Kalender 22 Maart

Lloyd Zandberg
Nou aan die gang

» Kosie Beukes, Die Ventertjies, Heidi en Pieter Mohr is tans op ’n Namibiese toer en tree vanaand by die Duitse klub op Otavi op. Heidi is ’n energieke vrou wat die lewe omarm en voluit leef. Haar debuutalbum, Wat ‘n Hart laat Lag, is die klankbaan van haar lewenslus en omgee-persoonlikheid. Pieter Mohr is ’n gevestigde Kaapse countrysanger. Hoewel Pieter in die Kaap gevestig is, toer hy al die afgelope 10 jaar oraloor Afrika. Hy is bekend vir sy uitstekende weergawes van bekende countrytreffers, asook vir sy energieke optredes. Die Ventertjies, boeremusiek se lieflingsussies Nicola en Lindie-Lee, is gou besig om hulself diep in mense se harte in te speel. Dis beslis ’n belewenis om dié twee in aksie te sien. Kosie Beukes, ’n leerling aan die Laerskool Witfield, het op die ouderdom van vier al kitaar begin speel en reeds op die ouderdom van vyf jaar begin konsertina speel. Boeremusiek lê hom baie na aan die hart en hy kan nie wag om sy talent met mense te deel nie. Kaartjies kan by die deur teen N$160 vir volwassenes en N$60 vir kinders gekoop word. Die deure maak om 18:00 oop en die show begin om 20:00. Kontantkroeg beskikbaar.

» Jojo’s Music and Arts Café bied vanaand en môreaand ’n kapanafees aan. Jojo’s Music and Arts Café is in die ou brouerykompleks geleë en het ’n heerlike atmosfeer – ideaal vir jou en jou vriende ná ’n lang week se harde werk. Die fees begin om 15:00 en duur tot 24:00. Toegang is gratis, maar jy moet jou eie kapana koop.

» Shalom op Swakopmund bied môre om 09:00 hul Onafhanklikheidsvieringe aan. Onder meer ’n goederemark, kunsuitstalling, Marimba-groep en ’n vertoning van die gewilde fliek Black Panther. Besoek whatsonnamibia.com vir meer inligting.

» Windhoek se Buitekluboord en Kasino bied vanaand en môreaand ’n seekos-buffet vir seekosliefhebbers aan. Die buffet kos N$345 per persoon en sluit alle kos in. Eet soveel as wat jy kan. Kontak die Buitekluboord vir besprekings en navrae.

» Die Stephanus-kerk by Kenneth Kaundastraat 3, in Klein Windhoek, bied elke Saterdag van 08:00 tot 12:00 ’n biomark aan. Alle produkte wat by die mark verkoop word, is tuisgemaak of plaaslik gekweek.

Maandag

» Showcase Namibia is 'n geleentheid vir toeriste en Namibiërs om tradisionele danse en plaaslike musiek saam te geniet. Dis ’n gereelde instelling by die Warehouse-teater en word elke Dinsdag aangebied. Toeriste word aangemoedig om deel te raak van ’n interaktiewe show van 45 minute. Kaartjies is teen N$170 by die deur beskikbaar. Dit begin om 16:15. Vir meer inligting, besoek die Warehouse-teater se Facebook-blad.

» Die Kunsvereniging op Swakopmund bied Symphony of Colours aan. Dié groepuitstalling open môreoggend by die Woermannhaus-galery. Ondersteun plaaslike kunstenaars en waardeer hul wonderlike, oorspronklike kuns.

Dinsdag

» Creations is ’n uitstalling van die werk van Namibiese kunstenaars ter viering van 29 jaar van onafhanklikheid. Die projek beoog om kunstenaars uit verskillende agtergronde byeen te bring. Van die tradisionele kuns tot hedendaagse werk word uitgestal. Die doel is om ’n wye verskeidenheid dissiplines ’n platform te bied waardeur kunstenaars bande met mekaar kan smee. Creations is tot 3 Mei by die Nasionale Kunsgalery van Namibië (NAGN) te sien.

» Dinsdag is karaoke-aand by die Boiler Room by die Warehouse-teater. Dit begin om 20:00 en hou tot laataand aan. Toegang is gratis. Drankies is by die kroeg en etes by die restaurant beskikbaar.

» Fotografiedosent Djunior Svane bied werkwinkels in digitale fotografie vir beginner- en gevorderde studente aan. Vir meer inligting, skakel Djunior by 081 245 2279.

Woensdag

» Drum Café Namibia, in samewerking met Joe's Beerhouse, bied elke Woensdag van 18:00 tot 19:00 ’n openbare dromslaansessie in die boma by Joe’s aan. Almal is welkom. ’n Beperkte aantal djembe-dromme word voorsien, maar entoesiastiese dromslaners word aangemoedig om hul eie dromme saam te bring. Die sessies is gratis, maar skenkings is welkom.



Donderdag

Die Jazz Etcetera-geleenthede by die Hilton se Kalabar vind elke Donderdag tussen 19:00 en 21:30 plaas en toegang is gratis. Almal is welkom.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!