Kabinet sny voorgestelde NamRA-salarisse
Kabinet sny voorgestelde NamRA-salarisse

Kabinet sny voorgestelde NamRA-salarisse

'n Konsultant se oorspronklike voorstel het voorsiening gemaak vir 13 bestuurders wat elkeen maandeliks tot N$170 000 – of N$2,04 miljoen per jaar – sou verdien.
Mathias Haufiku
Mathias Haufiku en Ogone Tlhage – Die kabinet het verlede jaar 'n voorstel wat die ministerie van finansies ter tafel gelê het om die omstrede salarisstruktuur van die Namibiese Inkomste-agentskap (NamRA) te bekragtig, van die hand gewys.

Die kabinet het beswaar teen dié syfers gemaak en het konsensus bereik dat die bedrae “nie verdedigbaar is nie”, het 'n bron aan ons susterkoerant Namibian Sun gesê.

In 2019 is 'n konsultant versoek om 'n personeelstruktuur en vergoedingskale vir die agentskap voor te stel. Dit is in samewerking met die ministerie van finansies en die Bank of Namibia (BoN) gedoen.

“Hulle wou eintlik hê NamRA se vergoedingspakkette moes die regulasies van die Wet op die Beheer van Openbare Ondernemings (Pega) oorskry – plus 'n bykomende 15%,” het 'n bron aan Namibian Sun gesê.

“Die kabinet het die voorstel van die hand gewys. Die kabinet het besluit om hulle streng aan Pega Vlak 3 te verbind, soos wat deur die ministerie van staatsondernemings goedgekeur en geïmplementeer is.”

Die konsultanteverslag bevat volledige vergoedingskale, met 'n voorgestelde maandelikse salaris van N$225 000 – ofte wel N$2,7 miljoen per jaar – vir die kommissaris. Die struktuur het voorsiening gemaak vir 13 bestuurders wat elkeen maandeliks tot N$170 000 – of N$2,04 miljoen per jaar – sou verdien.

Die kabinet het 'n hersiene voorstel goedgekeur waarvolgens NamRA se hoof N$2,08 miljoen per jaar kan verdien – sowat N$700 000 minder as die salaris wat aanvanklik voorgestel is.

NamRA is vroeër vanjaar op die been gebring met 'n wegspringbegroting van N$79 miljoen.



RIGLYNE

Amptelike dokumente wat Namibian Sun onder oë gehad het, dui aan die kabinet het die ministerie van staatsondernemings opdrag gegee om NamRA se vergoedingsklassifikasie as 'n Vlak 3-staatsonderneming te hersien.

“Die kabinet het gelas dat alle vergoeding vir NamRA se personeellede binne die goedgekeurde vergoedingsindeling moet wees,” lui 'n dokument gedateer 25 Augustus 2020.

Die ministeries van staatsondernemings en finansies is ook aangesê om die ontwikkeling van 'n sakeplan, sowel as inkomsteramings en prestasiedoelwitte vir die belastinginvorderaar, te vergemaklik.

Die minister van staatsondernemings, mnr. Leon Jooste, het Maandag gesê NamRA se sakeplanne moet nog ingedien word. Hy het nie aangedui of daar 'n sperdatum vir hierdie indiening is nie.

“Daar was geen versoek om vrystelling nie en hulle (NamRA) is dus verplig om die riglyne te volg,” het hy bygevoeg.

Die kommissaris en die uitvoerende span werk op prestasiegebaseerde kontrakte van vyf jaar, terwyl die res van die personeel voltyds in diens is.

Terwyl die kabinet die eksterne werwing van senior, middelbestuur en spesiale eenhede goedgekeur het, het diegene wat onder die Direktoraat Binnelandse Inkomste gewerk het, onlangs die werwingstrategie van die agentskap bevraagteken, met aantygings van nepotisme en uitsluiting.

Ongeveer 1 200 personeellede van die direktorate van binnelandse inkomste en doeane en aksyns sal na NamRA oorgeplaas word.

Ontevrede werkers beweer hulle is die versekering gegee dat hulle voorkeur sal geniet, maar nou word van hulle verwag om met buitestanders mee te ding. Daar is glo ook aan sommige gesê dat hulle na ander ministeries oorgeplaas sal word as hulle nie die mas opkom nie.

Werknemers voer ook aan dat salarisstrukture nie met die betrokke vakbonde gedeel word nie.

“Daar is geen kommunikasie met die huidige werkers nie; dinge word net op ons afgedwing, ongeag hoe dit ons beïnvloed,” lui die klagskrif.

NamRA se uitvoerende hoof, mnr. Sam Shivute, het in 'n verklaring wat die afgelope naweek uitgereik is, gesê: “Ons is bewus van die moontlikheid dat die instelling van die agentskap dalk nie deur almal verwelkom sal word nie, veral nie deur diegene wat wil hê die huidige status quo – waar sommige steeds hul belastingverpligtinge ontduik – moet volgehou word nie.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-10-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Everton 0 vs 0 Newcastle | West Ham 4 vs 1 Ipswich Town | Manchester City 3 vs 2 Fulham | Leicester City 1 vs 0 Bournemouth | Brentford 5 vs 3 Wolves | Arsenal 3 vs 1 Southampton | Crystal Palace 0 vs 1 Liverpool LaLiga: Real Madrid 2 vs 0 Villarreal | Real Valladolid 1 vs 2 Rayo Vallecano | Las Palmas 0 vs 1 Celta Vigo | Getafe 1 vs 1 Osasuna | Espanyol 2 vs 1 Mallorca | Leganés 0 vs 0 Valencia SerieA: Inter Milan 3 vs 2 Torino | Atalanta 5 vs 1 Genoa | Udinese 1 vs 0 Lecce | Hellas Verona 2 vs 1 Venezia | Napoli 3 vs 1 Como European Championships Qualifying: West Bromwich Albion 0 vs 0 Millwall FC | Watford 2 vs 1 Middlesbrough | Swansea City 0 vs 0 Stoke City | Sheffield United 2 vs 0 Luton Town | Plymouth Argyle 2 vs 1 Blackburn Rovers | Derby County 2 vs 0 Queens Park Rangers | Coventry City 1 vs 2 Sheffield Wednesday | Portsmouth 1 vs 1 Oxford United | Norwich City 4 vs 0 Hull City | Burnley 0 vs 0 Preston North End | Sunderland 2 vs 2 Leeds United English Championship: West Bromwich Albion 0 vs 0 Millwall FC | Watford 2 vs 1 Middlesbrough | Swansea City 0 vs 0 Stoke City | Sheffield United 2 vs 0 Luton Town | Plymouth Argyle 2 vs 1 Blackburn Rovers | Derby County 2 vs 0 Queens Park Rangers | Coventry City 1 vs 2 Sheffield Wednesday | Portsmouth 1 vs 1 Oxford United | Norwich City 4 vs 0 Hull City | Burnley 0 vs 0 Preston North End | Sunderland 2 vs 2 Leeds United Loading... Currency: GBP to NAD 22.88 | EUR to NAD 19.17 | CNY to NAD 2.49 | USD to NAD 17.48 | DZD to NAD 0.13 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.28 | EGP to NAD 0.35 | KES to NAD 0.13 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.65 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.19 | RUB to NAD 0.18 | INR to NAD 0.21 | USD to DZD 132.61 | USD to AOA 910 | USD to BWP 13.21 | USD to EGP 48.29 | USD to KES 128.5 | USD to NGN 1656.86 | USD to ZAR 17.48 | USD to ZMW 26.4 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index Same 0 | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1868.17 Down -0.05% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 14167.03 Up +0.09% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 31720.5 Up +1.24% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI 9661.12 Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 653.84/OZ DOWN -0.0008 | Copper US$ 4.54/lb UP +0.38% | Zinc US$ 3 189.00/T DOWN -0.06% | Brent Crude Oil US$ 78.66/BBP UP +0.23% | Platinum US$ 988.89/OZ DOWN -0.0035 Loading...