Kalender 31 Januarie

Lloyd Zandberg
Nou aan die gang

» Camões Namibië se registrasies vir Portugese-klasse is tans oop. Begin die jaar op ‘n hoë noot met die aanleer van ‘n nuwe taal. Registrasie sluit vandag, so moenie sloer nie. Klasse skop die eerste week in Februarie af. Vir meer inligting besoek hul webtuiste of www.whatsonnamibia.com.na/events

» Forever Dance Academy bied vanaand die eerste Kizomba-sosialeaand vir vanjaar aan. Die dansgeleentheid sal onder meer uit Latina, pop, Afro-huis en funk bestaan. Die tema van die aand is, African Attire, en belangstellendes word aangemoedig om volgens die tema aan te trek. Dit vind by die National Independence Memorial Museum (NIMMS) se restaurant in die hoofstad plaas. Deure open om 19:30 en kaartjies kan by die deur vir N$50 gekoop word. Vir meer inligting besoek hul Facebook-blad.

» Afrikaanse modernisme - Die Argitektuur van Onafhanklikheid, is ‘n fotografie-uitstalling deur Iwan Baan and Alexia Webste, wat handel oor voor- en post-koloniale argitektuur in Afrika suid van die Sahara ná onafhanklikheid in die laat 1950's en vroeë 1960's. Dié uitstalling word deur die Goethe-Institut na Namibië gebring en word in die Nasionale Kunsgalery van Namibië (NAGN) gehuisves. Die uitstalling is tans oop en kan tot 27 Februarie besoek word. Toegang is gratis.

» Radio Raps, met sy eenmanvertoning Lang Storie kort, tree vanaand by die Windhoek Buitekluboord op. Die show begin om 20:00 en kaartjies kan aanlyn by Webtickets teen N$170 gekoop word. Die deure maak reeds 18:00 oop. Vir meer inligting besoek whatsonnamibia.com.na/events

» Die immer gewilde boeremark is weer in volle stoom aan die gang en die eerste weergawe van die trekpleister vind môreoggend by die Windhoek-skougronde plaas. Die lekkerste tuisgemaakte kosse, varsgebak en ander allerlei produkte is beskikbaar. Vir meer inligting kontak gerus vir Esmé op 081 277 8466 of stuur ‘n e-pos na [email protected]

» Die onbesonge held van Afrika-musiek Abrei Woki en sy jarelange Kalahari Band, tree môreaand vir die eerste keer in jare by die Kalahari Coffee & Jazz Café in Windhoek op. Woki, wat in die dorp Tsamaya gebore is, is een van Botswana se beste baskitaarspelers en sangers. Woki was vir 30 jaar 'n baskitaarspeler vir Hugh Masekela, Dudu Pukwana, The South African Gospel Singers, Township Express, Lucky Ranku en Pinise Saul. Woki het sy lewe aan musiek vir Afrika, die wêreld en ander internasionale musikante, soos Peter Gabriel, Winston Mankunkun en Paul Weller toegewy. Die vertoning begin om 20:00. Toegang is N$80 by die deur.

.

» Die Stephanus-kerk by Kenneth Kaundastraat 3 in Klein Windhoek bied elke Saterdag van 08:00 tot 12:00 ’n biomark aan. Alle produkte wat by die mark verkoop word, is tuisgemaak of plaaslik gekweek.

Maandag

» Die Woermannhaus-galery op Swakopmund bied tans ‘n opwindende kunsuitstalling aan. Beloved land of savannahs bestaan uit ‘n versameling kunswerke, onder meer landskappe, grafiese werke, fotografie en ander allerlei genres. Van die werke wat ten toon gestel word, is te koop. Die uitstalling is tot 19 Februarie oop en die galery kan Maandag tot Vrydag van 10:00 – 12:00 en weer 15:00 tot 17:00 besoek word. Vir meer inligting besoek whatsonnamibia.com.na/events

Dinsdag

» Fotografiedosent Djunior Svane bied werkwinkels in digitale fotografie vir beginner- en gevorderde studente aan. Vir meer inligting, skakel Djunior by 081 245 2279.

Woensdag

» Drum Café Namibia, in samewerking met Joe's Beerhouse, bied elke Woensdag van 18:00 tot 19:00 ’n openbare tromslaansessie in die boma by Joe’s aan. Almal is welkom. ’n Beperkte aantal djembe-tromme word voorsien, maar entoesiastiese tromslaners word aangemoedig om hul eie tromme saam te bring. Die sessies is gratis, maar skenkings is welkom.

Donderdag

» Die Jazz Etcetera-geleenthede by die Hilton se Kalabar vind elke Donderdag tussen 19:00 en 21:30 plaas en toegang is gratis. Almal is welkom.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer