Kameeta onthul bloudruk vir armoede-uitwissing
Kameeta onthul bloudruk vir armoede-uitwissing

Kameeta onthul bloudruk vir armoede-uitwissing

Die bloudruk vir welvaartverspreiding en armoede-uitwissing is gister in die Nasionale Vergadering bekend gestel.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Die minister van armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn, biskop emiritus Zephania Kameeta, beskuldig Namibiërs van "verstandelike wanvoeding".

Hy sê dit "word veroorsaak deur voortdurend negatief te wees en te weier om te sien dat enige iets goeds ooit in hierdie mooi land, Namibië, gebeur".

Volgens Kameeta vind belangrike gebeurtenisse nie noodwendig met harde geraas en uitroepe van oorwinning plaas nie.

Hy het met die motivering van die bloudruk vir welvaartverspreiding en armoede-uitwissing in die Nasionale Vergadering Woensdag gesê heelwat vordering is reeds gemaak met planne om armoede uit te wis.

Hy het ook kennis geneem van "ongunstige verklarings, opmerkings en sentimente, binne en buite hierdie Huis teen die totstandkoming van die ministerie". Kameeta het ook strategiese prioriteitskwessies geïdentifiseer wat ingevolge die bloudruk geïmplementeer gaan word.

Dit sluit in die versterking van maatskaplike beskermingstelsels; die beëindiging van hongersnood; toegang tot basiese maatskaplike dienste; onderwys, opleiding en die ontwikkeling van vaardighede; werkskepping asook geslagsgelykheid en die bemagtiging van vroue.

Kameeta het daarop gewys dat die voorstelle en menings van Namibiërs tussen September en Oktober 2015 landswyd ingewin is ter voorbereiding van die opstel van die bloudruk.

"Die beweegrede vir die bloudruk is om die menseregte van die armes en die weerloses te handhaaf deur te verseker dat in hul basiese behoeftes voorsien word, en sodat hulle voorspoed kan ervaar, net soos enige ander burger van die land.

“Die oogmerk van die bloudruk is om 'n grondslag te lê sodat almal voorspoed kan bereik deur die implementering van maatreëls wat armoede sal uitwis en ongelykheid sal verminder. Ook het dit ten doel om Namibië 'n globale vennoot in die implementering van die Verenigde Nasies se doelwitte vir volhoubare ontwikkeling te maak, veral om hongersnood en armoede te beëindig op die grondslag van inklusiewe ekonomiese groei en menslike ontwikkeling," het Kameeta gesê.

Die implementering sal oor drie jaar plaasvind en tot 2019/2020 geïmplementeer word. Landswye slypskole sal gehou word oor die inhoud van die bloudruk en die implementeringsplan, en op 2 Oktober in die Zambezistreek begin.

KASSIE:

Mikpunte wat in die bloudruk vervat is, is onder meer:

Teen vanjaar reeds moet beleidsmeganismes ingestel word wat bejaardes se munisipale skuld en kwessies van regsoordragte raak.

Teen 2018 moet 'n noodbystand-ondersteuningsfonds tot stand gebring word.

Teen 2019 moet almal wat geregtig is op maatskaplike bystand, oor die vereiste nasionale identifikasiedokumente beskik om voordeel uit maatskaplike veiligheidsnetprogramme te trek.

Teen 2020 moet:

'n Nuwe skema gemik op die armes en weerloses wat uitgesluit is van bestaande skemas, ingestel wees;

'n ten volle funksionele maatskaplike beskermingstelsel ingestel wees;

die voedsel- en voedingswaardeveiligheid vir die armes en weerloses landswyd verbeter het;

alle skole en gesondheidsinstansies toegang tot elektrisiteit hê;

bekostigbare behuising vir armes en weerloses in alle streke operasioneel wees;

alle Namibiërs toegang tot primêre gesondheidsorg hê;

werkskepping deur die ontwikkeling van klein- en medium sakeondernemings 10 000 nuwe werksgeleenthede geskep het.

Teen 2025 moet die voorsiening van veilige drinkwater vir menslike gebruik van 87% tot 90% verbeter het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!