Kajak-avontuur op die Oranje
Twee Namibiese jong mans het 61 dae en 2 055 km op die Oranjerivier geroei om navorsing te doen.
Francoise Steynberg - Twee jong avontuurlustige Namibiese studente het 'n avontuur van 'n leeftyd ervaar toe hulle in kajakke 2 055 km van Lesotho af tot by die Atlantiese Oseaan in 61 dae die Oranjerivier deurkruis het.
Zan le Roux (21) en die 20-jarige Peter Cunningham het op 23 Januarie oorwinning gesmaak toe hulle uiteindelik ná twee maande veilig by Oranjemund aangekom het.
Die twee Namibiërs het met hul kruisvaart op 24 November in Lesotho weggespring, en vir die eerste tien dae het drie Zimbabwiese vriende, Daniel Pascoe, Guy Musto en Harry Randell, en ’n Keniaanse vriend, Thomas McGregor Vos, ook saam met hulle tot by Aliwal-Noord geroei.
Al vyf is studente aan die Universiteit Stellenbosch en lede van die Stellenbosch-kanoeklub.
Daarna was die twee Namibiërs - ook beste vriende en klasmaats - op hul eie. Zan en Peter, albei oudleerlinge van St. Paul's College in Windhoek, het verlede jaar hul tweede jaar in BSc bewaringsekologie en entomologie voltooi.
Zan, 'n Windhoeker, is die breinkind en spanleier van hierdie avontuur op die Oranj. Hy is hartstogtelik oor die natuur en veral rivier-ekostelsels.
Peter is van die suide van Namibië en sy passies is ook die natuur - veral voëlkyk - en avontuursport soos bergklim en perdry.
Zan het vandeesweek by Republikein kom kuier en vertel van hul riviervaart.
INSPIRASIE
Zan sê sy inpirasie oor die rivieravontuur spruit uit die boeke Stroom af in my Kano deur Willem Van Riet en Borderline deur William Dicey wat hy gelees het.
"Om die Oranjerivier te roei, was nog altyd 'n onderwerp van my dagdrome. Dit volg nadat ek 'n paar vakansies as 'n assistentgids op die rivier gewerk het," vertel Zan.
"Die ongelooflike natuurskoon, tesame met die vryheid om alles in 'n boot te pak en in die rivier af te vaar, is verslawend."
Zan het navorsing oor die rivier gedoen ná die SENQU2SEA-span van die Universiteit van Kaapstad in 2013 data oor die rivier vir navorsers ingesamel het. Hy het dié span gekontak en met die verskeie navorsers gesels om ook data in te samel "met die hoop om die Oranjerivier te verstaan".
Die doelwit van die avontuur was dus navorsing vir watergesondheid in die Oranjerivier en hulle het deurentyd watermonsters geneem.
"Ons het veral gekyk na diversiteit van organismes wat die gesondheid van die rivier bepaal. Ons het elke keer wat 'n rivier, soos die Vaal, Caledon of Kraai, in die Oranje invloei monsters geneem."
Hulle was soms verras: "Alhoewel die water by tye vuil was, soos net bo Upington, wat die grootste dorp op die Oranje is, was daar tog ‘n groot diversiteit van plante, voëls en visse."
Hul hoop is dat die ekspedisie tot die bewaring van die Oranjerivier kan bydra wat toenemende druk in die gesig staar met bevolkings en landboubedrywe wat op die oewers toeneem.
"Die vars water wat deur die rivier vloei, is nie net noodsaaklik vir die ekologie van die landskap nie, maar steun ook die lewensbestaan van duisende mense wat langs die Oranje woon," verduidelik Zan.
Om volledige data oor die rivier in te samel, hoop hulle dat oorgrensbestuur van die rivier op 'n volhoubare en ekonomies-volhoubare manier sal plaasvind.
BEPLANNING
Zan sê deeglike beplanning moes vir hul reis gedoen word, veral wat om saam te neem en wat nie.
Op hul lys was kajakke, roeispane, asook spaarroeispane, 'n tent, slaapsakke, klere, noodhulp- en hersteltoerusting, 'n klein spiritusstofie, twee klein potjies en 'n rooster.
"Ons het net in Lesotho in die tent geslaap omdat dit koud was. Later het ons onder die sterre geslaap."
Hulle moes versigtig wees vir sonbrand op die rivier en moes deurentyd langmouhemde, hoede, sonbrille en sonskerm dra.
Vir ontbyt het hulle ProNutro-pap en poeiermelk gehad, vir middagete gewoonlik blikkies sardientjies en energiestafies, en saans rys en lensies.
"Verder het ons het in die rivier visgevang en die vis op die rooster gebraai. Ons het elke tien dae wanneer ons in 'n dorpie kom, ons voorraad aangevul. Een pas die boot op en die ander een gaan dorp toe om voorraad aan te koop," vertel Zan.
UITDAGINGS
Zan sê die grootste uitdaging was die lae riviervlakke van die Oranje van Lesotho af tot by die Gariepdam.
"Ons moes in baie dele uit die rivier klim, ons kajakke uitsleep en loop. By die Gariep- en Vanderkloofdam moes ons die kajakke om die damwalle dra."
Hy sê soms was die wind van voor af baie sterk en die rivierversnellings was lekker, maar soms gevaarlik.
"Ons lewe was nooit werklik in gevaar nie, behalwe soms met die rivierversnellings, maar ons was altyd in beheer en veilig."
Hulle het ook 'n volledige lys gemaak van die biodiversiteit van die rivier en baie soogdiere, voëls, visse en plante aangeteken.
"Ons is saans soms deur skerpioene by die vuur verras en die muskiete was baie langs die rivier," het Zan gesê.
HOOGTEPUNTE
Vir Zan was die hoogtepunte die natuurskoon en die leefstyl wat hulle op die rivier aangeneem het.
"Dit is 'n lekker om in 'n ruimte te wees saam met mense van wie jy hou. Die kameraadskap tussen my en Peter was ongelooflik op die rivier en ons was verantwoordelik vir mekaar se geluk."
"As Peter kwaad is, weet ek dit kan net ek wees wat hom kwaad gemaak het, en andersom."
Die bergkoninkryk Lesotho was ook vir hulle 'n aangename belewenis met "baie vriendelike en nuuskierige mense wat langs die rivier bly en 'n lewe uit bestaansboerdery maak".
Die skof van Noordoewer tot by die Atlantiese Oseaan "het in 'n oogwink verbygegaan" en het vir groot opwinding gesorg.
"Vanaf Sendelingsdrift was ons in die diamantkonsessiegebied en ons het gehoor owerhede skiet peperspreiballe en rubberkoeëls uit helikopters.
"Met dit in gedagte het ons versigtig aangeroei en toe vlieg 'n weermaghelikopter net 'n paar meter bo-oor ons koppe. Peter het onder 'n rots weggekruip en ek het gewag vir die brand van die pepersproeiballe op my vel."
By die grenspos tussen Oranjemund en Alexanderbaai, sowat 8 km van die see, het hulle besluit om 'n middagslapie te geniet.
"Ons het ons kajakke in die riete vir die grenspolisie probeer wegsteek, maar toe ons wakker word, was polisiebeamptes besig om foto's van ons kajakke te neem en dit te deursoek.
"Ná 'n paar spannende oomblikke en grappies wat nie goed ontvang is nie, is ons terug in Namibiese gebied verwelkom en ons besonderhede is neergeskryf. Buiten dit, het ons paaie nie weer met die owerhede gekruis nie."
Op Zan en Peter se laaste dag is hulle by Oranjemund deur gemsbokke en volstruise verwelkom. Hulle het hul lang reis met 'n swem in die yskoue Atlantiese Oseaan afgesluit.
Zan sê dit was 'n onvergeetlike belewenis en hy het net mooi herinneringe, "maar my volgende vakansie wil ek graag saam met my gesin by die see geniet".
Zan het pragfoto's met sy selfoon geneem en dit na sy huismaat, Gavin Keeley, via WhatsApp gestuur wat sy blog ontwerp en op datum gehou het.
Besoek gerus Orange Escape - Source to Sea Kayaking Expedition on The Orange River, by https://orangeexpedition.wordpress.com/

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie