Kaalkiekies saai amok aanlyn
Kaalkiekies saai amok aanlyn

Kaalkiekies saai amok aanlyn

Verskeie vroue het die afgelope drie weke hul lewens probeer neem nadat eksminnaars glo gedreig het om naakfoto's te openbaar.
Denver Kisting
Denver Kisting



So onlangs soos gisteroggend moes die stadspolisie in Windhoek hulle na 'n toneel haas nadat 'n vrou haar lewe probeer neem het weens gelekte kaalfoto's.

Die afgelope minder as drie weke alleen wou minstens 10 vroue in die hoofstad hul lewe neem ná eksminnaars gedreig het om kaalfoto's van hulle in die sosiale media te deel.

Konst. Felisiana Tyiwana, 'n woordvoerder van die stadspolisie, het gisteroggend tydens die ontbytprogram Good Morning Namibia op NBC kommer uitgespreek oor wat die owerhede as 'n toename in dié tendens bestempel.

“Dit is baie ernstig,” het Tyiwana gesê.

Sy het 'n streng waarskuwing uitgereik aan veral vroue om nie naakfoto's of -video's met hul minnaars te deel nie. Dit is beter om jou minnaar regstreeks te sien as om naakbeeldmateriaal uit te ruil en dit in 'n latere stadium te berou, meen sy.

Die gevaar is dat dit uitgelek kan word wanneer die verhouding op die rotse beland, het Tyiwana gesê.

Republikein verneem 'n vrou moes onlangs gewaarsku word om op te hou om 'n bekende dokter vir geld af te pers.

Dié getroude mediese praktisyn het glo kaalfoto's met die vrou, wat hy op Facebook ontmoet het, gedeel en moes gevolglik herhaalde kere opdok om te verhoed dat sy hul korrespondensie aan die groot klok hang.

Die vrou het ná die waarskuwing deur die owerhede glo opgehou om die dokter vir geld te melk.

Hy wou na wat verneem word vanweë sy posisie en huwelikstatus nie 'n ­strafregtelike klag teen haar aanhangig maak nie.

In een van die ander voorvalle wou 'n vrou haar lewe beëindig nadat die getroude man, met wie sy intieme beeldmateriaal en boodskappe gedeel het, se vrou die geheime gesprekke ontdek het.

Die man se vrou het na bewering skermgrepe van die korrespondensie tussen haar man en die vrou, glo 'n grootkop by haar werkgewer, geneem en het gedreig om dit in sosiale media te deel.

Selfdood eis jaarliks honderde mense in Namibië.

Tussen Januarie 2017 en Februarie verlede jaar het 496 mense in die land aan hul eie hand gesterf.

'n Geestesgesondheidskenner, dr. Shaun Whittaker, het vroeër gesê die land benodig 'n sentrum wat op selfdoodvoorkoming fokus.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!