Kalahariwoestyn-slagoffer se lyk op lorrie

’n Teenmisdaadveldtog is opnuut in die spervuur.
Denver Kisting
Denver Kisting – Talle Namibiërs is woedend omdat mnr. Fambauone Black (22) se oorskot die afgelope Saterdag agter op ’n lorrie terug Zimbabwe toe vervoer is.

Die Namibiese regering – veral Operasie Kalahariwoestyn – loop deur onder kritiek in die sosiale media oor die gebrek aan waardigheid waarmee Black bejeën is.

Hy het voorverlede Donderdagoggend in Windhoek gesterf, glo aan die hand van kpl. Gerson Nakale (38), ’n lid van die Namibiese weermag (NDF).

Nakale was deel van die teenmisdaadveldtog wat ’n padblokkade in Katutura beman het.

Me. Rejoice Marowa, ’n semifinalis in vanjaar se Mej. Namibië-wedstryd, beskryf die manier waarop Black se oorskot vervoer is as onmenslik.

“Hoe is dit moontlik om iemand koelbloedig om die lewe te bring en sy liggaam in ’n boks agter op ’n sleepwa met openbare vervoer huis toe te neem? Die regering moet besef Namibiërs werk en studeer ook in ander lande en dit is nie hoe ons wil hê ons mense behandel moet word asof hulle nie waarde het nie.”

Die komediant Tapiwa Makaza het ook in die sosiale media teen dié voorval uitgevaar.

Me. Anna Nicodemus, ’n bekende in mediakringe, sê op Facebook by ’n foto van die liggaam agter op die lorrie: “Ek het so baie om hieroor te sê, maar ek is skaam vir myself, my mense en my land.”

’n Vriend van Black, wat ook onder sy vriende as Charlie bekend gestaan het, het gister bevestig die oorskot het veilig in Zimbabwe aangekom.

Volgens die vriend sou die begrafnis reeds gister plaasgevind het.

Verlede week het die vriend nog by navraag gesê hulle sukkel om genoeg geld bymekaar geskraap te kry om Black se oorskot terug na sy vaderland te neem.

Dié man het verlede week erken hy – nes Black ten tyde van sy dood – is onwettig in Namibië. Sy identiteit word derhalwe weerhou.

Adj.komm. Abner Agas, koördineerder van misdaadondersoeke in die Khomasstreek, sê by navraag Nakale was deel van ’n groot span weermag- en polisielede by die padblokkade in Katutura.

Hy wou nie bespiegel of dit ’n waarskuwingskoot was wat skeefgeloop het nie.

Nakale is ná die voorval in hegtenis geneem en moet weer op 15 Oktober vanjaar in die Windhoek-landdroshof in Katutura op aanklag van moord verskyn.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!