Kaapstad steier onder brande
Vure in en om die Kaap word deur stormsterk winde aangeblaas.
Ná 'n naweek van verwoestende brande wat meer as 15 000 mense haweloos gelaat het en waarin talle gesterf het, het brandbestryders gister steeds gespook om brande in en om Kaapstad te blus.
Theo Layne, woordvoerder van Kaapstad se brand- en reddingsdienste, sê die brand op Karbonkelberg in die Tafelberg Nasionale Park naby Sandy Bay brand steeds op onbegaanbare plekke.
Dit kom nadat die brand Sondag ontstaan en deur stormsterk winde aangeblaas is.
“Drie brandweerwaens, een watertenkwa en altesaam 19 brandbestryders is op die toneel.”
Intussen woed 'n brand wat ook Sondag in die Boskloof-landgoed in Somerset-Wes ontstaan het, steeds voort. Die brand woed ook op 'n onbegaanbare plek, sê Layne.
Ses brandweerwaens, twee watertenkwaens en altesaam 34 brandbestryders was gisteroggend op die toneel.
Geen eiendom of lewe is in die stadium by enige van die brande in gevaar nie.
Nog 'n brand, wat ook Sondagmiddag in Ocean-rylaan ontstaan het, is gisteroggend in bedwang gebring en word deur die Tafelberg Nasionale Park gemonitor, sê Layne.
Intussen het Kaapstad se rampbestuur en ander dienste van die stadsraad sowel as nieregeringsorganisasies Sondag 'n markiestent op die Houtbaai-sportterrein opgerig vir die meer as 15 000 mense wie se huise in die brand in die informele nedersetting Imizamo Yethu, Houtbaai, verwoes is. Mense het skenkings vir die inwoners wat die meeste van hul besittings in die brand verloor het, hierheen gebring.
Van die skenkings sluit in sakke met babadoeke, kos, nie-bederfbare kos en klere.
BID VIR REëN
Daniël Maritz, voormalige onderburgemeester van George, het intussen gesê inwoners van Kaapstad moet op hul knieë gaan en bid vir reën.
Hy is van mening dat 'n biddag vir reën in Kaapstad gereël moet word waarby Patricia de Lille, die stad se burgemeester, en al die kerklike leiers betrokke is.
“Dit kan help om die droogte te verlig en met die krisis wat die stad in die gesig staar.”
Hy het reeds in die verband 'n boodskap aan Helen Zille, Wes-Kaapse premier, en Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, gestuur.
Maritz benadruk hy probeer nie vir Kaapstad sê wat hy moet doen nie. “Ek praat net uit ondervinding uit ná wat destyds hier in George gebeur het.”
Dié dorp het in 2010 'n erge droogtekrisis beleef. Hy was in daardie stadium speaker van die stadsraad.
“Stappe is gedoen om die droogte aan te pak deur onder meer 'n watersuiweringsaanleg te bou.
“Ek het destyds namens die stadsraad geestelike leiers gekontak. Ons het 'n openbare geleentheid op Outeniquapark gereël waar vir reën gebid is. Die volgende week het dit begin reën.”
- Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie