Kaapse toerisme herstel ná droogte, wys syfers
As jy verlede jaar op die Kaapstadse Internasionale Lughawe geland het of van daar opgestyg het, was jy een van byna 11 miljoen mense wat in 2019 deur dié lughawe beweeg het.
Die Kaapstad-metro sê in ’n verklaring die aantal reisigers wat verlede jaar hierdie lughawe gebruik het, het met sowat 2% in vergelyking met die vorige jaar gestyg.
“Dit is verblydend as ’n mens die uitwerking van die droogte en ander uitdagings in ag neem,” lui die verklaring.
“Die aankomelinge het altesaam van 5 364 704 in 2018 tot 5 468 093 in 2019 gestyg. Dit is ’n toename van 103 389 passasiers.
“Die groei in die toeristegetalle weerspieël die aantreklikheid van Kaapstad as toeristebestemming. Ons is bly dat die besoekerstalle toegeneem het. Dit is ’n belowende herstel nadat die droogte die toerisme belemmer het,” sê Dan Plato, burgemeester van Kaapstad.
Hy sê die stad bly ’n gewilde bestemming, “en ons sal voortgaan om hard te werk om Kaapstad te bemark as toeristebestemming, want dit is die ruggraat van werkskepping”.
Die persentasie binnelandse vlugte het in Desember verlede jaar met 4,92% in vergelyking met Desember 2018 toegeneem. Die algehele binnelandse aankomste vir verlede jaar het in vergelyking met 2018 ’n toename van 2,56% getoon.
Op streek- en internasionale gebied het die besoekerstal in 2019 met ’n halwe persentasiepunt in vergelyking met 2018 gegroei.
“Ons is optimisties dat daar ’n beduidende groei in ons plaaslike en internasionale aankomste gedurende ons tradisionele piek-toeriste-seisoen van Januarie tot Maart vanjaar sal wees,” sê James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur.
“Die toerismebedryf is verlede jaar swaar getref deur die gevolge van die droogte, maar die verslae van baie van ons toerismevennote is grootliks positief,” sê hy.
“Vir die feestyd – wat in Desember begin het en tot Maart sal duur – verwag ons byna 50 000 reisigers net uit Brittanje, ’n toename van 30% in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar,” sê Vos.
“Intussen toon Duitse besoekers ’n toename van 20% en dié uit die VSA 11%. Hierdie syfers is op werklike vlugbesprekings gegrond.” – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie