Kabinet sluit vir 2020
Kabinet sluit vir 2020

Kabinet sluit vir 2020

Die staatshoof prys Namibië se Covid-teenstand, aanvaar die afgelope verkie­sings se uitslae en wil die ekonomie red.
Augetto Graig
Augetto Graig



Die laaste kabinetsvergadering van die jaar 2020 het Dinsdag by Staatshuis afgeskop met president Hage Geingob se openbare waarskuwing dat hoewel Namibië goed vaar in die stryd teen Covid-19, is die gevaar nog geensins uitgewis nie.

“In ons stryd teen die gedugte vyand ­Covid-19, wat die dood van 150 (intussen het nog 'n persoon gesterf) ­Namibiërs veroorsaak het, is ons ver onder die 4 000 Covid-sterftes wat die Wêreldgesondheidsorganisasie vir ons voorspel het,” sê hy.

Hy het sy landgenote aangemoedig om die persoonlike verantwoordelik­heid vir hul gesondheid ernstig op te neem en aan die regering se maatreëls soos hande was en maskers dra te voldoen.

Geingob het ook oor die onlangse verkiesings vir nuwe streekraads- en plaaslike owerheid­raadslede gepraat.

Hy het Namibië geprys vir die vreedsame voorbereiding en stemproses gedurende die verkiesing en sê die regerende Swapo-­party, waarvan hy die leier is, aanvaar die uitslae.

“Die landsburgers het gepraat en as demokrate aanvaar ons die uitslae. Sekeres sou wou hof toe, maar ons ken ­demokrasie en hierdie is ­demokrasie. Dis die mense van Namibië wat hier die wenners is,” sê hy.

Aan sy regering en party sê Geingob dit is tyd om dienslewering te ­verbeter.

“Dit is nooit te laat om die regte ding te doen nie,” sê hy.

Ter voorbereiding op 2021 en daaropvolgende jare is die kabinet sedert gister op 'n tweedaagse wegbreeksessie, sê hy. In Februarie sal die tweede ­Harambee-welvaartsplan (HPP) bekend gestel word.

“Ons moet die ekonomie laat herleef, om werk vir die jeug in kritieke sektore te skep, insluitend in die blou- en groen-ekonomie. Ons benodig 'n sterk ekonomiese herstelprogram. Sukses kom deur harder en slimmer as 'n eenheid te werk,” sê hy.



BOTSWANA

Geingob het ook vlugtig terugvoering gegee oor die land se gesamentlike onder­soek met Botswana na 'n voorval vroeg in November waarin vier visser­manne doodgeskiet is.

Geingob het sy ­mee­gevoel met die Nchindo- en ­Munyeme-families gedeel en sê hy treur saam oor hul “tragiese verlies van geliefde seuns en broers wat wreedaardig aan die hand van die ­skietlustige ­Botswana-weermag gesterf het.

“Ek het pas die verslag van die gesamentlike ­ondersoek deur die twee regerings ontvang. Ná deeglike studie sal die ­bevindings met die ­Nami­biese volk gedeel word,” sê hy.

Geingob het sy kabinets­lede gemaan om te waak en te veg teen verdeeldheid, stam- en streek­gebondenheid, rassisme en korrupsie, wat vreedsame samelewing en die ontwikkeling van die nasie bedreig. “Julle behoort die voorbeeld te stel,” het hy aan die ministers gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer