Kabinet is Cyril se eerste werklike toets

‘Die vertraging in die bekendmaking van die nuwe kabinet is omdat Ramaphosa eers so wyd as moontlik wil konsulteer oor die regte mense.’
Llewellyn Prince

Pres. Cyril Ramaphosa se eerste werklike toets as nuwe staatshoof sal wees wie en watter kaliber mense hy in sy nuwe kabinet gaan aanstel.

Die rede hiervoor is dat die nuwe kabinetslede die nodige bekwaamheid, integriteit en politieke wil sal moet hê om Ramaphosa se “Nuwe Daeraad”- en Thuma Mina-mantra te laat realiseer én om die ANC se verkiesingsbeloftes ’n werklikheid te maak.

Khuselo Diko, Ramaphosa se woordvoerder, het gister aan ’n televisienuuskanaal gesê die vertraging in die bekendmaking van die nuwe kabinet is juis omdat Ramaphosa eers so wyd as moontlik in die ANC en sy alliansievennote wil konsulteer oor die regte mense.

Terwyl Suid-Afrikaners asem opgehou en bespiegeling hoog geloop het dat Ramaphosa ná sy inhuldiging as president Saterdag die nuwe kabinet teen gister sou aankondig, het die presidensie Sondag in ’n verklaring gesê dit sal eers “later die week” gedoen word.

Dit neem volgens Diko ook langer omdat dit die eerste keer sedert 1994 sal wees wat die kabinet veel kleiner sal wees as die vorige, oorgroot een wat goed ingepas het by oudpres. Jacob Zuma se netwerk van patronaatskap.

Die belangstelling van landsburgers in ’n nuwe kabinet was sedert 1994 selde so hoog soos nou.

Dit kan toegeskryf word aan Ramaphosa self wat sedert hy die leisels verlede jaar by Zuma oorgeneem het, die verwagtinge geskep het dat hy die land sal regruk en veral korruptes en staatskapers sal vasvat.

Daardie verwagtinge is verlede week verder verhoog toe Ramaphosa, nadat hy onbestrede tot president in die parlement verkies is, ook gesê het dat hy ’n president vir alle Suid-Afrikaners wil wees en nie net een vir ANC-ondersteuners nie.

‘VERMORSTE NEGE JAAR’

Sy hart blyk daarom op die regte plek te wees om die land ná die rampspoedige en “vermorste nege jaar” van die Zuma-era weer op die regte trajek te kry.

Ons het reeds tekens daarvan gesien met sy planne om nuwe woema in die ekonomie te blaas deur buitelandse beleggings te lok en werk te skep.

Ook met sy aanstelling van ’n nuwe direkteur van openbare vervolging, die skep van ’n nuwe Skerpioene-agtige direktoraat in die nasionale vervolgingsgesag, en planne om die intelligensiedienste reg te ruk.

Ramaphosa het dit egter baie duidelik gemaak dat die regrukpoging die samewerking van almal in die land sal vereis.

Dit is daarom ironies dat die grootste bedreiging vir daardie planne binne die mure van Luthuli-huis, die ANC se hoofkwartier, skuil.

Dit is vandaar wat Ace Magashule, omstrede ANC-sekretaris-generaal, en die res van die sogenaamde Zuma-faksie, sowel as alle ander begunstigdes van staatskaping, alles moontlik wil doen om Ramaphosa se Projek Skoonmaak in die wiele te ry omdat hul eie politieke oorlewing en persoonlike vryheid weens dit op die spel is.

Daarom is dit van uiterse belang wie Ramaphosa in sy kabinet sal insluit. Daardie aanstellings as ’n geheel sal bepaal of sy ideale en planne vir ’n beter Suid-Afrika gerealiseer sal word al dan nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!