Kabeljou-slagting

Vir weke is honderde kabeljou op strande noord van Hentiesbaai gevang.
Francoise Steynberg
Erwin Leuschner op Swakopmund - Sedert die begin van die feesseisoen is honderde vis daagliks ingekatrol, maar min mense gehoorsaam die reëls, en hou blatant meer vis as wat die wet toelaat.

"Dit is 'n nagmerrie. Dit is skokkend," het mnr. Spyker Kruger, 'n visserman van Hentiesbaai, gesê wat vistoere aanbied. Hy en baie ander vissermane is bekommerd oor die toekoms van Namibië se visbronne.

"Daar is 'n paar skuiwergate," het mnr. Herman Honeb, die direkteur van die Hanganeni Artisinal Fishing Association (Hafa) en burgemeester van Hentiesbaai erken.

Hafa reik verskillende permitte aan sogenaamde "geassosieerde lede" uit, "maar ons wil nie teen enigiemand diskrimineer nie, so ons reik ook permitte aan afgetrede inwoners uit," het Honeb gesê.

Hy sê aangesien Hafa bedoel is vir werklose persone, is daar nie 'n kwota vir vissermanne met so 'n permit nie - hulle kan dus meer as tien visse vang soos deur die wet beperk word.

"Ons was onlangs op die strand en 'n ou langs my het sonder einde kabeljou gevang," het Kruger gesê.

Hy sê hy het die man gekonfronteer wat "gespog" het dat hy by Hafa geregistreer is en dus soveel vis kan vang soos hy wil. Hy het toe glo reeds 54 kabeljoue gevang.

"Ek was sprakeloos," het Kruger gesê en bygevoeg dat al die vis groter as 70 cm was en eiers gedra het, maar dit was volgens hom nie 'n geïsoleerde geval nie

"Hierdie gevalle stel Hafa en Hentiesbaai in 'n swak lig en vernietig die betekenis van Hafa," het Honeb gesê. Om hierdie rede het hy alle permitte aan "geassosieerde lede" Woensdag gekanselleer.

GEEN BEHEER

Die Hafa-sage is egter nie die enigste aspek van uitbuiting wat op die strande plaasvind nie. Verskeie ander ervare strandhengelaars kritiseer die visinspekteurs wat min tydens die afgelope feesseisoen teenwoordig was en slegs 'n padblokkade nou en dan opgestel het.

Sommige vissermanne het gesê hulle het die hele seisoen nie een keer 'n visinspekteur gesien nie. "En die padblokkades is nutteloos, want die vissermanne weet presies waar hulle is en waar om hulle te omseil," het een gesê.

Verder het baie vissermanne blatant die reëls oortree, want die boetes is "belaglik" laag.

"Vir elke vis waarmee jy gevang word, ontvang jy 'n boete van N$300. Maar hierdie vis verkoop vir dubbel soveel. Die vissermanne lag net," het 'n strandhengelaar van Hentiesbaai gesê wat vra vir hoër strawwe.

Me. Rosalia Mupetani, hoofvisinspekteur van die ministerie van visserye en mariene hulpbronne, kon nie gister nie vir kommentaar bereik word nie, want sy is tans met verlof. Die waarnemende inspekteur was ook nie beskikbaar nie.

Honeb het gister kortliks gesê beide Hafa en die inspekteurs sukkel met finansiële tekortkominge, maar dit kan "binnekort verander”.

Die gebrek aan beheer deur inspekteurs was veral duidelik toe skibote daagliks van hul visvangekspedisies in die see terug op Swakopmund gearriveer het.

Sedert Oktober is baie snoek gevang en tydens Desember het skibote met maklik 500 snoek daagliks na die land teruggekeer, terwyl daar geen inspekteurs in sig was nie.

Alhoewel snoek 'n migrasie-visspesie is, mag slegs 20 snoek per persoon per dag gevang word. Net 'n paar vissermanne het by die reëls gehou, bloot weens 'n gebrek aan beheer.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!