Jy wil weet wat in u2018Prodigal Sonu2019 gaan gebeur
Jy wil weet wat in u2018Prodigal Sonu2019 gaan gebeur

Jy wil weet wat in ‘Prodigal Son’ gaan gebeur

Lloyd Zandberg
Deur AJ Opperman

Om te moor, ís dalk in die gene, maar ’n pa en seun staan aan weerskante van die gereg in die nuwe dramareeks Prodigal Son.

Dié reeks van Fox Broadcasting Company begin Woensdag om 21:00 op M-Net.

Tom Payne vertolk die rol van Malcolm Bright, ’n voormalige FBI-profielsamesteller, wat die denke en gedrag van ’n reeksmoordenaar tot op sy vingerpunte ken.

Hy los moorde vir die NYPD (New Yorkse polisiedepartement) op.

Wat sy kollegas (aanvanklik) nie weet nie, is dat hy die seun is van ’n berugte reeksmoordenaar genaamd The Surgeon (vertolk deur Michael Sheen), wat in die 1990’s in hegtenis geneem is.

Op ’n misdaadtoneel duik The Surgeon se naam op.

Iemand vra of Malcolm hom ken, en hy antwoord: “Soos familie.”

Steeds weet net lt. Gil Arroyo, wat Malcolm as konsultant aangestel het, van die werklike bloedverwant met The Surgeon.

The Surgeon, oftewel dr. Martin Whitly, het meer as 20 moorde op sy kerfstok.

Malcolm weet hoe ’n reeksmoordenaar dink, wat hom ’n aanwins vir enige ondersoekspan maak, maar sy groot vrees is dat hy ook in ’n sosiopaat sal ontaard.

Wanneer die reeks begin, het Malcolm ’n dekade laas met sy pa gepraat. Hy het hom voorheen gereeld in die gevangenis besoek.

Terugflitse dui aan hoe sy pa voor hom in hegtenis geneem is toe hy ’n kind was.

Dan veroorsaak ’n moordsaak dat hy weer met sy pa kontak maak en hy besoek hom in sy sel.

Só het jy nog nie die Walliese Sheen vasgeketting as ’n gladdebek-reeksmoordenaar gesien nie. ’n Mens wil eintlik meer van hom sien, al het hy so ’n bose, geveinsde glimlag.

Die vervaardigers Chris Fedak en Sam Sklaver het ’n interessante dinamika tussen pa en seun geskep met dialoog wat jou soms laat giggel, donker soos dit is.

Die eerste episode bied genoeg stof dat ’n mens die reeks se ontknoping wil volg.

’n Mens moet ’n bietjie konsentreer, want die hede en die verlede spring rond, maar die storie boei steeds.

Soms sal jy skrik, maar meer as dit, sal jy eintlik in ongeloof staan oor wat jy as kyker gadeslaan.

’n Mens wonder net hoe die ma (vertolk deur Bellamy Young) ’n verhouding met ’n man soos The Surgeon kon aanknoop en selfs met hom kon trou en kinders by hom hê, maar uiteraard dui dit op die sjarme en skyn wat so iemand kan voorhou.

Malcolm voer ’n innerlike stryd van sy eie, soos die nagmerries waaroor hy nie beheer het nie.

’n Mens kan raai hy sal weer die tralies van sy pa se sel sien. Want onthou: Sy pa beskik oor handige kennis, of Malcolm dit nou wil weet of nie.

* Prodigal Son word Woensdae om 21:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai.

Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer