Kabinet: Los probleme met Kuba op
Kabinet: Los probleme met Kuba op

Kabinet: Los probleme met Kuba op

Verskeie onderwerpe is op die jongste kabinetsvergadering bespreek.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn

Die kabinet het verlede Dinsdag tydens sy jongste vergadering opdrag aan die ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking gegee om die Namibië-Kuba gesamentlike werkskomitee se werksaamhede finaal te implementeer en af te handel.

Stappe moet ook gedoen word om die probleme op te los wat die volle implementering van ooreengekome aktiwiteite ingevolge die samewerkingsprogram tussen die twee lande in die wiele ry.

Dít volg nadat die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, van 14 tot 19 Februarie vanjaar ‘n besoek aan Kuba gebring het.

Die kabinet het voorts opdrag gegee dat die doeltreffende koördinering en monitering van die implementering van die samewerkingsprogram tussen Kuba en Namibië verseker moet word.

Oudpres. Raul Castro Ruz van Kuba se beplande besoek aan Namibië moet ook met die kantoor van pres. Hage Geingob gekoördineer word om seker te maak die besoek vind wel plaas.

Die kabinet het die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste opdrag gegee om die laat betaling van Namibiese studente in Kuba se toelae op te volg en op te tree, om voorsiening vir die studente se mediese versekering te maak en om reëlings te tref vir die vervoer-uitdagings wat dié studente ondervind wat nie in koshuise woon nie.

Sowel die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste as die ministerie van landbou, water en bosbou moet die Sentrum vir Genetiese Ingenieurwese en Biotegnologie in Kuba se gereedheid opvolg om Namibië met deskundiges by te staan om ‘n soortgelyke sentrum in Namibië te vestig en siektes soos onder meer cholera en geelkoors die hoof te bied.

Die sentrum in Kuba wil ook bystand met die produksie van inentings teen bek-en-klouseer verleen en help om bosluise onder diere uit te wis.

ONVERBONDE LANDE

Met die oog op die 18de spitsberaad van die beweging van onverbonde lande wat volgende jaar in Baku, Azerbaidjan, plaasvind, is besluit Namibië moet oorweeg om die spitsberaad by te woon. As die inkomende voorsitter van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) het die kabinet goedkeuring verleen dat Namibië die spitsberaad kan gebruik om die streek se agenda te bevorder en lidlande te beïnvloed oor politieke, maatskaplike en ekonomiese aangeleenthede wat vir die SADC van belang is.

STAATSHOOFDE VERGADER

Ná afloop van die Statebond se vergadering van staatshoofde wat op 19 en 20 April in Londen plaasgevind het, het die kabinet verskeie ministeries opdrag gegee om opvolgwerk te doen.

Die ministerie van die omgewing en toerisme moet voordele ten volle benut wat uit die finansiële kern vir klimaatsverandering spruit.

Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur moet verdere ondersoek instel na die voordele van die Commonwealth of Learning.

Die ministerie van visserye en mariene hulpbronne moet die Statebond se Blou Handves bestudeer en verseker Namibië trek voordeel uit die Skoon Oseaan-konsep.

Die ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking moet voortgaan met deelname aan die Statebond se ministeriële aksiegroep en moontlike gebiede van samewerking op die gebied van kuberveiligheid, hernubare energie en mensehandel ondersoek. Die ministerie moet ook ‘n interministeriële komitee op die been bring om te verseker Namibië put die maksimum voordele uit Statebond-programme.

Die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie het opdrag gekry om die moontlikheid van samewerking met Singapoer oor tegniese bystand rondom kuberveiligheid te ondersoek.

Die ministerie van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling moet met ‘n strategie vorendag kom om interstatebondhandel te versterk, en veral op waardetoevoeging en werkskepping vir die jeug fokus.

Die ministerie van visserye en mariene hulpbronne, asook dié van die omgewing en toerisme moet deelname aan die Blou Ekonomie-konferensie oorweeg wat in November vanjaar in Nairobi, Kenia, aangebied word.

Hierbenewens moet die ministerie van die omgewing en toerisme dit oorweeg om deel te neem aan die konferensie oor die onwettige handel in wildprodukte wat vir Oktober vanjaar in Londen geskeduleer is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!