Kaapse toer verryk Maltas-klublede
Kaapse toer verryk Maltas-klublede

Kaapse toer verryk Maltas-klublede

Lede van die Maltas-klub het onlangs 'n opvoedkundige toer na Kaapstad en Stellenbosch onderneem.

Dié niewinsgewende organisasie is agt jaar gelede gestig om jong Namibiërs te bemagtig deur hul leierskap en potensiaal vir entrepreneurskap te ontwikkel.

Volgens die stigter, dr. Wilfred April, is die vereiste vir lede om lid van die klub te wees, dat elkeen vrywillige gemeenskapswerk in Namibië moet doen.

"Elke lid moet ook op 'n toer in die streek of na die buiteland gaan om meer oor ander kulture te leer en hulself aan inligting bloot te stel wat nie deel van hul akademiese kurrikulum is nie," sê April.

"Hierna word in Maltas verwys as lewenslesse wat geen handboek jou ooit kan leer nie."

April het gesê die Kaapse reis was drievoudig: Om geleenthede vir verdere studies te identifiseer, om met mense van 'n ander land en kultuur saam te leef, en om die professionele en persoonlike ontwikkeling van elke jong leier te bevorder.

"Vir al die lede was dit die eerste keer in hul lewens wat hulle 'n paspoort gekry het en buite die grense van Namibië gereis het," verduidelik April.

"Sekretaris-generaal Johannes Shikwambi het baie lank vir hierdie oomblik gewag en dit was vir hom baie anders as sy lewe in Katutura."

In Stellenbosch het studente die bedryfsielkunde- en sakebestuurdepartemente besoek, asook een van die wêreld se grootste ondergrondse biblioteke.

"Vir Maltas se gemeenskapsontwikkelingsbestuurder, me. Tuyeni Abisalam, was die ervaring oorweldigend en sy wil haar bes doen om haar studies in Suid-Afrika voort te sit," sê April.

Die visepresident, me. Selma Ingo, was weer beïndruk met die vervaardigingsektor in Suid-Afrika en sy wil in 2020 bedryfsielkunde aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

In Kaapstad het hulle Canal Walk, Kenilworth (Access Park), markte en die Victoria en Alfred-waterfront besoek.

Op pad terug het die span by Hoërskool Suiderlig op Keetmanshoop gestop waar hulle graad 12-leerlinge vir hul voorbereidingseksamen in Augustus gemotiveer het.

April beskryf die toer as baie suksesvol: "Jong mense leer teen hul eie pas en hulle moet net geleenthede gegun word."

Hy is beïndruk met vanjaar se groep jongmense van verskillende Namibiese universiteite.

"Ek kan nie wag om te sien wat die toekoms vir elkeen van hulle inhou nie," het April gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer