”

Jacques van Heerden, uitvoerende hoof van regs-, sekretariële en mensehulpbrondienste by Clover, sê daar is inderdaad 'n taamlike tekort aan botter in die land en dit is onseker hoe lank dit nog sal voortduur.

Sy maatskappy sal nie sommer invoer nie.

“Ons botter het 'n bewese resep wat oor baie jare ontwikkel is en aangesien ingevoerde produkte nie aan ons gehalte­vereistes voldoen nie, is ons huiwerig om in te voer.”

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!