Kalender 27 Julie

Lloyd Zandberg
Nou aan die gang

» Die Kersfees in Julie-uitstalling open vandag by die Omba-galery. Dit word deur die !Ikhoba Textiles Farm-projek met die tema “Treasuring memories” aangebied. Produkte sluit in geborduurde Amarula-kussings, muurhorlosies wat met Smarties versier is, krale, sleutelringe en appliek-kussings vir troeteldierliefhebbers, asook ’n klein versameling babaklere en bybehore. Die uitstallings duur tot 31 Julie en toegang is gratis.

» Formula Band is ’n samesmelting van Noord-Namibiese en Suid-Angolese tradisies en kulture, en word gelei deur Tulonga Wahengo. Hulle het hul reis in 2005 onder die Shambo-genre begin. Die groep se repertoire strek veel verder as hiérdie trotse erfenis. Formula Band het al met kunstenaars uit die Kongo, Zimbabwe, Frankryk, Soedan, Burkina Faso, Réunion en Angola saamgewerk. Hulle het ook al by die Awesome Festival in Durban en die Harare Internasionale Kunstefees opgetree. Met twee albums op die mark, Shaa Mboka Rock (2006) en Melofrica (2016), is hul shows altyd dinamies en professioneel. Die Franko-Namibiese Kultuursentrum (FNCC) se Acoustic Fridays is immergewild en die Formula Band tree vanaand daar op. Hulle deel die verhoog met die opkomende reggae-kunstenaar Ras Ronaldo. Kaartjies kos N$70 by die deur en die show begin om 19:00. Vir meer inligting, besoek die FNCC se Facebook-blad.

» Die eerste eg Namibiese Kunstefees skop vandag amptelik by die Goethe-Institut af. Dit is 'n tweejaarlikse kunstefees wat daarop gemik is om vir plaaslike kunstenaars 'n platform te bied om hul kuns te adverteer en te verkoop. Hekke maak 10:00 oop en toegang beloop N$40. Kaartjies is by die deur te koop.

» Die Cosdef-kunssentrum op Swakopmund bied môre ’n gesinsfees aan. Die fees bied kinderaktiwiteite, musiek en allerlei handgemaakte kuns, tuisgemaakte produkte en juweliersware te koop aan. Deure open om 10:00 en toegang is gratis.

» Die jaarlikse FNB Whiskey-fees is môreaand by die Windhoek Buitekluboord en Kasino. Besoekers sal die geleentheid kry om 'n wye verskeidenheid van die wêreld se beste whiskeys te proe en meer daaroor uit te vind. Dit sluit onder meer vervaardigers soos Chivas Regal, Jameson, The Glenlivet en Johnnie Walker in. Die toegangsprys sluit 15 proebewyse, ’n proeglas, 500 ml water en 'n afslagbewys wat by die feeswinkel gebruik kan word, in. Leefstyl-venues sal ook vermaak by die fees bied. Kaartjies is by die deur en Computicket beskikbaar. Vir meer inligting, besoek whatsonnamibia.com/events.

» Sluit môre by die maandelikse Sondagmark by die Groen-sentrum op Swakopmund aan. Dié lewendige gemeenskaps- en gesinsmark vind elke laaste Sondag van die maand plaas. Dit is die perfekte buiteluggeleentheid en verskaf pret en vermaak vir die hele gesin. Alles van kuns, handgemaakte geskenke, tweedehandse items, kos en ligte drankies tot lekkernye is beskikbaar. Besoek dié mark ??tussen 09:00 en 13:00 by Libertina Amathilastraat 5. Die ingang is oorkant die A La Mer-gastehuis langs die slangpark. Vir meer inligting, kontak Bea by 081 69 29 072.

» Die Stephanus-kerk in Kenneth Kaundastraat 3, in Klein Windhoek, bied elke Saterdag van 08:00 tot 12:00 ’n biomark aan. Alle produkte wat by die mark verkoop word, is tuisgemaak en plaaslik gekweek.

Maandag

» Die Nasionale Kunsgalery (NAGN) bied Made, Unmade aan. Hierdie uitstalling bestaan uit kunswerke van die Britse kunstenaar Julie Brook en is tot 28 Julie in die NAGN se laer galery te sien. Julie het 25 jaar lank tussen onbewoonde en afgeleë landskappe in Noordwes-Skotland rondgetrek, geleef en geskep. Julie studeer aan Oxford-universiteit se Ruskin-skool vir teken en kuns. Baie van haar werk is tydelik en gemaak uit dít waaruit die landskap bestaan. Julie maak gebruik van film en fotografie. In September 2017 het sy 'n navorsings- en ontwikkelingstoekenning van Creative Scotland ontvang. Vir meer inligting, besoek:www.juliebrook.com.

» Die FNCC bied ’n uitstalling deur Annie Olivier aan. Annie is 'n plaasmeisie van die Kalahari en het haar kunsopleiding aan die Katutura Community Art-sentrum voltooi. Later het sy haar diploma in beeldende kunste aan die Ruth Prowse-kunsskool in Kaapstad voltooi. Sy maak gebruik van ultravioletlig in haar werk, wat die kyker ’n gevoel van ruimte gee. Die uitstalling is tans aan die gang en duur tot 7 Augustus. Toegang is gratis. Vir meer inligting, besoek die FNCC se Facebook-blad.

Dinsdag

» Die Windhoek Woordfees skop vandag amptelik af. Met talle musiekvertonings, boekbesprekings, digkuns en vele meer is dit die ideale geleentheid vir dié wat vir Afrikaans lief is om dit te vier. Besoek die www.windhoekwoordfees.com vir optreedatums en -tye.

» Sakeus Nghitungumbala, 'n menslike hulpbronnebestuurstudent aan die Universiteit van Namibië (Unam), gebruik sy insig oor die mensdom om illustrasies van "swartmeisiemagies" met Adobe Photoshop te doen. Sy werk verteenwoordig "jong, swart meisies" en hy betoon daardeur eer aan dié vroue. Die uitstalling open vandag om 17:30 by die FNCC en toegang is gratis.

» Dinsdag is karaoke-aand by die Boiler Room by die Warehouse-teater. Dit begin om 20:00 en hou tot laataand aan. Toegang is gratis. Drankies is by die kroeg en etes by die restaurant beskikbaar.

» Fotografiedosent Djunior Svane bied werkwinkels in digitale fotografie vir beginner- en gevorderde studente aan. Vir meer inligting, skakel Djunior by 081 245 2279.

Woensdag

» Drum Café Namibia, in samewerking met Joe's Beerhouse, bied elke Woensdag van 18:00 tot 19:00 ’n openbare tromslaansessie in die boma by Joe’s aan. Almal is welkom. ’n Beperkte aantal djembe-tromme word voorsien, maar entoesiastiese tromslaners word aangemoedig om hul eie tromme saam te bring. Die sessies is gratis, maar skenkings is welkom.

Donderdag

» Die Jazz Etcetera-geleenthede by die Hilton se Kalabar vind elke Donderdag tussen 19:00 en 21:30 plaas en toegang is gratis. Almal is welkom.

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!